Lees Psalm 116:1-2, 12-19
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? (Psalm 116:12)
Ná al die noodroepe – “smeekgebede”, noem hierdie psalmskrywer dit (v. 1) – wat die Here gehoor en waarop Hy gereageer het, het dit tyd geword om dankie te sê.
Die skrywer se retoriese vraag hieroor is bloot dit: retories. Wat hom betref, is dit ’n uitgemaakte saak. ’n Drankoffer sal dit wees (vgl. v. 13), ’n dankoffer (vgl. v. 17); die betaal van sy geloftes, voor almal (vgl. v. 14, 18), en in die voorhowe van die Here se huis (vgl. v. 19). Dit is ’n geringe prys om te betaal; hy het immers sy lewe aan die Here te danke.
Dit is verfrissend om hierdie ou psalm nou te lees: Hoe min hoor gelowiges, veral ook uit hul eie mond, die nadruklike versugting om God vir verhoorde gebede te dank.
En Hom boonop só uitvoerig te wil bedank, voor al wat leef en beef en luister en toekyk, almal wat dalk agter die hand sal fluister: Het jy gehoor wat met hóm gebeur het?
Ja-nee, dankbaarheid is dikwels ’n private saak. Ek (en my Here) in my klein hoekie …
Maar hierdie mens het in die loop van sy krisistye iets deurslaggewends geleer: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie” (v. 15). Hy het in hierdie swaar tyd agtergekom hoe kosbaar hy vir die Here is. Hy weet nou wie hy voor God is en tot watter uiterstes Hy sal gaan om sy kinders te beskerm.
Daarom sy oorvloedige dankbaarheid, en daarom maak dit nie saak wie toekyk nie. Hy sal uitroep: Kom kyk maar, julle almal! Kýk, ek is die lewende bewys van hoeveel God se kinders vir Hom werd is.
Ek sal opstaan, Here, en ek sal voor almal sê: God is oneindig goed vir my!
Dankie Here vir Genade….onverdiend…Amen