Ek prys die Here. Ek juig in God my Verlosser! (Lukas 1:46-47)
Advent kan tegelyk die moeilikste en lekkerste tyd van die jaar wees. Dis gewoonlik die laaste druk tyd van die jaar waarin soveel afgehandel moet word, ons vir die feestyd beplan en regmaak en die jaar se eise ons al vuisvoos het. Tog bied dit ook vir ons ’n kans om die besigwees en menslike dinge eenkant te skuif en weer te onthou:
- Jesus hét gekom! Gekom om aan ons hoop te bring te midde van al die storms in en om ons.
- Hy het vreugde gebring. ’n Diep vreugde aan ’n wêreld wat soms met rede neergedruk is.
- Sy koms het vrede kom gee: Vrede tussen ons en Hom, tussen mense … Veral vrede in ons harte in die wete: Hy ís daar. En Hy sorg.
- Hoe anders lyk die wêreld – ons hede en toekoms – omdat die Lam sy lewe uit onvoorwaardelike liefde vir ons kom gee het.
Steek in die tyd die vier kerse van Advent in jou huis, maar ook in jou hart aan. Vier dan sy hoop, vreugde, vrede en liefde in en om jou.
Help my om in dié tyd verby alles te kyk en u lig te sien, Immanuel.
Dankie Here Jesus my Redder aan n hout Kruis
Dit klink vreeslik mooi, maar dit kyk die waarheid mis: Jesus Christus moes aan die kruis kom sterf vir ons SONDES, om die hel se deure vir ons toe te maak en die toegang na die hemel oop vir die wat in Hom glo. Sy koms het gegaan, en gaan steeds oor die mens se sondes.
Adventviering is nog ‘n deel van Roomse tradisie wat geen bybelse gronde het nie – dit is om die jas van waarheid (SY menswording) aan die kapstok van die leuen (menslike verdigsel en sentiment) op te hang.