Gedagte vir die dag:  Waarop dit aankom

 ou-muur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 2:19-23

Daar aangekom, het hy gaan woon in ’n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is … (Matteus 2:23)

Ons weet nie hoe lank Josef en sy jong gesin in Egipte was nie. Trouens, ons weet omtrent niks van hul verblyf daar nie. Ons weet bloot dat hulle daarheen gevlug het om aan Herodes te ontkom, en dat hulle toe later na hul eie land teruggekeer het, “want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood” (v. 20). Só vertel die Here se boodskapper.

En so gaan die Kindjie terug Israel toe, maar vir eers na die noorde, na Galilea. Jesus se reis Jerusalem toe sou eers later kom … Hierdie kriptiese besonderhede is al wat ons van Jesus se vroeë lewe weet. Lukas sou wel ’n kort episode rondom “die Kindjie” se twaalfde lewensjaar met sy lesers deel (vgl. Luk 2:41-52), maar verder weet ons niks.

Daar is gelowiges wat reken ons sou by meer besonderhede oor Jesus se jongmenslewe kon baat (daar is van die apokriewe geskrifte wat wel hieroor uitwei), maar dit is maar soos dit is. Ons het bloot wat ons het – én die Evangelieskrywer Johannes se slot- opmerkings oor die keuse wat hy gemaak om nie alles te beskryf wat hy weet nie (vgl. Joh 20:30-31; 21:25).

Maar wat wil ons meer weet wat tot ons geloofsheil sal bydra? Ons krap immers genoeg kop met wat ons in die Evangelies lees. Ja, Jesus se grootmenslewe bied oorgenoeg uitdagings aan sy volgelinge. Sien, dié wat Hom klein-klein wou doodmaak, het toe self gesterf. Daar het later egter ander gekom, ander boosdoeners, ander agendas – en dit is van hulle wat die Evangelies ons uitvoerig vertel. Dit is dus die kwessies ná Egipte en ná Nasaret wat al ons aandag vra.

Leer my elke dag onderskei waarop dit regtig aankom, Here.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos

Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.