Video: ‘Saam is ons sterker’, sê studietrust aan donateurs

Lizelle van der Klashorst, operasionele hoof van die Helpende Hand Studietrust. (Foto: Reint Dykema)

“Julle werk met julle hande om ons hande sterk te maak. As julle met ons hande vat, maak ons mekaar sterker.”

Só het Lizelle van der Klashorst, operasionele hoof van die Helpende Hand Studietrust (HHST), Woensdagaand aan die donateurs van dié trust by ʼn glansgeleentheid in Pretoria gesê.

Die geleentheid is aangebied om skenkers te bedank wat deur hul betrokkenheid by die trust honderde behoeftige studente se toekomsdrome verwesenlik.

“Sonder die onbaatsugtige inploeg van ons donateurs wat begeester is deur die studietrust se visie en doelstellings sou dit nie vir ons moontlik gewees het om soveel kosbare fondse te bestuur nie.”

Die HHST is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare liefdadigheidsorganisasie wat behoeftige Afrikaanse studente se studies moontlik maak deur middel van rentevrye studielenings.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens verskeie donateurs en het oor die afgelope 14 jaar reeds meer as 11 000 toekennings aan 4 750 behoeftige studente gemaak teen ʼn algehele bedrag van R277 miljoen.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. (Foto: Reint Dykema)

“Die hart van die HHST word weerspieël in die kragtige simboliek van sy visiestelling: ‘Sewe generasies van hoop gegrond in studie’. Die geskenk om te kan studeer, lê my baie na aan die hart.

“Prediker 4: 9-10 stel dit so mooi: ‘Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ʼn ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp, maar wee die een wat val sonder dat daar ʼn tweede is om hom op te help’,” het Van der Klashorst gesê.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ook die geleentheid bygewoon.

Die sangeres Corlea Botha en haar verloofde, JD Mars, het gaste by die geselligheid vermaak.

Corlea Botha en JD Mars op die verhoog. (Foto: Reint Dykema)

“Die HHST is meer as bloot ʼn besigheid; baie meer as net ʼn droom. Dit gaan oor meer as om fondse in te samel en dit te bestuur,” het Noëth tydens die geleentheid gesê.

“Die HHST bewaarheid drome, help studente om bepaalde doelwitte te bereik sodat hulle hul roeping kan uitleef. Ons sal daarom, en vir solank as wat dit moontlik is, met elke studielening wat toegeken word, ʼn verskil probeer maak.

“Al wat ons kan sê is dankie.”

Besoek die HHST se webwerf vir meer inligting oor die trust of om betrokke te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.