ToekomsVenster: Beginsels vir ’n gelukkige lewe; verbeel jou

sterre-hemelruim-bekyk-sit-op-kar

Foto: Josh Hild/Unsplash.com

Toe sing hulle ‘n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. – Die Openbaring 5:9

Ons staatspresident het tydens sy staatsrede in Junie verskeie drome voorgehou. Uiteraard is daar baie kritiek op sy voordrag. Burgers voel dat ons in Suid-Afrika ons deel van drome gehad het en nou aksie en planne om daardie drome ten uitvoer te bring, nodig het. Ek stem daarmee hartlik saam en ons sien uit na die dag dat daar duidelike aanduidings is dat ons land ’n ander koers inslaan.

Tog begin alles in die lewe by drome. Die genade agter ’n droom moet nie misgekyk word nie. Ongelukkig versand die meeste drome en kom daar niks van nie. Dit is nie net van die staat waar nie, maar waarskynlik van die meeste mense se lewens.

Op Engels word die woord “imagine” gebruik. Die beste Afrikaanse ekwivalent waarby ek kan kom is “verbeel” jou. Nie ’n negatiewe, meerderwaardige verbeelding asof jy beter is as ander nie. Daarvan het ons genoeg gehad. Hierdie is ’n pro-aktiewe, positiewe, konkrete en opbouende verbeelding wat ander ten goede kom.

Dis om die wêreld anders te sien as gebroke, desperaat en hartseer. Dis om verder te kyk, die potensiaal raak te sien en te glo dat dinge anders en beter kan wees.

Ons is geseënd met wonderlike mense in hierdie land. Die verskeidenheid hoef nie bedreigend te wees nie, maar kan komplimenteer, aanvul, verryk en seën. Ons voel egter dikwels bedreig deur diversiteit. Ons wil hê almal moet soos ons wees. Hulle wil hê almal moet soos hulle wees. Hoe vervelig sou die wêreld nie gewees het as almal en alles voorspelbaar dieselfde was nie? Kyk vir ’n slag na die natuur. Die diversiteit bedreig nie.Dit is kleure en geure, berge en dale, stroompies en riviere, bosse en bome, klippies en rotse en so kan ’n mens voort borduur.

Verbeelding kry koers wanneer ons verby ons beperkinge begin kyk en God se ingeskape moontlikhede begin raaksien.

Saam bereik ons meer, lui een advertensie op die radio.

Ps. 133 getuig van die seën van God wat oorvloedig uitgestort word oor mense wat in eenheid lewe. Dit was die getuienis en aantrekkingskrag van die eerste gemeente waar mense Christene genoem is, die gemeente in Antiochië. Die ryke verskeidenheid van die volkere wêreld het een geloofsruimte gedeel.

Pinkster is ’n duidelike aankondiging van God se bedoeling met ons. Elkeen hoor van God se wonderdade in sy eie taal. Tog is hulle deel van een gemeenskap, die Kerk van Jesus, sy Liggaam. Die volkere verskeidenheid vind uiteindelik ’n staanplek voor God se troon in die laaste dag. Ons gaan een hemel deel. Miskien moet ons solank begin oefen.

Verbeel jou ’n beter wêreld. Verbeel jou ’n nasie wat in eenheid saamstaan en saamleef. Verbeel jou ’n stukkie hemel op aarde.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvette van Wyk ·

Onse Vader het gese dit sal nie maklik wees om sy kind te wees nie. Ek is so dankbaar ek is! Wat nou gedoen as die res van die familie nie is nie? Het mooi georaat, gesmeek en dra hul elke dag aan God op. Hul kan ook aan my lewe sien ek is. Bid maar vir die dag dat hul ook besef daar is net een pad en dit is saam met Jesus! Amen en dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.