Gedagte vir die dag: Vrae, Vrae, Vrae!  

skape_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hoe lank, Here, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg? Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag? Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef? (Psalm 13:2-3, BYBEL IN AFRIKAANS 1933/1953  )

Soveel vrae! In ons krisisse stroom sulke vrae uit ons siel uit terwyl ons sin soek in die situasie. Leraars moet ook dikwels sulke vrae aanhoor: Waarom moes dit gebeur? Waarom moes dit met mý gebeur? Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ai, soms soek ons maar net ’n veilige afpakplek, ’n bietjie begrip en God se teenwoordigheid. Die feit is dat sulke vrae nie deur ’n medemens beantwoord kan word nie. Dis vrae wat net God kan antwoord. Op sommige antwoorde moet ons wel lank wag – en sommige word eers in die hiernamaals geantwoord.

Dis hier waar geloof inkom. Iewers gaan jy ophou vrae vra en begin vertrou. Onthou, God belowe nie om elke vraag te antwoord nie, maar om elke traan af te vee. Hy belowe om by jou te wees, Hy belowe dat Hy alles onder beheer het, dat Hy vertrou kan word, dat alles uiteindelik goed sal uitwerk. Dit is solank ’n paar voorlopige antwoorde waaraan jy kan vashou.

Here, ek los nou my vrae by U. Amen.

Bron:
Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ritsy Rits ·

Ek het ook vrae gehad hoekom , waarom, maar as ek nou terug kyk sien God het my nooit alleen gelaat nie. Vandag het ek vrede in my hart, dat ek net op God moet vertrou Ek moes vir 3jaar daardie pad stap sodat ek vir ander ‘n getuie kan wees. Ek moes maar net my op my knee bly, en alles vir God gee. Vandag weet ek God het alles in beheer. Ons hoef nie te vra waar was of waar is God nie, Hy is nogsteeds daar waar hy met die uitlegging van hierdie aarde was, Hy was en is steeds daar toe ons gebore was, dit is ons as mens wat nader aan Hom moet kom, Al gaan dit hoe, glo my vertrou God, want HY IS IN BEHEER, en Hy antwoord op die regte tyd want Hy sien ons toekoms. Hy weet hoekom dit 3jaar vir my geneem het. Daarom kan ek se moet nooit ophou om op God te vertrou nie.

ChrisE ·

Ek kan net beaam wat jy sê. My pad loop al so vir 19 jaar. Ek is nie waar ek wil wees nie maar is gelukkig op pad na waar God wil hê ek moet wees. My lewe is in Sy hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.