Gedagte vir die dag: Natuurlike gebed  

Vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. (Genesis 1:31)

Wanneer ’n mens jou in God se skepping bevind, voel jy nader aan Hom. Vir party is dit veral waar wanneer hulle in die Bosveld is. Vir ander by die see. Vir sommiges in die woestyn, vir nog ander in die bos.

Ons kan egter nie almal altyd by ons mees geliefde natuurplekke wees nie. Hier is ’n paar idees vir ’n tydjie saam met God, selfs al is dit nie in die natuur nie.

  1. Begin deur Hom te vra om jou te seën in hierdie gebedstyd, dat al jou sintuie oop sal wees vir die wonders van God se skepping.
  2. Kyk bewustelik na al die komplekse dinge wat God gemaak het. Die kleure van die lug, water, bome – kyk na die verskeidenheid vorms van bome, blare, teksture. Hou ’n miertjie dop, of ’n voël, of jou troeteldier.
  3. Luister! (Dit help soms om jou oë toe te maak). Met ’n bietjie konsentrasie hoor jy verskillende voëls bo die stadsgeraas. Luister na mense se veraf-stemme – dalk kinders wat speel. Kyk of jy die wind kan hoor … of dalk stilte.
  4. Trek jou skoene uit en voel hoe kielie die gras jou voete. Tel ’n klippie op en voel sy tekstuur, sy gewig. Voel ’n blaar; voel die son op jou gesig.
  5. Konsentreer om verskillende reuke te onderskei. Dalk is daar blomme in jou huis of tuin wat jy kan ruik. Dalk het jou tuinsproeiers gesorg vir ’n heerlike nat-grond-reuk.
  6. En dan is daar nog die wonder van proe. Wat van ’n maaltyd in afsondering, waar jy tydsaam kan kou en seker maak dat jy elke smaak en geur geniet? Maak seker dat jy die verskillende teksture van die kos onderskei en geniet.

Vader, dankie vir die gawe van sintuie, vir die ervarings wat U vir my geskep het, en dat ek dit mag geniet. Ek loof U! Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agie ·

AMEN.
Vanoggend op die stoep na die bontkiewiet sit en kyk. Twee kwikkies met ‘n groot kuiken wat heeltyd kos bedel. Groepie volstruise. Groot kuiken kan nog nie duidelik onderskei word of dit mannetjie of wyfie is nie. Jong kuikens bly uit die ander se pad. Gevaarlike diere. Verskillende duiwe se besondere lied. Ja, alles is die wonder van God se liefde. Bevoorreg?

Von ·

Wow wat n voorreg om kind van God te wees en te geniet wat Hy vir ons gee…verniet

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.