Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee … (1 Samuel 17:45-46)
Ek veronderstel Dawid, ook maar mens, was baie benoud toe hy hierdie brawe woorde vir die grote Goliat gesê het. Hierdie konfrontasie tussen ’n deurwinterde krygsman en ’n ongeoefende skaapwagter is ’n absolute demonstrasie van die grootsheid van God wat die geringste persoon tot sy eer kan gebruik. Miskien het jy al in sekere situasies onbekwaam of geïntimideer gevoel – Dawid se verhaal is genoeg om ons elkeen moed te gee wanneer ons onbevoeg of hopeloos voel. Dit beklemtoon dat ons krag nie in onsself lê nie, maar in God.
Die welbekende verhaal van Dawid en Goliat herinner my aan ’n storie wat ’n paar jaar gelede baie vir my beteken het in ’n tyd toe ek moedeloos was en uiters onbekwaam gevoel het wat my loopbaan betref. Dit vertel van ’n tengerige seuntjie wat gedurig by die skool afgeknou is. Hy het later met geboë skouers en moedverlore skool toe gegaan. Op ’n dag het hy egter vol bravade by die skool aangekom, sy krom skouertjies regop getrek. Waarom? ’n Meter of wat agter hom het sy fris ouboet gestap. Niemand sal vandag met hom skoorsoek nie, het hy met sekerheid geweet. Hy hoef ook geensins geïntimideer, benoud of onbekwaam te voel nie.
Besef jy dat jy ook ’n ouboet het? Ons is kinders van God en daarom is Jesus ons ouer Broer. Ek en jy is Koningskinders en hoef nooit met geboë skouers te loop of onbekwaam of geïntimideer te voel nie.
Dié staaltjie het my opnuut laat besef God gee nie vir mense geleenthede as Hy jou nie toerus daarvoor nie. Soos Dawid kom ons in die Naam van die Here. Staan sterk in God, Hy rus jou toe, jy hoef nie op jou eie vermoëns en kragvertonings staat te maak nie.
Amen, baie dankie ek het dit baie nodig gehad xxx
Dankie vir ‘n pragtige boodskap en dat ons vir seker weet Jesus hoe Sy hand oor Sy kinders soos ons eie Broer.
Amen.
Baie dankie vir hierdie besielende woorde! Sal dit deurgee vir my kleindogter wat vandag haar matriekjaar begin.
Dankie dat ek ook ‘n Koningskind is.
Dis wonderlik om te weet ons God slaap nie, en dat hy altyd by ons in die Gees teenwoordig is.
Hoe wonderlik is dit om te weet ons God slaap nie, en dat Hy altyd by ons teenwoordig is deur sy Gees.
Baie dankie om terug “geruk” te word en te besef …uit eie krag en vermoe is dinge nie moontlik nie.
Baie dankie. Dit is n voorreg om die Here te ken. En te weet Hy is altyd daar vir ons. Amen