Die see en alles daarin moet druis, die wêreld en almal wat daarin woon. Die riviere moet hande klap, die berge moet jubel voor die Here. Want Hy kom om die aarde te oordeel. (Psalm 98:7-9)
Stadsmense luister sleg. Ons is só gewoond aan die geluide wat ons self maak, soos musiek of ons eie geraas, dat ons baie min luister na God se geluide. God se geluide is in die natuur. Elke dier, voëltjie, wind of donderweer, is geluide wat iets sê van die Skepper. Maar ons hoor dit min, en as ons wel soms luister, vertaal ons dit sleg.
Die psalmdigters het beter geluister. Die rede was nie net omdat daar minder agtergrondlawaai was of omdat hulle minder besig was en meer luistertyd gehad het nie. Die eintlike rede was dat hulle natuurgeluide beter vertaal het. Hulle het die koringlande se geritsel vertaal as toejuiging vir God (Ps. 65:14). Die rivierwater se gekabbel het hulle verstaan as handeklap, nes ’n skare mense (Ps. 98:8). Die boomblare se gesuis het hulle vertaal as blydskap, nes mense wat saam opgewonde raak en lag (Ps. 96:12).
Hoe dikwels luister jy sommer net na natuurgeluide? Selfs daar waar jy in ’n stad woon, is daar natuurplekke. Besoek jy dit en gaan sit stil, sommer net sit. Doen dit en jy sal iets verstommends verstaan.
Lees Psalm 98:7-9 vir die rede hoekom riviere moet hande klap.
Dankie Here dat ek U in die natuur kan hoor en sien…Amen
Dankie Here dat ek op ‘n plaas kan woon elke dag en nag na die natuur kan luister. Help my om dit te vertaal.
Dis nou nie natuurgeluide nie, maar wanneer die krag skielik afgaan is dit die geluid van bure generators wat sê: Toemaar, dis normaal. Of wanneer die toilet skielik begin raas, weet ek die water kom weer vir ‘n rukkie deur. Maar bygesê, na baie jare in die stad het die stilte vir my geleer watter voëlgeluide behoort aan watter voël. Ek voel ge-eerd en dankbaar daarvoor.