Gedagte vir die dag: Roem in sy genade

prys_God_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. (2 Korintiërs 12:9)

Waar staan jy vandag? Jesus sê: “My genade is vir jou genoeg.” Almal maak foute, ek ook. Ek deel my hart met jou in alle eerlikheid, soos ek altyd maak. Maar ons moet ophou huil oor gedane sake. Weet jy wat dit beteken? Dit beteken dat ons ons verlede agter ons moet laat en voortgaan. Paulus moedig ons aan om juis dit te doen in Filippense 3:13-14: “Ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”

As daar enigiemand was wat ’n besluit moes neem oor gedane sake, was dit Paulus. Die vyand sou bly gewees het as Paulus so vol berou en skuldgevoelens oor sy vervolging van die Christene was, dat hy vir God van geen waarde kon wees nie. Dit is hoekom hy in 1 Korintiërs 15:10 sê: “Deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.” Deur sy toewyding aan Jesus, kon dít wat hom magteloos sou maak, omgedraai word in seën, en kon God hom tot sy eer gebruik. Paulus het geleer om in God se genade te leef. Leef jy vandag in God se genade?

Moenie toelaat dat sy genade aan jou tevergeefs is nie. Ek bid dat, na aanleiding van alles wat jy hierdie maand van God geleer het, jou geloof versterk is. Ek bid dat jou innerlike mens opgebou en vernuwe is. Ek vertrou dat jy deur God se Woord nou insig en perspektief het om jou lyding beter te verstaan. Moenie toelaat dat jou verlede of jou hede jou terughou nie! Wat ook al die uitdagings, teleurstelling en lyding, Jesus sê vandag vir jou: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.”

My Vader, ek dank U vir die afgelope maand. Ek is so dankbaar vir u getrouheid aan my, u kind. Ek dank U dat ek ook vandag kan sê: “Deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie.” U genade beteken alles vir my. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here U genade is ook vir my genoeg…..dit is onverdiend…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.