NWK breek eie winsrekord

NWK se hoofkantoor. (Foto: nwk.co.za)

Sake lyk besonder rooskleurig vir die omvattende landboudienste-maatskappy NWK Beherend wat in twee opvolgende jare ʼn rekordwins getoon het. Hierdie maatskappy, wat in Lichtenburg gesetel is, met handelstakke reg oor Noordwes en verder, vier vanjaar ook sy 114de bestaansjaar.

Met ʼn toename in omset van 26,8% het die groep vanjaar ʼn wins voor belasting van R360 miljoen behaal. Die wins na belasting beloop R283 miljoen. Verlede jaar was dit R267 miljoen en dit verteenwoordig ʼn R16 miljoen (6%)-verbetering. Dit het tot gevolg gehad dat die ekwiteit met 13%, tot net meer as R1,9 miljard, gestyg het. Die netto batewaarde teen jaareinde was 1 840c per aandeel.

Volgens Heinrich Krüger, direksievoorsitter van NWK, het gunstige weersomstandighede ʼn prominente rol in die behaling van die resultate gespeel. “Produsente se groter inkomste van verlede jaar het ʼn positiewe invloed op NWK se uitstekende verdienste gehad. Die fokus op ons kernaktiwiteit – naamlik graan, algemene handel en finansiering – is beslis die roete wat ʼn gewenste resultaat lewer. Volgehoue fokus deur bestuur en personeel is noodsaaklik om goeie ondersteuning van klante te verkry en gevolglik goeie resultate te kan behaal,” sê hy.

“Oor die algemeen het al NWK se sake-eenhede uitstekend presteer. Die finansiële bydrae van die graansegment was R183 miljoen en die groei in die algemene handel se meganisasie-onderneming was merkwaardig,” sê Pieter Kleingeld, groephoof- finansiële beampte van NWK.

Hy het bygevoeg dat die jaar onder oorsig ʼn mandjie van gemengde uitdagings gebied het. Aan die graan- en oliesadeproduksiekant was opbrengste per hektaar oor die algemeen hoër as die langtermyngemiddelde, maar die grade was egter nie van ʼn hoë gehalte nie en dit het ʼn regstreekse invloed op die prys in die sak van die produsent gehad. Vir produsente was dit ook ʼn baie groot uitdaging met insetkoste op die hoogste vlak nog. Graan- en oliesadeverkoopspryse het egter ook op rekordvlakke verkeer.

Theo Rabe, uitvoerende hoof van NWK Beherend, het uitgewys dat die Epko-sonneblomparsaanleg wat teen einde verlede jaar weer 100% in NWK se besit was, gesien kan word as ʼn strategiese stap om ook ander markte vir sonneblomolie te ontgin. Aanpassings aan dié fabriek word in die vooruitsig gestel om ook sojabone te pars aangesien die produksie van sojabone in NWK se bedieningsgebied wesenlik verhoog het.

“NWK is besig om sy groeiprogram te stabiliseer en geleenthede te benut soos dit voorkom,” sê Rabe. Hy sê NWK bepaal tans sy posisie in die mark in terme van sonkrag en sake wat kan voortspruit uit internet-gebaseerde dienste. Investering in alternatiewe graanopberging, uitgebreide logistieke kapasiteit en herstel van toegangsroetes na silo’s in Noordwes geniet deurgaans aandag.

“Hulpverlening om infrastruktuur in Lichtenburg en ander dorpe te herstel, gaan ook voort. ʼn Grondpad- en teerpadherstelprojek is goed op dreef. Ander inisiatiewe wat op infrastruktuur fokus, is ook van stapel gestuur,” sê hy.

ʼn Tussentydse dividend van 31c per aandeel is reeds uitbetaal en ʼn finale dividend van 17c per aandeel is goedgekeur. Die direksie het ook R14 miljoen vir die NWK-lojaliteitsprogram vir die aankoop van aandele deur die trustees goedgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.