Groot drome vir voorste cannabisplaas

Cilo Cybin pas moderne landboutegnieke toe om cannabisplante van hoogstaande gehalte te verbou. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die mediese cannabisbedryf is wêreldwyd nog in sy kinderskoene.

Volgens Carel Theron, eienaar en uitvoerende hoof van Cilo Cybin Pharmaceutical (CCP) wat ʼn binnenshuise cannabisplaas en verwerkingsaanleg net suid van Centurion opgerig het, beplan hy om die bedryf tot die maksimum te ontsluit en soveel moontlik munt daaruit te slaan.

Maroela Media het gaan kyk wat in dié gesofistikeerde fasiliteit gebeur.

CCP is in 2018 met privaat fondse gestig om ʼn wêreldklas-verbouings- en vervaardigingsfasiliteit in Samrand te bou. Hier word produkte geformuleer en geproduseer en ondersteuningsdienste, asook opleiding vir die cannabisbedryf verskaf.

 

Gabriel Theron, eienaar van Cilo Cybin wys hoe moderne tegnologie ingespan word om die fabrieksplaas seepglad te laat funksioneer. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Vandag is dit die eerste en enigste maatskappy in Suid-Afrika wat die lisensies bekom het om mediese cannabis te kweek, asook om dit verder tot ʼn finale produk te verwerk waarop hy ʼn etiket kan sit en aan die kleinhandel voorsien.

Die hindernisse vir nuwe toetreders is baie hoog, maar CCP bied nou ook derdeparty-vervaardigings- en verpakkingsdienste aan die res van die cannabisbedryf in Suid-Afrika.

Theron sê CCP is ook in die proses om grondstowwe verder te veredel om gevorderde formulasies vir mediesegraad-cannabisprodukte te doen om dit op groot skaal aan die plaaslike en wêreldwye mark te voorsien.

 

Elke kultivar word volgens sy behoeftes onder presisielandbou-omstandighede verbou. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Ek het baie cannabisplase en verwerkers in Amerika besoek en baie geleer. Toe het ek teruggekom om hierdie aanleg sonder die hulp van konsultante te bou. Dit beteken dat die geskatte waarde van dié aanleg drie keer meer is as die vervangingswaarde,” sê hy.

Hy het ook soos ʼn tipiese boerseun alternatiewe metodes gevind om onder meer ʼn kloningstelsel te bou wat ʼn fraksie van die prys is waarvoor dit op die mark beskikbaar is.

Theron voel dat dit net die begin is van wat hy eintlik wil doen. Hy het onlangs ʼn spesiale doelverkrygingsmaatskappy (SPAC) gestig om dit op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) te noteer, om beleggers vir sy volgende projek te kry, wat hy Cilo Cybin Holdings (CCH) gedoop het.

 

Gabriel Theron, eienaar van Cilo Cybin het hierdie kloningstelsel self gebou. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy sê die daggamark oor die wêreld heen is vandag sowat R7,15 biljoen ($400 miljard) groot, waarvan slegs R655 miljard ($36,6 miljard) tans wettig is. “Wetgewing op verskeie vlakke in verskeie lande is tans hangende en sodra dit deurgevoer word, sal die wettige gebruik onder volwassenes in die onmiddellike toekoms aansienlik toeneem.”

Wettiging van psigedeliese middels

Volgens Theron vererger die geestesgesondheidskrisis wêreldwyd, maar mediese proewe op psigedeliese middels toon die potensiaal om sulke toestande te behandel.

“Navorsing is tans in verskeie lande, soos Kanada, die VSA, Jamaika en Australië aan die gang vir die behandeling van post-traumatiese stresversteuring (PTSD), depressie, angs, verslawingversteurings, met behulp van psigedelika – met belowende resultate.

“CCP is vernoem na die psigedeliese molekule in towersampioene (magic mushrooms), psilosibien, en ek glo nog altyd dat psigedelika hoofstroom sal word en binne die volgende 10 jaar in ʼn gesonde bedryf sal ontwikkel.”

Hy sê CCP is in die proses om vir ʼn lisensie by die Suid-Afrikaanse gesondheidsproduktebeheerraad (SAHPRA) aansoek te doen, sodat daar met navorsing begin kan word om psigedeliese gesondheidsprodukte te ontwikkel. “Daarom sluit CCP se uitbreidingsmodel ook die beplande vervaardiging van psigedeliese produkte vir die wettige medisinale markte in, sodra die groen lig gegee word.”

Bring mediese velde bymekaar

Daarmee saam wil Theron ook deur middel van CCH die groter mediese en farmaseutiese bedryf “ontwrig” deur ʼn holistiese gesondheidstelsel vir mense te ontwikkel. Met behulp van kunsmatige intelligensie wil CCH dit nou moontlik maak om ʼn magdom data uit jou spanningsvlakke, senuweestelsel, bloeddruk, bloedsamestelling, brein- en hartfunksies met verskillende mediese toestelle, sommige wat tuis gebruik kan word, te versamel om ʼn volledige mediese profiel van ʼn persoon saam te stel.

Met dié inligting kan genetiese voorspellings gemaak word wat jou in staat kan stel om siektes waarvoor jy ʼn genetiese geneigdheid het op ʼn natuurlike manier, soos dieetaanpassings en pasmaak-aanvullings, vroegtydig te behandel.

Cannabis en psigedeliese medisyne sal ʼn belangrike rol in hierdie holistiese benadering speel.

Boere kan baat vind

Volgens Theron is daar veral in Suid-Afrika reusegeleenthede vir cannabisboere omdat die produksie daar is, maar die afset nog glad nie is wat dit kan wees nie. “CCP glo dat die wêreld gereed is om Suid-Afrikaans vervaardigde cannabisprodukte te koop,” sê Theron.

 

Plante word vermeerder deur van ‘n kloningsproses gebruik te maak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Cilo Cybin se aanvanklike openbare aanbod (IPO) het op Maandag 12 September geopen en sluit Vrydag 4 November. Die IPO beoog om ʼn minimum van R500 miljoen in te samel. Aandele in die maatskappy is teen ʼn uitreikingsprys van R1 per gewone aandeel beskikbaar.

Om aan die IPO deel te neem, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veldskoen ·

Die opskrif moes lees “Hoë drome vir voorste cannabisplaas”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.