Gedagte vir die dag: Ooreenstemming

mense_bankie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?  (Amos 3:3)

Ek raak baie ontsteld wanneer ek hoor hoe die egskeidingsyfer styg. Baie mense sê die hoofrede vir egskeiding is nie ’n derde party nie, maar bloot die feit dat die twee getroudes nie meer met mekaar oor die weg kom nie. Hulle stem oor niks saam nie. Hulle sê hulle is onversoenbaar en dit gee aan hulle ’n wettige rede om te skei. Hoe tragies, want hierdie selfde mense het op hulle troudag gebid en voor God ’n gelofte afgelê dat hulle bymekaar sou bly tot die dood hulle skei.

Twee mense kan nie saam reis of leef as hulle nie een in gees is nie. En die enigste manier om een te word, is om die Here Jesus Christus die middelpunt van hulle lewe te maak. Die derde party van ’n suksesvolle verhouding is Jesus self. Ek weet uit eie ervaring dat wanneer ek en Jill stry kry, dit tevergeefs is om tyd in gebed deur te bring voordat ek die saak met haar uitgepraat het. Ek weet God sal nie my gebede verhoor nie. Hy sal my wel hoor bid, maar Hy sal nie op my gebede reageer nie.

Voordat jy vandag jou stiltetyd afsluit, maak seker daar is geen onenigheid tussen jou en jou geliefde nie. Gaan vra jou maat se vergifnis – selfs al is die rusie nie jou skuld nie. Wees nederig en jou geliefde sal jou vergewe. Dan kan julle saam verder reis. Die Bybel sê een sal duisend verslaan, maar twee sal tienduisend verslaan. Wanneer julle saamstaan en in ooreenstemming saam reis, sal God julle een-wees, julle verhouding en julle vriendskap seën.

Jy sê dalk nou: “Maar, Angus, ek is reeds geskei.” Wat jy dan moet doen, is om berou daaroor te hê en die bloed van Jesus Christus oor jou af te bid, soos alle sondaars (waarvan ek een is). Dan kan jy voortgaan met jou lewe. Lukas 9:62 sê: “Enigiemand wat die hand aan die ploeg slaan en dan terugkyk, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” Sit die wedloop voort en moenie weer sonde doen nie.

En hoe leef jy in ooreenstemming met jou geliefde? Deur tyd saam met mekaar deur te bring – ongeag of dit jou kind, ’n goeie vriend of ’n kollega is. Los julle probleme op sodat julle verder saam kan reis en die oorwinning kan behaal.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.