Soorte resepte:

Vier goeie redes om dié winter mikro-blaargroente te kweek

Mikro-blaargroente en -kruie is maklik en pret om tuis te kweek. (Foto: Unsplash)

Dit is veel meer as net ʼn vlietende kosneiging: Mikro-blaargroente vind toenemend ʼn kraakvars plek in talle tuiskombuise. Die sappige saailinge van ʼn verskeidenheid groente en kruie vind al hoe meer neerslag in gesinne se alledaagse diëte. Dit is boonop nie net omdat dit jou bord in ʼn prentjiemooi gourmet-meesterstuk verander nie – mikro-blaargroente het volop voedingswaarde.

Aanhangers van mikro-blaargroente besef ook dit is besonder maklik om tuis te kweek.

Met winter op hande is dit dus ʼn goeie tyd om te kyk vir nuwe maniere om gesonde kos in jou daaglikse dieet in te sluit. Hier is die belangrikste redes om mikro-blaargroente en -kruie tuis te begin verbou.

Piepklein, maar vol voedingswaarde

Mikro-blaargroente en -kruie, die saailinge van groente soos radyse, beet, broccoli, pak choi, mosterd en bronkors, of kruie soos basilie en koljander, is veel meer as net spruite. Dit word gewoonlik binne 14 dae geoes. Die mikro-blare is die heel eerste sogenaamde saadblaartjies wat verskyn en soms ook die eerste werklike blare van die plant.

Luidens ʼn navorsingsverslag wat in die Journal of Agricultural and Food Chemistry gepubliseer is, bevat mikro-blaargroente ʼn veel hoër konsentrasie voedingstowwe as wat in baie volgroeide plante aangetref word.

Dit beteken dit word ook beskou as funksionele kos wat gesondheid bevorder en help om siektes te voorkom.

Die klein grootte en kort groeitydperk is ook ʼn voordeel wanneer jy mikro-blaargroente tuis kweek. Jy het nie veel tuinspasie nodig nie en mikro-blaargroente groei uitstekend binnenshuis en in klein houers.

Opeenvolgende saaiery sal ʼn voortgesette en vars, voedingryke oes lewer.

Afhangend van die variëteit is mikro-blaargroente goeie bronne van vitamien A, B, C, E en K – asook noodsaaklike voedingstowwe soos kalsium, kalium, yster, magnesium, fosfor, sink, koper, jodium, mangaan en natrium.

Boonop smaaklik

Moenie jou mikro-blaargroente net as garnering gebruik nie – dit voeg heerlike smaak en tekstuur by geregte, veral in die winter. (Foto: Unsplash)

Mikro-blaargroente is nie net mooi om na te kyk en vol voedingswaarde nie, dit is ook uiters smaaklik en voeg wonderlike tekstuur by geregte. Dit wissel van die soet en krakerige byt van klein broccoli, tot die aardse varsheid en ryk kleur van beetsaailinge en die pikante smaak van bronkors en speseryagtige radys.

Moet dit ook nie net as versiering gebruik nie. Voeg gerus handevol mikro-blaargroente as vars bestanddele op pizza, gebakte aartappel of roereier. Voeg dit ook by slaai, poke-bakkies en smoothies.

Dit gee ook tekstuur, varsheid en smaak aan pannekoeke en toebroodjies.

Heeljaar beskikbaar

ʼn Bykomende bonus om mikro-blaargroente tuis te kweek is dat dit heeljaar lank verbou kan word. Al wat jy benodig is ʼn helderverligte vensterbank en jou mikro-blaargroente kan binne ʼn week of twee kraakvars op jou bord lê.

Omdat die plante binnenshuis gekweek word, beteken dit jy is nie seisoengebonde nie en hoef jy nie enige van jou gunstelinge tydelik te groet nie.

ʼn Goeie skeut mikro-blaargroente op ʼn ryk wintersgereg sorg vir ʼn belangrike voedingshupstoot op ʼn tyd wanneer ons maaltye dikwels swaarder, maar laer in voedingsryke groente is.

Maklik, goedkoop en pret

Mikro-blaargroente en -kruie groei goed binnenshuis en laat jou kombuis sommer lekker vrolik lyk. (Foto: Verskaf)

Selfs al dink jy (of weet jy!) dat jy nie groen vingers het nie, is dit steeds supermaklik om mikro-blaargroente te kweek omdat dit nie ʼn maandelange gepamperlang vereis nie.

Die sleutel is om goeie gehalte eetbare sade te gebruik.

Om weg te spring, oorweeg ʼn voorafbereide tuiskweekpakket wat tot vyf verskillende variëteite gewilde mikro-blaargroente en -kruie bevat. Dit bevat ook houers, harke en goeie gehalte grond.

Plaas bloot die meeste van die grond in die houer en hark dit gelyk. Strooi die sade eweredig oor die oppervlak en gebruik die oorblywende grond om die sade met ʼn dun laag te bedek.

Gebruik ʼn sproeibottel om die sade water te gee en plaas die houer in ʼn goed verligte ruimte. Hou dit weg van direkte sonlig.

Spuit jou saadjies daagliks nat en kort voor lank sal die piepklein saailinge te voorskyn begin kom.

Jy kan begin oes wanneer die eerste saadblaartjies goed gevorm is, ʼn proses wat gewoonlik naastenby sewe dae duur. Gebruik ʼn skêr om die groente, blare of kruie kort bo die grond af te sny.

As jy aanhou saai, het jy boonop altyd ʼn vars en bekostigbare voorraad vars produkte vir gebruik. Boonop lyk die plantjies vrolik en kikker enige kombuis op.

My Growing Health se groeistelle bevat enigiets van broccoli, bronkors, Chinese kool, Japanse radys en beet.

Daar is dus geen makliker manier om jou gaste te beïndruk terwyl jy terselfdertyd ʼn gesonde maaltyd bedien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Deurgesnyde 2L plastiekbottels met net water, geen grond. You Tube

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.