ToekomsVenster: Die vyeboom het verdroog

meisie-vrou-wat-bid

Foto: Ben White/Unsplash.com

Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” – Markus 11:20-25

Dis sommer nou die dag dat Jesus vrug aan die vyeboom gesoek het en niks gekry het nie. By daardie geleentheid het Hy die vyeboom vervloek en nou loop Hy en die dissipels by dieselfde plek verby. Die boom het tot in sy wortels verdroog.

Sjoe, ʼn mens kry nuwe waardering en respek vir die gesag wat Jesus het. Hy spreek en die natuur reageer. Hy spreek en die winde en storms bedaar.

So het Hy gedoen toe die dissipels een nag op die boot was en stormweer opgesteek het. Benoud het hulle na Jesus geroep. Nadat Hy die elemente aangespreek het het daar stilte gekom.

Die dissipels was verbaas en aangegryp deur die gesag wat Jesus oor die natuur het. Ook hier is hulle verras en aangegryp deur die wyse waarop die boom verdroog het.

Jesus gebruik die geleentheid om sy dissipels van geloof te leer.

Wat jy sê moet jy glo.Wat jy sê moet jy sien. Wat jy sien moet jy sê. Wat jy sien moet jy glo.

Uiteraard gaan dit nie oor fisiese berge nie. Vir watter rede sou ʼn mens berge wou verskuif en in die see dompel? Dit gaan oor die berge wat so dikwels in ons menswees en die wêreld opdoem.

Berge lê versperrings in die pad. Berge frustreer jou voornemens en roeping. Berge wil jou voortgang frustreer, jou van jou oortuiging en vrymoedigheid ontneem, jou ontmoedig en laat handdoek ingooi.

“Nee dis te moeilik. Ek kan die nie reg kry nie. Dis onmoontlik en kan nie gebeur nie.”

Wie so getuig sal nie oorwinning behaal nie. In stede van die gebruiklike “godsonmoontlik” eerder “God-moontlik” deur die geloof. Maak jou geloof prakties en energiek.

Daar is mense wat jare reeds bid vir ʼn saak waarop hulle self die antwoord is.

Moenie oor ʼn saak bid as jy nie oortuig is dat dit van die Here is nie tensy dit juis is wat jy probeer vasstel. As jy oortuig is dat die Here die saak in jou hart geplaas het vra dan dat die Here jou wys hoe jy die antwoord daarop is. Plaas jou voete in die water sodra jy vrede het en beleef die wonderwerkende teenwoordigheid van die Here in jou lewe.

Israel sou nou nog op die oewers van die Rietsee gestaan het as Moses nie sy hand en staf daaroor uitgesteek het nie.

Staan jy nog by die Rietsee en wag dat die waters moet skei? Die tyd gaan jou inhaal. Glo en doen en sien. Sien en glo en doen. Doen wat jy sien en glo.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seevaarder ·

Ons gaan die afgelope paar jaar deur storms en ek het die week (nadat ek gebid het) ‘n visioen gesien waar ek voor op ‘n skip staan en uitkyk reg in die duinings van die storm in – agter my was ‘n magtige skip wat groter en groter geword het – ek kon nie die einde van die skip sien nie. Ek het besef dat soms wanneer die storms erg woed sien ons net die storms en vergeet ons van die magtige God wat in beheer van ons toekoms is. Vat jou oë van die storms af en sien God se oorwinning, sien dat hy in beheer bly, sien sy oorwinnings en glo dit alles. Jou Vader het jou lief!

humor ·

Baie bemoedigend veral in die krisistye wat ons tans beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.