TLU SA: ‘Minister skraps met waarheid oor AAMP-deelname’

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die landbou- en landbouverwerkingingsmeesterplan (AAMP) het onlangs tot onenigheid oor verskeie kwessies gelei, soos byvoorbeeld die definisie van transformasie. Volgens Saai is daar ook min wat die AAMP vir boere inhou.

Verskeie rolspelers soos Agri SA en die Landbousakekamer (Agbiz) het die AAMP saam met die minister van landbou, Thoko Didiza afgeteken, maar TLU SA, Saai, die Landbouwerkgewersorganisasie (LWO) en die nasionale werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa) het intussen besluit om eerder ʼn alternatiewe landbouplan te begin skryf.

’n Redelike groot debat het ook in die media ontstaan en volgens TLU SA het daarmee saam verskeie wanpersepsies ontstaan.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê eerstens is Didiza se aanspraak, dat TLU SA ’n regverdige kans gehad het om deel te neem en sy stempel af te druk, nie die volle waarheid nie.

“TLU SA het wel insette gelewer nadat dit duidelik geword het dat dit nodig is om aspekte, soos wat alles onder transformasie val, aan te spreek om duidelikheid te kry. Die plan is egter afgeteken sonder dat enige van ons insette ooit hanteer is,” sê Van Zyl.

“Dit moet aan die begin duidelik gestel word dat daar bepaalde kundige navorsing en punte in die afgetekende plan vervat is waarmee TLU SA baie gemaklik is. Die kommentaar wat gegee word deur rolspelers wat die plan wel afgeteken het, fokus op daardie aspekte en indien dit al was wat in die plan vervat was, sou TLU SA heel moontlik ook nie ’n probleem gehad het nie.

“Die harde werklikheid is egter dat die hele plan afgeteken is en die probleem lê juis in daardie dele waaroor daar geswyg word, of waar daar steeds begrippe gebesig word wat tot op hede vir ons mislukkings veroorsaak het.”

Hy sê diegene wat die plan onderteken het, verwys nou na pogings om die landbouplan te verpolitiseer en sê dat die AAMP inklusief is en politiek nie ’n rol gespeel het in die samestelling daarvan nie.

“Wat is transformasie anders as ideologie en verpolitisering?”

TLU SA, Saai, LWO, Neasa en WRSA het aangedui dat hulle almal wil nooi om insette te gee om eerder ’n ekonomies gerigte plan daar te stel en dit dan te implementeer.

“Reg deur die land word ervaar dat alle inwoners moeg is vir die resultate van die ANC se ideologiese uitgangspunte wat sedert 1994 nog net meegehelp het dat dinge agteruitgaan. Ons kan glad nie verstaan dat hier waar ons ’n geleentheid gehad het om ekonomiese beginsels te laat vergestalt; persone steeds in stilswye toekyk hoe daar, ten spyte van goeie punte in die AAMP, weer die knie gebuig is voor die ideologiese aspekte wat ook daarin vervat is nie,” sê Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petrus Albertus ·

Sies Agri-SA en Agribiz! Waarom behoort so baie boere nog aan organisasies wat teen hulle belang ingestel is? Soos dinge nou gaan sou mens verwag TLU moes die grootste unie gewees het vir kommersiële boere.

Grond ·

Agri-SA raak alhoemeer ‘n gedienstigde naprater van dwase ANC beleid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.