Noord-Kaap op hete kole oor bek-en-klouseer

Die Noord-Kaap tree nou daadwerklik op om te verhoed dat bek-en-klouseer in dié provinsie uitbreek. (Foto: Willie Ferreira)

Ná die uitbreking van bek-en-klouseer in Noordwes en die Vrystaat, het die Noord-Kaap se departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming (DLOLOG) sy amptenare op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas en moniteer nou al die belangrike plekke, soos veilingskrale, waar diere versamel word.

Mase Manopole, LUR vir DLOLOG, het boere in dié provinsie gewaarsku om nie hul waaksaamheid te verslap nie, aangesien die bedreiging steeds ʼn werklikheid is en in ʼn ernstige lig beskou word.

“Hoewel amptenare die versamelpunte moniteer, het boere of mense wat diere of diereprodukte verhandel, steeds ʼn plig om te verseker dat die siekte nie na hul eiendom versprei word nie en dat hulle weet wat die gesondheidstatus van die diere is wat hulle koop,” sê Manopole.

Daar is ook ʼn ontstellende tendens in die provinsie waargeneem, naamlik dat diere nie permanent gebrandmerk word soos deur artikel 7 van die Wet op Diere-identifikasie, Wet 6 van 2002, vereis word nie. “Dit is ʼn saak wat ons dringend na die direktoraat vir veediefstal en ander belanghebbendes sal moet verwys,” sê sy.

“Ons het ook opgemerk dat hoewel amptenare op gewilde plekke soos veilings fokus, daar handelaars en spekulante is wat beeste privaat aankoop en eers op plase afrond voordat hulle dit op veilings, of aan slagpale of voerkrale aanbied. Dit bring mee dat amptenare diere wat in die provinsie inkom, kan miskyk.

“Ons doen ʼn beroep op boere om aan te dring op enige inligting oor die oorsprong van diere voordat hulle op die plaas aankom vir afronding,” sê sy.

Maroela Media het by Johan van der Colff, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Noord-Kaap, gaan vasstel hoe hulle voorsorg teen die dreigende krisis tref.

“Ons het ʼn sterk dryfkrag van stapel gestuur om die bek-en-klouseer uit ons provinsie te hou. Daar is ʼn aksieplan opgestel en al die rolspelers is gereed,” sê hy.

Die Noord-Kaap deel ʼn lang grens met die Vrystaat en Noordwes en Van der Colff sê hy is veral bekommerd dat die siekte met hoofroetes deur dorpe wat naby aan die grens lê, soos Kuruman en Kimberley, inkom.

Hy sê die laaste uitbreking in Noordwes is ook ʼn bron tot kommer, want daar is nie diere verskuif nie, die virus moes dus met ʼn veearts of bakkie onder die diere beland het.

“Ons kan egter nie nou padblokkades op elke hoofroete opsit nie, dit is te drasties en bowendien sal kansvatters net die kleiner paaie gebruik. Ons steun eerder op boere se samewerking en om inligting te versprei.”

RPO Noord-Kaap het ʼn 13-bladsy-handleiding met die nodige inligting oor bek-en-klouseer geskryf, wat deur WhatsApp onder boere versprei is.

Van der Colff sê ook die departement van landbou gee sy samewerking. “Ons het ook nou ʼn privaat veearts by die Dieregesondheidsforum betrek, wat meer kennis het en vinnige opsporing en behandeling verder sal bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.