Soorte resepte:

Jan Braai: Die Demokratiese Republiek van Braai

Jan Braai: Die Demokratiese Republiek van Braai word uitgegee deur Human en Rousseau Uitgewers.

“Dis jou demokratiese reg om ordentlik gebraaide kos te eet. Die Demokratiese Republiek van Braai is ’n plek waar jy saam met vriende en familie om ’n vuur staan om ons nasie te vier, waar jy geselsies maak en stories deel. Dis ’n plek waar jy nooit weer swaar hoef te sluk aan swak braaikos nie,” skryf Jan Braai op die agterblad van hierdie braaihandves. Menige sal met hom saamstem, want braai is immers ’n nasionale gunstelingtydverdryf.

Jan Braai (sy regte naam is Jan Scannell) dra hierdie publikasie op “aan die miljoene Suid-Afrikaners wat elke jaar Nasionale Braaidag op 24 September 2022 vier”. Dit is natuurlik ook Erfenisdag. Jan glo dat die viering van ons gemeenskaplike erfenis die nasie kan verenig. “In Afrika is ’n vuur die tradisionele plek van samekoms. Ek moedig jou aan om elke jaar … om ’n vuur bymekaar te kom en om daar ons erfenis te vier, stories uit te ruil en tradisies oor te dra.”

Die hersiene uitgawe van Jan Braai: Die Demokratiese Republiek van Braai beslaan 200 bladsye. Die inhoud is effens aangepas, die hoofstukke is opgedeel en die resepte georden. Daar is ook heelwat nuwe resepte by. Die hoofstuktitels is “Bees”, “Hoender”, “Lam”, “Vark”, “Seekos”, “Ander wonderlike goed” en “Nagereg”. Daar is ook gedeeltes propvol wenke en raad oor byvoorbeeld mates, die tipe hout wat mens kan koop en hoe om ’n nuwe potjie in te lyf.

Jan herinner braaiers graag aan die eerste reël van braai, naamlik as jy enigsins wonder of die vuur groot genoeg is, dan is hy nie groot genoeg nie. Hy beveel ook aan dat mens jou gesonde verstand gebruik terwyl jy braai en van die resepte aanpas as jy voel dis nodig. Dan spog hy ook by voorbaat met die vier regte lekker kerriepotjieresepte (korma, massaman, vindaloo en varknekkerrie) in die boek.

Hier is drie voorbeelde uit elk van die hoofstuktitels:

Bees: Bosveld-biefstroganoff, Bloody Mary-burger en Steak met ’n biltong-en-roomsous.
Hoender: Soet-en-taai-hoenderpotjie, Rewolusiehoender en Gevulde hoenderborsies.
Lam: Jan Braai se lam-pita, Port-lamskenkelpotjie en Gemaalde lamsvleis-sosaties.
Vark: Heuning-en-mosterd-varkribbetjies, Oosterse gepluiste vark en Luukse braaibroodjie.
Seekos: Oesters op die vuur, Mosselpotjie en Gebakte soutpotvis.
Ander wonderlike goed: Gebraaide camembert, Reënboognasie-roti en Oorspronklike Suid-Afrikaanse bierbrood.
Nagereg: Piesang-en-Nutella-karosse, Dadel-en-pekanneutpotjie met ’n toffiesous en Wêreldbekerwenner-broodpoeding.

Ek het in die inhoudsopgawe van “Duiwelsruiters” gelees en het dadelik na bladsy 128 geblaai om te sien wat dit is. Hoewel ek dadels toegedraai in streepspek en op sosatiestokkies geryg al voorheen geëet het, het ek nie geweet dit word só genoem nie. En wie sou nou kon raai dat mens ’n wortelkoek in ’n potjie (bl. 186) op die vuur kan maak? Die resep wat egter vir my die heel lekkerste lyk, is die prima-ribsteak met gebraaide knoffel op bladsy 34.

Dit was vir my interessant om te lees van Jan se wedervaringe met wilde diere soos bobbejane om sy braaivleisvuur. Wanneer ’n leeu aanmeld by jou braai, is sy raad: “As jy potjie maak waar daar leeus in die omtrek is, beplan sommer vooraf ’n wegholroete.” Mens moet glo maar liefs ook nie braai waar seekoeie wil loop nie. Ek het dit ook geniet om Jan se skrywes met ekstra inligting by die resepte te lees. Hierdie braaiboek is sowaar propvol resepte wat braaiers gerus maar kan uittoets.

Skaf gerus jou kopie van Jan Braai: Die Demokratiese Republiek van Braai by toonaangewende boekwinkels aan. Jy kan dit ook hier by Graffiti Boeke aanskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.