Soorte resepte:

Blare of bone, jou oggendbrousel verklap heelwat oor jou persoonlikheid

(Argieffoto: Jenny Ueberberg/Unsplash)

Het jy ooit al gewonder hoekom jy koffie bo tee verkies, of andersom?

Die internasionale navorsingsagentskap, OnePoll, het ‘n studie gedoen wat die persoonlikheidsverskille tussen 2 000 Amerikaanse koffie- en teedrinkers uitwys, en daar is klaarblyklik ʼn paar verskille tussen diegene wat bone en die wat blare verkies.

Navorsers het gevind dat koffiedrinkers introverte en kreatiewer as teedrinkers is, en hulself beskryf as ekstroverte wat sosiale interaksie en avonture geniet.

Sowat 75% van koffie- en teedrinkers drink hul eerste koppie soggens voor agtuur en drink dit dikwels tussendeur hulle besige oggendskedules.

Wanneer dit by vermaak kom, geniet tee-aanhangers dit om programme soos Friends, The Big Bang Theory en The Walking Dead te kyk, terwyl die meeste koffieliefhebbers Seinfeld, The Office en Grey’s Anatomy verkies.

Smaak in musiek verskil ook. Diegene wat koffie verkies, luister graag na jazz, blues, punk en rock in teenstelling met teeliefhebbers wat ‘n kombinasie van klassieke, country, pop, hip hop en kletsrymmusiek verkies.

Foto ter illustrasie. (Foto: Thandy Yung/Unsplash)

Albei is luidens navorsing lief vir troeteldiere, maar oor die algemeen verkies koffiedrinkers die geselskap van ‘n hond, terwyl teedrinkers meer van katte hou.

Koffiedrinkers is klaarblyklik ook altyd haastig en geniet ʼn vinnige lewenspas terwyl teedrinkers geneig is om meer in die oomblik te leef.

Adele du Toit, woordvoerder van die SA Rooibosraad (SARC), sê verskeie studies oor die jare het soortgelyke resultate opgelewer.

“Ander studies stem ooreen dat koffiedrinkers geneig is om ‘oggend’-mense te wees in vergelyking met teedrinkers wat hulself as naguile beskryf. Netheid is baie belangriker vir teedrinkers as koffiedrinkers, wat hulself dikwels as ‘morsig’ beskryf.”

Volgens Du Toit dui navorsing ook daarop dat slaap koffiedrinkers ontwyk, met baie wat hulself as ‘ligte slapers’ beskryf, terwyl die meeste teedrinkers (57%) sê dat hulle oor die algemeen goed slaap.

Sy benadruk ook dat hoewel die meeste tee minder kafeïen as koffie bevat, kruietee soos rooibos heeltemal kafeïenvry is en ‘n goeie nagrus aanhelp.

Blikkantien-koffiestel in Die Maroela Media Koöperasie.

Die OnePoll-studie verwys na koffiedrinkers as kafeïenverslaafdes en noem ʼn ander verslag waarin byna (49%) van koffiedrinkers genoem het dat hulle eerder hul selfoon vir ‘n maand sal prysgee as om sonder koffie te bly.

“Dieselfde kan nie vir teedrinkers gesê word nie, aangesien verslawing nie ‘n probleem is nie,” meen Du Toit.

Teedrinkers het wel een minder gesonde gewoonte en dit is om versoeters en melk by hul drankie te voeg, waar 96% van koffiedrinkers hul brousel net só geniet.

Sy moedig diegene wat die gesonde keuse wil maak om hul kafeïen-inname te verminder, aan om hul bone vir blare te verruil.

“Rooibostee beskik ook oor kragtige anti-inflammatoriese, antimikrobiese en antivirale eienskappe, wat algemene gesondheid en welstand bevorder. Die oorskakeling van een drankie na ‘n ander is nie noodwendig maklik nie, maar dit is belangrik om die gesondheidsvoordele op die lang termyn op te weeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Zollie ·

Wat ‘n pot snot. Ek is ‘n koffiedrinker maar nie een van die goed wat hulle noem is op my van toepassing nie. Kan nie Amerikaners met ons vergelyk nie.

Jakkie ·

Zollie jy is 100% reg, hierdie 2000 uit 330 miljoen ‘n steekproef van 0,0006%……

Erika ·

Ek is lopende koffie kan, soos dag vorder, word my beker koffie sterker. Ek luister beslis nie, jazz en blues nie, spaar my tog net dit asseblief. Morsig, wel ek is bitter ver van morsig af, my plekkie is pynlik netjies, dus is hierdie studie beslis pot strooi!

Eclectus ·

Nou wat van my wat heeldag heavy metal luister en tee drink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.