“So seker as Ek leef,” sê die Here, “Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.” (Numeri 14:28)
Vanaf die eerste boek in die Bybel sien ons hoe God geskep het deur te spreek. Hieruit leer ons dat daar krag in woorde is. Die Here praat ook met die Israeliete in Numeri en sê Hy sal met hulle maak soos Hy hulle hoor sê het. Daar is lewe of dood in woorde; daarom moet ons leer om ons woorde in ooreenstemming te bring met wat God sê. Ons woorde word die kanaal waardeur God se voorsiening in jou lewe vrygestel word. Geloof word uitgedruk in dit wat ons praat.
Ons moet noukeurig oplet wat ons praat en seker maak ons gedagtes wat ons lewe beheer en dryf, stem ooreen met wat God sê. Die Griekse woord wat in die Bybel gebruik word vir bely of praat beteken “dieselfde woorde”. Met ander woorde, om dieselfde woord te praat as iemand in ’n gesagsposisie, om aan te leer om anders te praat. Ons moet leer om ons woorde in ooreenstemming te bring met wat God sê. Ons moet ons gedagtes vul met die Woord van God sodat ons enige situasie van uit God se perspektief kan sien.
Skryf aan die einde van die dag alles neer waaroor jy deur die dag gepraat het en kyk met hoeveel negatiwiteit jou woorde gevul is. In Deuteronomium 6:6-9 gee God vir Israel ’n opdrag om sy gebooie voor oë te hou en noukeurig daarop te let dat hulle dit sorgvuldig onderhou en ook aan hulle kinders oordra. Jy kan vandag ’n groot impak maak op jou en ander se lewe deur reg te praat. Let op jou woorde en kyk watter impak dit op jou gemoed gaan hê en hoe jy met passie gaan leef.
Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor U, o Here. Help my om reg te praat. Amen
Amen op die oordenking.
Laat jou woorde dus min wees.