ToekomsVenster: Jesus maak ons rustig

sonsopkoms_rustig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek en Suzette sit by oggendkoffie en gesels oor hierdie interessante, deurmekaar wêreld waarin ons woon. Dis ʼn wêreld, in besonder ʼn land, wat deur vele uitdagings geraak word. Ek gebruik die woord uitdagings eerder as probleme.

Probleme klink finaal en onoplosbaar.

Uitdagings daarenteen roep om strategie en bevat die belofte van uitkoms.

Aan probleme kan jy bitter min doen maar met uitdagings kan jy handel, so voel ek.

Daarom gebruik ek liewer die woord, uitdagings.

Daar ís ʼn stryd om te stry.

Ons wil graag dat alles seepglad verloop maar dit is nié die Evangelie nie. Die Here belowe ook nie dat alles altyd rooskleurig en belowend sal verloop nie. Dit raak ongemaklik maar God rus ons toe vir die stryd van geloof. Ons word opgeroep om die geloof in God en ons roeping nie te versaak nie maar enduit op ons pos te bly staan. Daar is mense in nood wat ons nodig het.

Laat die politici maar voortgaan met hul opportunistiese optrede. Laat die korruptes aan die Here oor sonder om jou profetiese roeping te versaak.

Moet egter nie in die modder vasval nie, sit jou “geloofs-4×4” in rat en spin jou uit die modder uit. Klim oor die klippe en rotse wat in die pad lê. Sê op en afdraande die stryd aan. Beskou dit as ʼn avontuur.

Moenie deur alles geïntimideer word nie. Dis nie probleme nie maar uitdagings.

“Nie deur menslike krag nie” sê die Here, “maar deur my Gees”.

Veronica Dercksen, vier jaar oud, se woorde kom weer in my gedagtes op.

Ek transkribeer dit (YouTube) soos ek dit hoor.

“Een twee drie

Liewe Jesus, maak my pappa en my mamma en my sussie rustig, rustig, rustig.

Maak my en my sussie rustig, rustig, rustig.

Liewe Jesus, maak my mamma rustig, rustig.

Liewe Jesus, gee vir my sussie ballonne, en vir my

Liewe Jesus, gee vir my elke krag, want die krag was, net een elke dag af, en toe kan ek vir niemand sien nie.

Die Here maak vir my en my sussie rustig, rustig,

Duiwel, uit hierdie huis uit, en ek belowe jou, belowe, gaan uit hierdie huis uit, jy gaan nooit weer hier binne nie, nee, nee, wyk Satan,

Of vir liefde, Amen.

Sê die Woord nie:  Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde – Psalm 46:11

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Isaac Grootboom ·

Goeie bron vir sielskos vir ons Afrikaanses veral!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.