Gedagte vir die dag: Sy optrede is volmaak

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Ek weet nou U kan enigiets doen, en niemand kan U keer nie. (Job 42:2)

Die Bybel in Afrikaans 1983/1992 sê in hierdie vers: “U kan uitvoer wat U besluit.” God doen altyd presies wat Hy beplan het om te doen. Die vreugde wat hierdie belofte bring, is nie net dat God almagtig is nie, maar dat alles wat Hy doen in pas is met sy heilige en liefdevolle karakter. Alles wat God kies om te doen is volmaak, sonder enige afwykings van sy plan, sonder enige teleurstellings. God doen wat God wil doen, en alles wat Hy wil doen, is liefdevol en goed.

Job het nie maklik by hierdie geloof uitgekom nie. Hy het met God geredeneer en teen God uitgevaar omdat Hy toegelaat het dat Job so vreeslik swaarkry. Job het sy teleurstelling in God duidelik uitgespreek. Maar toe sit God vir Job op sy plek en herinner hom aan die enorme kloof tussen die mens en God. En Job het besef dat hy uit sy beurt gepraat het: “Ek het gepraat oor dinge sonder begrip, dinge wat te wonderlik is vir my” (42:3)

Ons mag maar ons smart en twyfel aan God verwoord. Hy verwelkom ons eerlikheid, want Hy weet reeds wat in ons harte aangaan. Maar wanneer ons klaar alles gesê het wat ons wou sê, behoort ons op dieselfde plek te wees as waar Job was: by die besef dat God God is en ons nie. Dan moet ons ons aan sy wil onderwerp omdat ons vertrou dat God ons liefhet en volmaak goed is. Het jy al hierdie punt van vreugdevolle oorgawe bereik? Indien nie, begin die gesprek sommer nou met God en vra Hom om jou te help om by daardie bestemming uit te kom.

Hy is die Rots; sy werk is volmaak. Alles wat Hy doen, is reg. Hy is ’n getroue God, sonder enige onreg. Hy is regverdig en betroubaar! – Deuteronomium 32:4

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Amen..dankie Here dat ek my alles aan U kan toevertrou..U is die onderhouer van U Woord

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.