Bloubessieboere verwag 63%-toename in uitvoere

Bloubessies wat onder ‘n tonnel verbou word. (Foto BerriesZA)

Die bloubessiebedryf is een van die bedrywe in Suid-Afrika wat die vinnigste groei, sover dit aanplantings betref, maar ook in produksiewaarde.

Vanjaar se produksie en mark lyk weereens besonder goed. Die uitvoerskatting vir die komende seisoen is bekendgemaak en daar gaan volgens verwagting weereens rekords gebreek word.

Elzette Schutte, bestuurder van Berries South Africa wat bloubessie-, framboos- (raspberries) en swartbessieboere onder sy vaandel dra, sê dat dié bedryfsorganisasie verwag dat daar vanjaar 25 000 ton bloubessies uitgevoer gaan word, terwyl die totale produksie ongeveer 36 000 ton sal wees. Verlede jaar het die uitvoere van bloubessies met 3 500 ton tot 15 800 ton gestyg. Vir vanjaar sal daar ʼn moontlike verhoging van 9 200 ton, oftewel ‘n indrukwekkende 63% wees.

Volgens ʼn verslag wat Berries South Africa bekendgestel het, word 70% van die Suid-Afrikaanse oes uitgevoer. Die belangrikste bestemmings is die EU en Brittanje, Singapoer, Maleisië, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate. Die fokus is nou om China en Suid-Korea oop te maak, wat markgroei noemenswaardig sal laat toeneem.

13% van Suid-Afrika se bloubessies gaan na die plaaslike varsprodukte mark en die ander 17% word verwerk in sap, sapkonsentrate, suiwelprodukte, suiker- en lekkergoed, of word individueel kitsgevries (IQF).

Die laat somerreën het ʼn baie positiewe invloed op die oes en in die Noorde van die land is dit tans warm vir hierdie tyd van die jaar, wat soos verlede jaar die seisoen sal vervroeg.

Die eerste bloubessies sal teen die einde van Mei geoes word, maar die seisoen in Limpopo en Mpumalanga piek eers teen Junie, Julie. In die Wes-Kaap sal die seisoen in September, Oktober piek.

Berries South Africa is ʼn jong organisasie wat in 2017 onder ʼn nuwe naam tot stand gekom het. Hulle het voorheen as SABPA bekendgestaan wat in 2016 gestig is. “Ons het 83 produsente aan boord en 17 geaffilieerde lede. As ʼn bedryfsorganisasie is daar heelwat uitdagings waaraan ons moet aandag gee, soos arbeid, plaaslike logistieke probleme, internasionale mededinging en die deurbreking na nuwe markte. Verder hinder die huidige inperking, vlugbeperkings en die tekort aan behoueringskratte ons ook.”

Chili en Peru is ook belangrike bloubessieproduserende lande en “Peru se gemiddelde uitvoere van 150 000 ton het ʼn groot invloed op ons markte in die EU en Brittanje,” sê sy.

“Soveel as 60% van Suid-Afrika is bloubessies word in die Wes-Kaap verbou en die res in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo. Dit moet verkieslik naby hawens en lughawens wees om die verskeping van hierdie sensitiewe produk te bespoedig. Om lewensvatbaar te wees moet ʼn boer meer as vyf hektaar aanplant en van al die landboukommoditeite is bloubessies die arbeidsintensiefste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.