Indië verwerp hokvrye-lêhen-agenda

Lêhenne blyk die gelukkigste te wees in lëhokke. (Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPA) se AVI-Afrika-kongres vind die week in Kempton Park plaas en buiten die uitdagings soos beurtkrag, stygende insetkoste en die hoë rentekoers waarvoor oplossings gevind moet word, kon Suresh Chitturi, president van die Internasionale Eierkommissie (IEC), op die eerste dag ʼn bemoedigende boodskap lewer.

Indië gaan ook gebuk onder die invloed van diereregte-aktivisme wat groot geld agter hulle het. Een bepaalde stryd is die druk wat op eierboere toegepas word om heeltemal van lêhokke ontslae te raak.

“Dit het alles in 2016 begin toe diereregte-aktiviste hofsake in die hoogste howe in byna al 29 state en unie-gebiede teen die eierbedryf aanhangig gemaak het,” sê Chitturi. “Hulle aanslag teen ons was georganiseer en vaartbelyn en die argumente goed geformuleer. Die geld, mense en hulpbronne wat tot hul beskikking was, was verbysterend en boonop het die media

vierkant agter hulle gestaan.”

Die saak was eenvoudig, lêhokke is sleg en moes heeltemal verban word.

“Ons het nie naastenby genoeg hulpbronne gehad nie en dit was baie moeilik om al die hofsake by te woon en om selfs behoorlik te kommunikeer en ons sake deeglik voor die howe te stel. Ons kon nie eers mooi bepaal teen wie ons veg nie. As ons wou terugveg, sou dit ʼn voltydse werk wees.

“Ons het ook besef dit gaan jare neem om hierdie saak te beveg en intussen was ons bang dat die banke nie meer eierboere sou finansier terwyl die saak aan die gang is nie. Die kans dat ons die gedingproses sou laat verongeluk, was ook groot,” sê hy.

Die departement veeteelt en suiwel het ook verkies om nie deel van hierdie geding te wees nie.

Die staatshowe het toe besluit om hierdie saak na die nasionale hooggeregshof te verwys, wat beteken het dat al die aanklagte nou in een saak saamgevoeg was.

“Die regering was egter skepties oor dié NRO’s en veral dié uit die buiteland en het hulle nie vertrou nie. Dit was die kans wat ons gekry het. Die deurbraak het gekom toe die regering sy wetenskaplikes vir hul opinie gevra het. Hulle het eendragtig bevind het dat lêhokke meer voordelig is as hoenders wat vry kon loop omdat henne veiliger en gesonder in lêhokke is. Dit is ook bevind dat dit nie winsgewend is om sonder lêhokke te boer nie.”

Die regering het dit in 2019 baie duidelik gestel – daar moet in hokke met lêhenne geboer word, anders is hulle onproduktief en die regering se prioriteit is om die bevolking te voed.

“Ons het die saak gewen. Die diereregte-groepe het egter aangehou met hul drukveldtogte, maar sodra hulle met die wetenskaplikes te doen gekry het, moes hulle die aftog blaas.”

Die regulasies vir eierboerderye is toe deur die sentrale regering vasgepen en teen einde volgende maand moet elke administratiewe provinsie daarvan in kennis gestel word en teen 1 Januarie 2029 moet elke eierplaas onder andere aan die volgende regulasies voldoen:

Die vloerspasie per lêhen mag nie minder nie as 550 cm² wees en daar moet ʼn van ses tot agt henne in een hok wees sodat daar ʼn redelike ruimte vir elke hoender is om te kan opstaan, lê, vlerke klap, omdraai en toegang tot kos en water kan kry.

“Om die tradisionele hokke te verdedig gaan nie baie slim wees nie en ons sal moet aanpas,” gee Chitturi toe.

Hy voeg by dat Indië vandag die derde grootste eierproduserende land in die wêreld is, maar steeds proteïenarm is. Daar is ook geen proteïen wat ʼn eier kan vervang nie.

Die IEC het intussen ʼn projek van stapel gestuur, Visie 365, wat ten doel het om die gebruik van eiers tot so ʼn mate te bevorder dat elke persoon een eier per dag verbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JvR ·

Met die aanhoudende wisseling van beurtkrag, word ons soos battery hoenders behandel

OW ·

Min of meer 23.5 by 23.5 cm gee 552 vierkante sentimeter per volwasse lêhen is nog steeds te klein.Die hoenders het geen lewe in sulke spasies nie.Dit is bewys dat vrylopende hoenders baie gesonder is en beter eiers lê as die in beknopte spasies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.