Soorte resepte:

Huis-huis, ʼn resep vir elke vertrek

Maroela Media se resepteboek, “Huis-huis”

Vir onse mense is eet mos ʼn bietjie soos asemhaal. Ons eet as ons bly is en ons eet as ons hartseer is. Ons eet as ons onsself jammer kry én as ons onsself wil beloon. Ons eet as ons saam is en ons eet as ons eensaam is. Ons eet, want dis wie ons is.

Van vroeg in Maroela se bestaan was dit duidelik dat die resepte-afdeling een van die gewildste afdelings op Maroela sou wees. Tannie Nella se Melktert, ’n lesersresep wat een van die eerste resepte is wat sedert Maroela se ontstaan in 2011 gepubliseer is, is tot hede meer as 13 miljoen keer gelees. ’n Pannekoekresep wat reeds in 2019 gepubliseer is, is steeds jaarliks een van die resepte wat die meeste op Maroela besoek word, en is tot en met 2023 bykans 136 miljoen keer gelees.

As deel van ons 10 jaar-verjaardagvieringe, het ons ʼn klein, gratis resepteboek beskikbaar gemaak vir ons lesers. Dié boek se naam was Aptyt – resepte vir enige tyd.

Nou het ons vir jou ʼn bielie van ʼn resepteboek.

Uit Maroela Media se resepteboek, “Huis-huis”

In Huis-huis nooi ons jou om saam met ons te kom aansit, in elke vertrek en met elke okkasie. In die eetkamer sit ons om ʼn mooi gedekte tafel aan vir hoenderpastei, beesbredie, boontjiesop en soetpatats. In die kombuis bak ons ontbytbroodjies en maak hawermoutpap saam met ʼn lekker beker boeretroos, en eet sommer in ons pajamas by die kombuistafel. In die sitkamer raak ons fênsie as die dominee huisbesoek kom doen – dan drink ons tee uit Ouma se Royal Albert-koppies en bedien melktert, dadelbolletjies en sjokoladekoek. Vrydagaande eet ons voor die TV – maklike etes soos Vrydagaand-pasta met Milo-balletjies vir nagereg.

As ons saam met die bure op die stoep braai, smul ons aan pampoenbrood, biltong-roosterkoek en appeltert op die kole. Op warm dae drink ons tuisgemaakte lemonade in die tuin, saam met vars slaai en ongebakte suurlemoenblokkies. En as jy, helaas, teen middernag nog ʼn hol kolletjie het, is daar altyd iets soets in die spens vir ʼn middernagfees: kondensmelkkoekies, klapperkoekies, vyekonfyt en fudge.

Elk van die resepte in Huis-huis is óf deur ʼn Maroela-leser ingestuur, óf afkomstig uit een van die Maroela-spanlede se familieresepteboeke, óf geneem uit ʼn resepvideo wat deur Maroela se eie kos-foendi vervaardig is.

Meer as 100 watertand-resepte is by dié boek ingesluit. Dit is die ideale geskenk vir jouself, jou ma, jou oom, die bure, pasgetroudes, jongmense wat vir die eerste keer vir hulself moet sorg en enigiemand wat graag in die kombuis woeker.

Ons is mos almal een, groot familie, en daarom nooi ons jou om te kom aansit en saam te kuier. Smaaklike ete!

  • Bestel jou Huis-huis-resepteboek nou in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, teen R450,00. Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.