Gedagte vir die dag: Sal ek ooit goed genoeg wees?

hardloop_sonsopkoms_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis. (1 Timoteus 6:11b)

In die oë van die wêreld is sy ’n toppresteerder, ’n bewonderenswaardige mens, iemand na wie ander opkyk. Op skool en universiteit was sy ’n leier. Daarna ’n baanbreker wat van enige iets ’n sukses maak. Tog vra sy my met trane wat oor haar wange rol: “Sal ek ooit goed genoeg wees?”

So baie van ons vra gereeld dié vraag. Al is dit net daar in ons hart se binnehoekies waarvan niemand weet nie. Daar kan soveel oorsake en redes wees vir hierdie tipiese emosie: Dinge soos die manier hoe ons grootgemaak is, die verwagtinge van ons ouers, terugvoering van ander mense en natuurlik ons tipe persoonlikheid en waardestelsel: die dinge waaraan ons “sukses” vir onsself meet. Kort antwoorde is daar nie op hierdie diepgewortelde vrae nie. Onwrikbare waarhede wel:

Daar is Een wat weet wie jy is en elke detail van jou lewe ken. En dié Een verwag nie van jou om alles vir almal te wees nie. Dis sý werk! Veel eerder wil Hy hê jy moet méns wees. Vervulde, vredevolle, liefdevolle méns.

Vader-wat-my-liefhet, help my om u oë van goedkeuring werklik te sién.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.