Soorte resepte:

Huiskokke op pad na Frankryk na hulle topsjefs beïndruk

Die wenners van Aansit seisoen 1: Izak Redelinghuys, Wessel Pieterse en Jennifer du Plessis (Foto: Verskaf)

Izak Redelinghuys, Wessel Pieterse en Jennifer du Plessis het Vrydagaand tydens VIA se kosprogram Aansit koning gekraai as Suid-Afrika se beste huiskokke.

Sjef Reuben Riffel het reg oor die Kaap gereis op soek na Suid-Afrika se mees innoverende huis-kokke met natuurlike talent wat smullekker kos in hul eie kombuise kan kook.In die eerste seisoen van Aansit het Riffel die spanne, wat uit drie huiskokke elk bestaan het, uitgedaag om ʼn restaurantgehalte-spyskaart voor te sit. In elke episode is Reuben deur Suid-Afrika se topsjefs soos Pete Goffe-Wood, David Schneider, Wesley Randles en Kevin Grobler bygestaan om die deelnemers in hul eie kombuise te beoordeel.

Die wenspan vertel aan Maroela Media dat dit fantasties voel om die wenners te wees.

“Dis verskriklik lekker om erkenning te kry, veral van gesoute sjefs soos hierdie. Die drie van ons het ’n fees in die kombuis gehad saam met die ander deelnemers, beoordelaars en die produksiespan. Die feit dat ons gewen het, is ’n bonus,” sê Redelinghuys.

Die wenspan loop weg met pryse ter waarde van R150 000. Dit sluit in ʼn bootrit vir ses in Frankryk en ʼn koservaring by Jan Hendrik van der Westhuizen se Micheline-ster bekroonde restaurant JAN in Nice.

Van al die pryse is hulle beslis die meeste opgewonde om Jan Hendrik van der Westhuizen te ontmoet en Frankryk te verken, sê Pieterse.

Riffel sê dit was ʼn heerlike ervaring om die eerste seisoen van Aansit te verfilm en al die deelnemers te leer ken.

Alikreukel tortelloni, een van die span se wendisse (Foto: Verskaf)

“Soos ons van huis tot huis gereis het, het ons warm en interessante mense ontmoet wat mal daaroor is om vriende en familie te onthaal, maar ook deelnemers wat graag ʼn verandering van beroep wil maak” sê hy.  “Ons het ons gate uit geniet om die deelnemers te ontmoet en hul smullekker kos te proe.”

Du Plessis s sê dit is vir haar spesifiek lekker om ʼn huiskok te wees omdat jy saam met vriende en familie kook. “Die gevoel van samesyn is waaroor dit als gaan. Die genot om mense se reaksies en tevredenheid aan die tafel te aanskou maak die was van die skottelgoed die moeite werd,” sê sy.

Huiskokke moenie bang wees om waaghalsig in die kombuis te wees nie. Redelinghuys se raad is om waaghalsig te wees, nuwe resepte te probeer en goeie kwaliteit bestanddele te gebruik.

Rooibos-creme, een van die span se wendisse (Foto: Verskaf)

“Moenie bang wees om iets te doen wat jy nog nooit gedoen het nie. Gebruik jou familie en vriende as proefkonyne om jou vaardighede te slyp,” sê hy.

“Maar onthou ook altyd: ‘Less is more’. Daar is skoonheid in eenvoud. Kook met gevoel – proe die heeltyd en vertrou jou pallet! ’n Bietjie beplanning en voorbereiding maak ook die wêreld se verskil.”

Die wenspan sien nou uit na nog baie lekker tye in die kombuis en om die etenstafel. Hulle is ook van plan om nuwe produkte te ontwikkel en om intieme koservarings te begin aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tweeling ·

Daar word genoem dat Riffel regoor die Kaap gereis het om die beste kokke te vind: dan kan jy mos nie sê die aangewysdes is die beste in die land nie

maria ·

Dit klink interessant . Is dit dieselfde as die Maser Chef programme wat deur oa Australia aangebied word.
Hulle doen dit natuurlik net in ‘n ateljee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.