Alternatief nodig vir bek-en-klouseer

Die verbod op die skuif van beeste moet na alle diere met gesplete hoewe uitgebrei word. Foto: Maroela Media)

Daar word nou hande in die lug gegooi oor die bek-en-klouseerkrisis wat steeds versprei ten spyte daarvan dat daar twee weke gelede ʼn nasionale verbod op die skuif van diere afgekondig is.

Volgens Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Bek-en-klouseerforum (BKF), is Suid-Afrika nou op die slegste punt in die geskiedenis wat bek-en-klouseer betref en bestaande strukture wat dit moet beveg, maak nie regtig hond haaraf nie.

Die BKF is twee jaar gelede in die Limpopo-provinsie gestig ná die vernietigende uitwerking wat dié siekte in die Molemole‑Dendron-gebied gehad het.

Onlangs is daar ook soortgelyke forums vir Gauteng, Noordwes en die Vrystaat gestig.

Van Jaarsveld het vir Maroela Media gesê hulle het destyds ʼn deurtastende plan opgestel om dié gevaarlike veesiekte onder beheer te kry en dit aan die polisie en ander rolspelers voorgelê, maar daar het nie veel van gekom nie.

“Hoewel ek niemand wil swartsmeer nie en steeds bereid is om met hulle saam te werk, is hul houding jeens die skuldige partye onaanvaarbaar. Iemand moet voor stok gekry word.

“Hulle paai ons ook om nie daadwerklik op te tree nie, maar dit raak nou ʼn krisis.

“Jy kan nie met jou hoed in jou hand voor die staat staan nie, jy moet met ʼn sweep staan en hom dan help waar jy kan en dan verantwoordbaar hou. Soms moet jy die sweep klap om almal in die regte rigting te laat trek!

“Aanvullend tot positiewe samewerking volg ons ook ʼn ander roete om bek-en-klouseer te beveg. Wat ons anders maak, is dat ons op die grond ʼn netwerk vestig en tussen die boere werk. Hulle is ook die mense wat ons befonds.”

BKF steun ook swaar op die verhoudings wat hulle oor baie jare gebou het en maak gebruik van informante in die gevaargebiede van Limpopo en het kundiges soos afgetrede polisiemanne met baie ondervinding, wat die ondersoeke doen en dit verder met die samewerkende partye en die forum se regsverteenwoordigers opneem.

“Inligting rig ons strategiese beplanning.”

Van Jaarsveld sê hy is besig om regdeur die land te reis en help die Landbouprodukte-agenteraad (APAC) om veilingskrale te oudit om toe te sien dat hul biosekerheidsmaatreëls in plek is. Oor die afgelope 10 maande het hy 171 veilingskrale afgehandel.

Tragedie speel hom af

“Ek wens die mense in die formele strukture en hoë gestoeltes wil saam met my deur die krale loop en kom kyk wat aangaan. Kom luister na veeboere se stories en frustrasies!”

Volgens APAC is daar omtrent 250 veilingskrale reg oor die land, maar hy “ontdek” heelwat veilingskrale wat nie geregistreer is nie en voortgaan om sake te doen omdat boere hulle ondersteun.

Hy sê daar is swart boere in dele van die land wat deesdae te bang is om hul diere te brandmerk, want gebrandmerkte diere word nou deur veediewe geteiken omdat die polisie ʼn gebrandmerkte dier as wettig sien en die voertuie laat gaan.”

Papierwerk beteken nie veel nie.

Daar is ook gevalle waar polisielede omgekoop word sodat diere vervoer kan word. “Daar word nie voorbeelde gemaak nie, want hulle is onaantasbaar. Beeste word nou in wildswaentjies, wat heeltemal toe is, vervoer sodat hulle nie herken kan word nie.”

Dit is reeds alombekend dat veeartse nie hul werk by die toegangsbeheerpunte kan doen nie omdat die polisie en weermag hulle nie ondersteun nie.

“Dit wat ek op die grond teëkom, is heeltemal anders as wat in die media berig word,” sê hy.

“Waarom kon Botswana blitsvinnig reageer toe daar verlede week ʼn vermoede ontstaan het dat bek-en-klouseer buite sy beheergebied uitgebreek het? Selfs tradisionele slagtings is verbied. In Suid-Afrika verhoed politieke korrektheid ons om so daadwerklik op te tree.”

Van Jaarsveld het ook ʼn probleem met die verbod op die skuif van diere wat twee weke gelede afgekondig is. “Dit help veel dat dit net op beeste van toepassing is. Daar is ʼn geval waar ʼn vervoerkontrakteur, nadat hy verbied is om beeste te vervoer, nou bokke uit die beheergebied bring.

Willem van Jaarsveld, voorsitter van die Bek-en-klouseerforum voel daar word nie genoeg gedoen om bek-en-klouseer te bekamp nie. (Foto: Sosiale media)

“Hierdie siekte kan deur enige diere met gesplete hoewe oorgedra word,” sê hy. “Die minister en haar amptenare verwys steeds – volgens internasionale protokol – na bek-en-klouseer as ʼn siekte van gesplete hoefdiere. Dit sluit alle gesplete hoefdiere in – skape, bokke, varke, beeste en wild. Ons kan leer by Botswana hoe doeltreffende optrede lyk.”

Volgens hom moet die skroewe nou stywer aangedraai word.

Hy sê daar word nou in die BKF se geledere ernstig besin of die staat, polisielede en persone wat hulle vanaf die eerste uitbraak van bek-en-klouseer in die vrye sone, aan die verbreking van die Wet op Dieregesondheid skuldig gemaak het, en regstreeks verantwoordelik is vir die eerste geval wat vanjaar in Potchefstroom uitgebreek het, nie privaat vervolg moet word nie.

“Eintlik is private vervolging ʼn jaar te laat – daar wys al lankal tien vingers na die skuldiges, maar steeds is hulle skotvry.

“Ons is besig om ʼn sirkus van ʼn saak te maak, want ons het nie die stelsels in plek om die maatreëls wat onlangs in die Staatskoerant afgekondig is, uit te voer nie,” sê hy.

Moontlike oplossing

Van Jaarsveld sê almal moet bereid wees om sekere realiteite in die oë te kyk.

“Ons moet besef die staat moet sekere werk doen, maar daar is nie geld nie. Die private sektor kan hul hand sterk maak deur die regte toerusting aan te koop sodat ʼn amptenaar dit kan kom uitteken en hul werk doen en dit weer terugbring.”

Dit is presies wat die BKF reeds doen.

“Hulle het ook nie kommunikasiemiddele nie en ons het dieselfde gedoen met tweerigtingradio’s.

“Nou die dag het die amptenare in Limpopo nie ʼn voertuig gehad om oorplaatjies van Pretoria na Vhembe te vervoer nie. Ons het toe ʼn voertuig gevat en dit vir hulle gaan haal en aflewer.

“Ek weet ons belastinggeld moes dit gedoen het, maar ons moet strategies dink en nou die ekstra myl stap,” sê hy. “Dit is in belang van ʼn baie groot bedryf wat duisende mense van lewensmiddele voorsien en Suid-Afrika se ekonomie met miljarde rand versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pannies ·

Die BKS krisis is net die regering se skuld wat nie die poltieke wil het om toepaslike regulasies af te dwing en streng toe te pas nie. Produsente organisasies sukkel al jare lank om die regulasies soos naspeurbaarheid in plek te kry, maar hul kan dit nie op hul eie doen nie.
Daar is weer dubbele standaarde, want ons lewe in verskillende werelde.
Ongelukkig is dit net die kommersieele boer wat die prys gaan betaal.

Miskruier ·

Dis rassisties om te sê sekere dele van die land is endemies vir Bek en Klou seer. Solank die regering nie saamwerk en skuldiges aankeer, is ons in n benarde situasie. My beeste staan, dubbel heining en n ander se 40 bokke kom wei hier tussen die beeste. Dis mos waansinnig!

Piet parys ·

Agv van bek en klouseer se nalatige beheer sit die land se bees boere in n krisis . Wonder wat sal die staat se mense se as hulle bek en klouseer opdoen eintlik maar net bekseer want die klou seer behoort aan die man wat eerste slaan uit frustasie om van sy frustasies ontslae te raak deur onbevoegdheid deur die staat .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.