Voëlgriep versprei in Wes-Kaap

Foto ter illustrasie. (Foto: Wolfgang Mennel, Unsplash.com)

Die Wes-Kaapse departement van landbou het bekendgemaak dat die aantal hoenderplase in dié provinsie wat met voëlgriep besmet is, op vier staan. Die plase is naby Worcester, Malmesbury en Hopefield geleë.

Daar is bevestig dat die H5, hoogs aansteeklike voëlgriepvirus (HPAI), op twee plase voorkom, hoewel daar steeds vir bevestiging vir die ander twee plase vanaf die laboratorium gewag word.

Ongeveer 134 000 hoenders is reeds dood aan HPAI of moes van kant gemaak word.

Die veeartsenydienste in die Wes-Kaap ondersoek tans ander vermeende gevalle.

Die stamme van die voëlgriepvirus wat onlangs in Suid-Afrika geïdentifiseer is, hou ʼn lae risiko vir menslike infeksie in, maar veeartse waarsku egter dat bioveiligheidsmaatreëls toegepas moet word, aangesien mense die virus van siek voëls op hul skoene, hande of klere aan ander voëls kan oordra.

Daar word dus aanbeveel dat alle dooie voëls met handskoene gehanteer word en die hanteerders hulleself daarna moet was.

Die Wes-Kaapse departement van landbou doen ʼn beroep op mense om op die uitkyk te wees en ongewone vrektes onder enige voëls by hul plaaslike staatsveearts aan te meld.

Lede van die publiek kan egter verseker wees dat hoendervleis en eiers tydens ʼn uitbreking steeds veilig is om te eet, solank dit deeglik gewas en gekook word.

Daar is ook onlangs ʼn geval aangemeld van ʼn uitbreking op ʼn plaas in Noordwes.

Die Namibiese landbouministerie het Maandag aangekondig dat alle invoere van pluimvee en pluimveeprodukte vanuit Suid-Afrika verbied word. Reuters het berig dat enige pluimveeprodukte wat op of ná Dinsdag 19 Maart verpak is, nie deur die Namibiese grens mag kom nie.

Enige gevalle kan by die Wes-Kaap se veeartsenykundige dienste aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.