Gedagte vir die dag: Slinks

skare_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees. (1 Samuel 18:17)         

Wanneer ’n persoon se hart vol haat en wraakgedagtes is, betrek hy ander mense by sy slinkse planne.

Saul begin by sy oudste dogter, Merab, wat hy aan Dawid as vrou wil gee op voorwaarde dat Dawid vir hom as aanvoerder in die oorloë teen die Filistyne moet optree. Die Here fnuik sy plan deurdat Merab met iemand anders trou.

Hy betrek ook sy amptenare en beveel hulle om ’n goeie woord vir hom by Dawid te doen: Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Hierna stuur Saul vir Dawid om vir hom honderd voorhuide van die Filistyne inruil vir sy dogter Mikal te bring – in die hoop dat Dawid doodgemaak sal word. Wanneer hierdie plan ook faal, erken Saul dat die Here by Dawid is.

Saul was ’n openbare figuur. Sy slinkse planne en onreg teenoor Dawid kon nie geheim gehou word nie. Uiteindelik het hy Jonatan en sy offisiere direk opdrag gegee om Dawid dood te maak. Nou was sy allesoorheersende haat in die oopte.

Maar wat van ons gewone mense wat nie so onder die vergrootglas is nie?

Elke klein onreg en geniepsige woord of gebaar of selfs gedagte wat ons teenoor iemand koester, is sigbaar vir God. Hy weet, en omdat Hy weet, bly sy straf nie uit wanneer ons daarmee volhou en ons nie voor Hom verootmoedig nie. Dikwels is die leë gevoel van onvergenoegdheid en selfafsku genoegsame straf.

Die alternatief is liefde.

Here, help my om te vergewe en lief te hê. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U is by uitstek die kenner van menseharte, vergewe elke gedagte wat nie van U af kom nie, skep asb vir my n rein hart, in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.