Soorte resepte:

Slaan beurtkrag hok met blikkieskos, toebroodjies

Vars avokado-roosterbrood met tamaties, uie en kruie. (Foto verskaf deur Eat Well Live Well)

Beurtkrag is skynbaar nog nie iets van die verlede nie, en dit beteken dat uitdagings met die voorbereiding van maaltye ook deel van die meeste Suid-Afrikaners se werklikheid is.

Arthur Ramoroka, korporatiewe voedingkundige en ambassadeur van Eat Well Live Well, deel ʼn paar wenke met Maroela Media se lesers oor hoe om gesonde eetgewoontes te midde van hierdie donker tye te handhaaf.

Blikkieskos is bobaas

Moenie die voedingswaarde en gerief van blikkieskos onderskat nie, sê Ramoroka.

“Met die toenemende styging van voedselpryse kan blikkieskos jou help om die aanbevole hoeveelheid groente en vrugte, wat daagliks minstens drie groente- en vrugteporsies, op ‘n meer bekostigbare wyse in te kry.

“Omdat blikkieskos reeds voorberei en gereed is om te eet, is dit dus nie nodig om dit te kook nie, en dit kan boonop koud of warm voorgesit word.”

Ramoroka stel voor dat verbruikers blikkies sousbone, mielies, ertjies, sardyne, tuna en kekerertjies, en selfs vrugte, byderhand hou.

“Ons het dit almal gedoen – vars vrugte en groente gekoop met die opregte bedoeling om dit te eet, maar voor ons weet, het dit die vervaldatum deur oksidasie bereik en dan ons moet daardie varsprodukte weggooi.

“Bespaar geld en vermy voedselvermorsing deur ingemaakte alternatiewe te kies wat ʼn baie langer raklewe het en maklik in ʼn kas gebêre kan word. Blikkieskos hou maklik tot drie jaar lank.”

Toebroodjies is eenvoudig, voedsaam

“Die nederige toebroodjie word dikwels oor die hoof gesien as ʼn voedsame ete-opsie,” sê Ramoroka.

Hy verduidelik dat bruinbrood hoog in vesel (tot 6 g in twee snye) is en dat ʼn eenvoudige smeer soos grondboontjiebotter jou energie ʼn hupstoot kan gee. Oorweeg ʼn eier-en-mayonnaise-toebroodjie en jy voeg outomaties 6 g (1 groot eier) proteïen by jou daaglikse voedselinname.

Op hierdie punt voeg Ramoroka by dat daar ʼn paar opsies vir slim peuselhappies en bykosse is.

Eiers kan vooraf gekook en in die yskas gehou word. Vrugte en groente kan opgesny word en gereed wees om te eet en dit kan dan saam met ‘n verskeidenheid gesonde doopsouse as ʼn voorgereg of bykos by ʼn toebroodjie of maaltyd bedien word.

Koolhidrate vir jou kosmandjie

Koolhidrate word dikwels as die sondaar behandel, maar dié voedselgroep is egter noodsaaklik vir ʼn gesonde dieet en om te verseker dat jy genoeg vesel inneem.

Ramoroka stel voor dat verbruikers produkte soos hawermout, bruinrys, hoëveselpasta, mieliemeel en volkoringmeel in die spens het.

“Hierdie graanprodukte bied die perfekte grondslag vir ʼn begrotingsvriendelike maaltydplan. Dit is hoogs veelsydig en kan met ‘n verskeidenheid bronne van bekostigbare proteïen gekombineer word.

“Dit is kan bedien word saam met sardyne, boontjies, soja-gebaseerde vleisalternatiewe tesame met ʼn verskeidenheid groente en vrugte,” sê hy.

Kweek jou eie groente

Al hoe meer mense begin om hulle eie kruie en groente in klein areas te kweek en dan kan hulle sommer van die produkte met bure en vriende deel.

Volgens Ramoroka kan jy dit begin selfs al het nie ʼn tuin of balkon nie. “Jy kan ʼn selfdoen-groente- of kruietuin op jou vensterbank met jou groente-afval inrig. Dit is die maklikste om met blaar- en wortelgroente te begin.

“Dompel die stingels of steggies van hierdie groente in vars water, wat daagliks verander word, en laat dit op ʼn ligte plek staan sodat hulle wortels of nuwe blare kan uitspruit,” verduidelik hy.

Prioritiseer maaltydvoorbereiding

Maaltydvoorbereiding is in meer as een opsig voordelig, meen Ramoroka.

Om ʼn resep te maak of ʼn gereg voor te berei wat jy oor twee, drie of dalk meer maaltye kan eet, werk ewe goed, en jy kan die oorblywende kos vries vir ʼn volgende ete.

“Dit is baie meer kostedoeltreffend wanneer jy bestanddele aankoop en maaltye in grootmaat voorberei. Om ʼn aantal maaltye gelyktydig voor te berei, kan jou boonop help om op elektrisiteitskoste te bespaar,” sê hy.

Ramoroka sê ten slotte dat die voedselbedryf se bemarking van gesonde kos as ʼn duurder leefstyl verbruikers nie hoef te ontmoedig om wel gesonder te eet nie.

“Die sogenaamde organiese produkte word voorgehou as ‘vry van’ oënskynlike slegte dinge, maar dan kom dit teen ʼn aansienlike prys weens die boerderymetodes en kleiner oeste om hierdie produkte te verbou.

“Dit hoef egter nie waar te wees wanneer jy kies om ʼn gebalanseerde en eenvoudige dieet te volg wat ​​uit ʼn reeks veselryke koolhidrate, vrugte en groente en alternatiewe proteïenbronne soos boontjies, peulgewasse, eiers en pilchards bestaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Ramoroko… Dieetkundige van die ruimte-eeu. Blikkieskos se blikkies om beurtkrag mee hok te slaan. Is daar nie meer sinkplate oor nie? Waar kry mens blikkieskos verniet? Watter navorser het navorsing beskikbaar oor hoe blikkies beurtkrag kan uitkikker? Is dit die blink blikkies wat die son opvang en… hoe kry ons die blikkrag onder in die huis? Laat weet asb dringend vir Eskom van die nuwe idee ok vir Nasa vir vinnge herstelwerk aan sy blikkerige maantuig-lekplek.

Snowball ·

Hoë sodium vlakke in geblikte kos. Mense met hoë bloeddruk moet versigtig wees hiervoor. Diabete kan ook nie lustig weglê aan brood en baie koolhidrate om versadig te word nie. Vars en ongeprosseseerde kos bly die gesondste opsie, veral vir mense met dieetvoorskrifte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.