Soorte resepte:

Dié bekende wynplaas-eetplek wen groot by SA Restaurantweek

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die uitsig vanaf Durbanville Hills se The Tangram Restaurant. (Foto: Verskaf)

Dit blyk dat die Durbanville Hills-wynmakery in die Wes-Kaap nie net bobaas druiwe het nie, maar ook bobaas kokke.

Die Tangram Restaurant by dié wynlandgoed is onlangs as Suid-Afrika se beste eetplek tydens die 2023 Suid-Afrikaanse Restaurantweek aangewys.

Restaurantweek is vanjaar tussen 29 September tot 5 November gehou en vereis dat deelnemende restaurante ʼn spesiale spyskaart vir gaste ontwikkel om teen afslagtariewe te geniet en te beoordeel.

Meer as 25 000 gaste het die nagenoeg 140 deelnemende Suid-Afrikaanse restaurante se kos, diens en die algehele atmosfeer bepunt om uiteindelik die wenners te bepaal.

Tangram het volgens gaste ʼn smaaklike gemiddeld van 10 uit 10 gehaal danksy sy beeldskone uitsigte en sjef Tamzin Ehlers se unieke disse.

Dirk Steyn, Tangram-hoofbestuurder, sê dit is ʼn ongelooflike eer om as die beste in Suid-Afrika erken te word.

“Die gasvryheidsbedryf is taai en baie mededingend. Verbruikers eis gehalte, kreatiwiteit, uitsonderlike diens en unieke ervarings. Uiteet is so ʼn sosiale en emosionele ervaring, en verbruikers het uiters hoë verwagtinge.”

Dit is ook nie die eerste keer wat Tangram met een van dié toekennings bekroon is nie.

Hulle is in 2015 en 2016 as die beste restaurant in die Wynlande aangewys en in 2017 ook as beste restaurant in Suid-Afrika gekies.

Volgens The Tangram was dít hul gewildste disse gedurende SA Restaurantweek:

Voorgereg: Garnaal en mossel arancini, spekboompesto, bros kappertjies, ingelegde komkommer en gerookte salmmousse.

Hoofgereg: Soja-en-heuning-geglasuurde varkpens, blomkoolpuree, gekaramelliseerde baba-uie, kersietamaties, aartappelskyfies en wortelpoeier.

Nagereg: Espresso- en donkersjokoladekaaskoek, haselneutkoekiekrummel, room en brandewynreduksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OW ·

Baie geluk aan die Tangram restaurant,en die kookspan.Dit wil gedoen wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.