Identifiseer peste en plae met nuwe Corteva-app

Corteva Agriscience het Plantix se app aan boere in Afrika en die Midde-Ooste bekendgestel. (Foto: Plantix.net)

Boere in Afrika en die Midde-Ooste het nou toegang tot ʼn omvattende digitale gids wat ʼn magdom peste en plae kan identifiseer. Corteva Agriscience het ʼn nuwe mobiele app, Corteva™ FarmFundi, bekendgestel wat boere se beplanning en bestuurspraktyke aansienlik gaan vergemaklik.

Sodra ʼn verdagte siekte, swam, onkruid of insek met behulp van die app geïdentifiseer is, kan boere per e-pos of die webskakels by die kundige gewaswetenskaplikes van Corteva en plaaslike landboukundiges raad vra vir behandelingsaanbevelings.

“Navorsers skat dat slegs indringerspesies die landbousektor in Afrika $74,3 miljard per jaar kos. Dit sluit nie eens die verliese in van ongeveer $21,5 miljard (R305,62 miljard) aan gewasse wat deur insekte en ander plae veroorsaak word nie,” sê Linda van der Merwe, bemarkingshoof by Corteva Agriscience.

“Dus is ons baie opgewonde om hierdie digitale gereedskapstuk, wat nuut op die mark is, aan boere in die Midde-Ooste in Afrika te bring. Ons is in samewerking met Plantix, wat ons in staat stel om die beste nuutskeppende mobiele boerderytegnologie met die skerp insig en groot kundigheid van ons tegniese spanne saam te voeg. Dit help ons om die moontlike risiko’s vir voedselsekerheid te verminder.”

Die belangrikste aspek van die bestuur van gewasblootstellings is om die oorsaak korrek te identifiseer sodat gepaste oplossings in werking gestel kan word en duur foute wat volhoubare en veilige bestuurspraktyke bedreig, vermy kan word. Die gebruikersvriendelike platform stel boere in staat om foto’s op te laai of te skandeer, saam met ʼn kort beskrywing van simptome en gepaardgaande aantekeninge wat tydige risikobestuur en voorkoming moontlik maak. Kenners kan ook die jongste inligting oor nuwe, opkomende plae en neigings regstreeks bywerk en oordra.

“Die beste deel is dat internettoegang nodig is vir die aflaai van die app, asook latere bywerkings, maar dat ander inligting van lyn af verkry kan word,” het Van der Merwe gesê. “Dit is ʼn belangrike kenmerk vir gebruikers wat nie toegang tot ʼn mobiele verbinding van gehalte het terwyl hulle in die veld is nie.

“Om boere (en tuiniers) te ondersteun om hul gewasse te beveilig en by te dra tot voedselsekerheid was nog altyd een van die belangrikste dryfvere vir ons pogings. Ons is nou nog meer verheug dat ons ons allernuutste tegnologiese oplossing kan bied terwyl ons saamwerk met Corteva; sodoende is dit toeganklik vir ʼn groter verskeidenheid van gebruikers in nuwe streke,” sê Rob Strey, medestigter en hooftegnologiebeampte, Plantix.

Die Corteva ™ FarmFundi-app kan gratis afgelaai word vanaf die Apple® iOS- en Google Android ™-programwinkels in Engels, Swahili, Afrikaans, Frans en Arabies.

Met die toenemende vraag na gesonder voedsel van hoë gehalte, teen die agtergrond van Covid-19, voldoen die Corteva ™ FarmFundi-app ook aan Corteva se volhoubaarheidsverpligtinge en om vooruitgang vir toekomstige geslagte te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.