Listeriose: Kenners vra optrede om uitbreking te voorkom

(Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Navorsing wat in 2019 en 2020 deur ʼn span kundiges aan die Universiteit van Pretoria (UP) gedoen is ná die voorkoms van Listeria monocytogenes (die sogenaamde Listeria-bakterie) in beesvleis en beesvleisprodukte by sommige abattoirs en kleinhandelaars in Gauteng, Mpumalanga en Noordwes, kan kommerwekkende implikasies vir verbruikers inhou.

Die navorsing deur UP se Fakulteit Veeartsenykunde en die Landbounavorsingsraad se Onderstepoort-veeartsenykunde navorsinginstelling het getoon dat onder meer 4,6% van monsters van verkoelde karkasse wat by sewe abattoirs in een van die provinsies geneem is, met die Listeria-bakterie besmet is. Dit beteken dat besmette karkasse die potensiaal het om die voedselketting te betree as beesvleis en beesvleisprodukte wat in kleinhandelafsetpunte in die provinsie verkoop word.

As sodanig beveel die navorsingspan aan dat die regering, in samewerking met bedryfsvennote, streng voedselveiligheidsmaatreëls by abattoirs en verwerkingsaanlegte instel om die besmetting met die bakterie te verminder en die moontlikheid van nog ʼn listeriose-uitbreking te verminder.

(Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort/Facebook)

Die span het ook opvolgondersoeke van klam biltong, wat wyd in die land verbruik word, aanbeveel juis om die groei van die bakterie en die risiko wat dit vir verbruikers inhou, te bepaal.

Die Listeria-bakterie is ʼn patogeen wat listeriose, ʼn lewensgevaarlike siekte, kan veroorsaak. Die meeste menslike gevalle word geassosieer met die verbruik van kitskos, en die risiko van die siekte neem toe met die aantal bakteriese selle wat ingeneem word. Die patogeen is in staat om te oorleef en te vermeerder teen die verkoelde temperature waarteen voedsel gestoor word.

“Verwerkte voedsel word besmet deur kontak met toerusting, die hantering van rou produkte, of van na-verwerkingsinstellings waarin die patogeen kan oorleef ten spyte van die gereelde gebruik van ontsmettingsmiddels,” sê dr. Rebone Moerane, hoof van die UP se Departement van Produksiedierstudies.

Moerane en prof. Abiodun Adesiyun, ook verbonde aan die departement, dr. Nomakorinte Gcebe, van die Landbounavorsingsraad se Onderstepoort-veeartsenykunde navorsinginstelling, en vier nagraadse studente is die lede van die navorsingspan.

“As gevolg van potensiële besmetting tydens die slag van die dier, kan karkasse besmet raak, wat lei tot besmette vleis en vleisprodukte. Daar is aangemeld dat ʼn wye verskeidenheid voedselsoorte – insluitend bees-, vark-, pluimvee- en melkgebaseerde produkte – die patogeen huisves en listeriose by verbruikers kan veroorsaak.”

Die navorsing, wat deur Rooivleisnavorsing en -ontwikkeling Suid-Afrika gefinansier is, vloei voort uit die 2017-’18-uitbreking van listeriose in die land, wat tot 1 060 bevestigde gevalle en sowat 216 sterftes gelei het. Daar word vermoed dat verwerkte produkte – veral polonie – die hoofbron van die uitbreking was.

Navorsing gedoen op drie vlakke van beesvleisproduksie

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens Adesiyun wou hulle met hierdie navorsing poog om die voorkoms en molekulêre karakterisering van patogene serotipes (ʼn onderskeibare stam van ʼn mikro-organisme) van Listeria monocytogenes in beesvleis en beesvleisprodukte in Gauteng, Mpumalanga en Noordwes te ondersoek.

Die navorsing het ook ten doel gehad om die voorkoms en faktore wat verband hou met die patogeen in beeste, kuilvoer, voere en water op plase in die drie provinsies te bepaal; in geslagte beeste en karkasse by verwerkingsaanlegte; en die voorkoms en faktore wat verband hou met die kontaminasie van beesvleis en beesvleisprodukte by kleinhandelafsetpunte.

Navorsing is op die drie vlakke van beesvleisproduksie gedoen: Monsters van ontlasting, voere, kuilvoer en water is van beesplase geneem. Monsters is ook van beeskarkasse by abattoirs geneem en monsters van rou beesvleis en beesvleisprodukte is by kleinhandelafsetpunte ingesamel.

Sommige van die serotipes van die Listeria-bakterie wat deur die span opgespoor is, behoort aan serogroepe wat bekend is om die potensiaal te hê om menslike listeriose te veroorsaak. Vir die virulensiegene wat selektief getoets is, het die opsporingsfrekwensie van onderskeidelik 12,5% tot 50%, 21,9% tot 100% en 81,8% tot 100% in Noordwes, Mpumalanga en Gauteng gewissel.

Die navorsers het bevind dat die risiko van blootstelling van beeste aan listeriose op plase minimaal is.

Die opsporing van 4,6% van die monsters van verkoelde karkasse wat by Gautengse abattoirs geneem is, wat met Listeria monocytogenes besmet is, is egter kommerwekkend, asook die bevindings by kleinhandelafsetpunte.

“Die voorkoms van die patogeen was 6%, 8,3% en 9,3% in bees- en beesvleisprodukte wat by afsetpunte in onderskeidelik Noordwes, Mpumalanga en Gauteng geneem is, en 4,3%, 11% en 9,3% vir koue bees- en beesvleisprodukte,” verduidelik Moerane.

“Sommige van die besmette produkte was gereed-om-te-eet-produkte – insluitend polonie [6,9% – 16,7%], wat wyd verbruik word, en biltong [3,6% – 10,3%]. Dit verhoog die risiko van menslike blootstelling aan die patogeen.”

ʼn Uitdaging aan verbruikers

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die navorsers het waargeneem dat, in die meeste gevalle, die Listeria-bakterie gereageer het op penisillien, ampicillien en sulfametoksasool-trimetoprim (SXT), wat belangrike antimikrobiese middels is wat gebruik word in die behandeling van listeriose.

“Die hoë voorkoms van multi-middel-weerstandige stamme van Listeria monocytogenes kan egter nie geïgnoreer word nie, aangesien dit terapeutiese uitdagings kan inhou,” het Adesiyun gewaarsku. “Dit is as gevolg van die potensiële oordrag van weerstand in en tussen bakteriese spesies.”

Die hoë voorkoms van weerstand teen sekere antimikrobiese middels wat bykomend tot die opsporing van verskeie multi-middel-weerstandige stamme en weerstandspatrone geassesseer is, kan toegeskryf word aan die onbeheerde gebruik en verkoop van antimikrobiese middels op beesplase. Die oordrag van antimikrobiese weerstandbiedende Listeria monocytogenes aan verbruikers kan terapeutiese implikasies hê.

“Daar is ʼn dringende behoefte om navorsing uit te brei oor antimikrobiese weerstand, om boere op te voed oor die gebruik van sulke produkte, om die beskikbaarheid van oor-die-toonbank produkte te hersien, en die gebruik van antimikrobiese middels in die veebedryf te monitor,” sê Adesiyun.

“Ons hoop dat regerings en belanghebbendes in die vleisbedryf op hierdie bevindings sal reageer en streng beheer- en moniteringsmaatreëls in die toepaslike stadiums in die beesvleisproduksiestelsel sal instel,” sê Moerane.

“Dit is noodsaaklik dat ons die uitkomste van hierdie navorsing gebruik om nog ʼn potensiële uitbreking van listeriose te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pierre ·

Daar is meer virusse en bakteria as sand in die wereld, die mens het sy reg verdien om hier te woon en ons imuniteitstelsel beskerm jou teen 99.9999999% van hulle daar is altyd n kans om iets op te doen en siek te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.