Gedagte vir die dag: Wees barmhartig

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het. (Lukas 24:12)

Petrus het Jesus verloën. Hy het nie geglo dat hy so iets sou doen nie, maar dit het gebeur en hy moes die gevolge daarvan dra. Kan jy jou voorstel hoe die dissipels gevoel het gedurende die drie dae wat Jesus in die graf was? Die drie vroue het na die graf gegaan om Jesus te soek, maar die graf was leeg. Toe het hulle ’n engel gesien “en hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasarener wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het” (Markus 16:6-7).

Het jy dit raakgelees! Jesus het gesê: “Gaan sê vir My dissipels en vir Petrus.” Hy noem Petrus by die naam. Hy doen dit omdat Hy geweet het Petrus sou nie uit sy eie reageer nie, want hy het die Here in die steek gelaat. Die vroue het toe teruggekeer en vir die dissipels daarvan vertel. Lukas 24 sê: “En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie” (vers 11). Nie Petrus nie: “Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop” (vers 12). Hy het hom nie twee keer laat nooi nie. “Hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het” (vers 12). Petrus het geglo! Hy het op Jesus se barmhartigheid gereageer! Kan julle dink hoeveel dit vir Petrus moes beteken toe die vroue teruggekeer het met die boodskap wat hulle ontvang het?

Dit is barmhartigheid! Jesus het Petrus se behoeftes geken en Hy het met medelye na hom uitgereik. ’n Geestelike leier bewys medelye en barmhartigheid. Hy reik uit, rig op, bemoedig en herstel. As jy weet van mense wat die pad byster is, hoekom reik jy nie vandag uit na hulle nie? Dit mag wees dat dit al is waarvoor hulle gewag het: Iemand wat hulle laat voel dat hulle nie vergete is nie, selfs al het hulle misluk. Is dit nie wat jy graag van iemand anders sal wil hê nie?

My Vader, ek is so dankbaar vir u barmhartigheid, en vir u liefde. Help my om dieselfde barmhartigheid te bewys aan ander wat in nood is. Wys my iemand na wie ek kan uitreik en u barmhartigheid bekend kan maak. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here U gee vir my n nuwe dag, n nuwe geleentheid om n verskil te maak..help my om dit te benut…in Jesus Naam..Amen

WILLEM ·

Die Here leer ons om minder te praat en meer te doen. Ons doen en late getuig van ons geloof, en ons optrede aan ander wat oor ons pad kom. Dankie Here vir u Liefde en Genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.