Gedagte vir die dag: Onverganklik

riet_veld_gras_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom. Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal. (Psalm 103:17-19)

Dit het alles binne slegs twee dae gebeur: Een van my man se honde, die sterk een wat al jare lank sy maat was, is ná ’n bosluisbyt dood. Bure verder af in die straat se huis brand tot op die grond toe af. ’n Vriend sterf ’n week voor sy 27ste verjaardag.

Ek dink aan almal se verlies, aan die verskriklike seer wat in hul hart leef. Ook mý hart is seer, maar dis sekerlik net ’n fraksie van die soort pyn wat die betrokkenes voel.

In hierdie tyd wonder ek: Hoe kán daar soveel verlies in hierdie wêreld wees? Hoekom word dinge, diere, mense, so vinnig van ons af weggeruk? En so onverwags …

Waarom kan die dinge wat goed is nie maar net aanhou en aanhou nie? En die swaar, hartseer dinge nie sommer vinnig verdwyn nie?

Soms (dikwels?) kom daar geen bevredigende antwoord op hierdie vrae nie. Geen verduideliking of antwoord kan in elk geval daardie hartseer wegneem nie.

Die kenners sê wel dat dankbaarheid ’n buffer vorm teen die lewe se ergste seer.

Boonop troos God ons verder met sy liefde en begrip. ’n Psalmdigter het dit al geweet: “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van ’n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg” (Ps 103:15-16).

Maar ons vra tog: Is daar dan geen vastigheid in hierdie lewe nie? Geen waarborg dat dinge wat vir ons vreugde gee langer sal hou nie? Dan kom die digter se antwoord: “Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom. Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal” (Ps 103:17-19).

Dis dalk nie die antwoord wat ons wou hê nie, maar dis die antwoord waarin ons sal rus vind. Hierin lê onwankelbare vreugde en beleef ons die grootste vastigheid en volkome sekerheid. Vir altyd.

Here, U weet hoe verganklik ons is. U troos ons met u onverganklike liefde. Baie dankie daarvoor.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

Von ·

As die lewensstorms woedend om my slaan……..Here dankie dat U altyd by my is

Frieda ·

Ek het met ‘n hart vol dankbaarheid wakker geword want U o Heer was heeltyd by my, Dankie Vader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.