Met mening vir SA koffie

Daar is groot planne om Krabbefontein se koffie op ʼn wêreldvlak te bring. (Foto: Du Preez de Villiers)

Suid-Afrika is nie juis bekend vir sy koffieproduksie nie en kan nog minder roem op uitstaande smaakprofiele soos dié van Ethiopië, Brasilië en Colombië.

Die Laeveld in die Tzaneen-streek het egter ʼn soortgelyke klimaat as die woude in Suid-Amerika en Midde-Afrika en die gebied se koffiepotensiaal het lank gewag om werklik ontgin te word.

Allesbeste-boerdery is in dié gebied geleë en is bekend vir die baanbrekerswerk wat die ontslape eienaar, dr. André Ernst vir die avokadobedryf gedoen het. Sy seun Zander, direkteur van bemarking en produksie, het groot planne vir die koffiebedryf.

“Ek is ʼn groot koffieliefhebber en het al lankal gedroom om my eie koffie te verbou en die waardeketting enduit te neem tot by ʼn koffiewinkel,” sê hy.

 

Zander Ernst, direkteur van bemarking en produksie van Allesbeste-boerdery staan tussen twee rye Arabica-dwergkultivars terwyl hy vertel hoe werk koffieproduksie op sy plaas. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ruimte vir verbetering

In 2016 het hy die daad by die woord gevoeg. “Dit was egter nie so maklik nie. Jy stap nie net by ʼn plaaslike kwekery in en koop 4 000 koffieplantjies nie.” Einde ten laaste het hy 800 boompies, almal van een kultivar, in die Sabie-vallei in die hande gekry. Hy het toe besluit om die plaas Krabbefontein in Magoebaskloof te ontwikkel en ʼn koffiewinkel in ʼn ou saagmeule, reg langs die pad, in te rig.

Daar was reeds gevestigde avokadoboorde op die plaas, maar die uitvalshoeke wat te skuins was om beplant te word, het braak gelê en al wat daar gedoen is, was om onkruid te bestuur. Koffie sou hom die kans gee om eerder ekonomiese waarde daaruit te put.

“Ek het toe elke oop stukkie grond vol koffiebome geplant, 500 mm uitmekaar, wat nogal kompak is, maar dan kan jy baie bessies op ʼn klein area kry en die pluk daarvan makliker maak. Koffie is eintlik ʼn maklike gewas om te kweek, maar om die koördinasie daarna reg te kry was die uitdaging.”

 

Gesonde koffieblommetjies gereed om bessies te word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ná twee jaar is die eerste oes afgehaal, maar hy sê die finale produk was so sleg dat jy jou dit nie kan indink nie.

“ʼn Vriend het my toe aan Matt Carter voorgestel wat in daardie tyd vir TriBeCa gewerk het, wat onder meer koffie aan Woolworths verskaf.”

Carter is ʼn koffiespesialis en was al op koffieplase in verskeie lande. Hy het nog altyd gevoel dat as daar besondere koffie uit Suid-Afrika sou kom, dit uit die Tzaneen-gebied sou wees.

“Ek het vir hom ʼn handvol bone gegee en gevra wat hy dink,” sê Ernst. “Hy het toe na my teruggekom en gesê daar is potensiaal, maar dit kan nog baie verbeter. Hy het toe ʼn pad saam met my begin stap en my gehelp om die produksie en verwerking te verbeter.”

Carter het ook ʼn duidelike gehaltedoelwit gestel, “want ons wou koffie produseer wat Suid-Afrikaners graag wou drink en op trots kan wees,” sê Ernst. “Ons probeer om kommoditeitsgraadkoffie te vermy.

 

Matt Carter, ‘n koffiespesialis het Krabbefontein se produksieproses onder hande geneem. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Ons albei glo daar is ruimte in Suid-Afrika om spesialiteitskoffie te produseer en dit is waar die koffie momentum gekry het. Met sy eerste besoek het hy vir ons ʼn klomp goed uitgewys wat ons in die verwerking verkeerd doen.”

Ernst sê hy het ook baie foute gemaak met die eerste aanplanting deur die boompies in die son te plant. “Dit is eintlik ʼn woudboom en groei verkieslik onder ander bome, maar bokant myne was daar nie ʼn skaduboom van ʼn dag oud nie.

“Dit het ʼn groot invloed, want as jy die stres van die boom in die omgewing waarin hy groei kan beheer bly die koffiebessies langer aan die boom en dit vertaal in ʼn meer gekonsentreerde smaak en dit is die profiel wat jy soek.

“Gelukkig is al die bome toevallig teen suidoostelike hellings geplant en die voordeel daarvan is dat hulle dan nie daardie harde middagson vang nie. Dit het ons ʼn groot voorsprong gegee.”

 

Zander Ernst, Piet Mabotse, Matt Carter en Malehu Julia Ramano het hul kennis en ervaring saamgegooi en beplan om Krabbefontein se koffie beroemd te maak. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy het gevind dat hulle redelik veilig is teen peste wat koffiebome bedreig, omdat dit nie daar voorkom, nie maar dit beteken nie dat hulle onverantwoordelik kan wees nie. “Koffieboorders is ʼn groot bedreiging in die bedryf en wanneer dit ʼn boom takel, vrek hy baie vinnig en jy moet hom dadelik uitpluk om te verhoed dat die wurms versprei. Ons is wel versigtig om nie saagsels wat van elders af kom onder die bome te sit nie.

“Die ape is wel ʼn pyn hoewel hulle nie noodwendig skade aan die bessies aanrig nie, gaan sit hulle in die groter bome en breek dan die takke af.”

Koffieversnaperinge

Fynproewers kan reeds verskillende geure en versnitte op Krabbefontein gaan beproef. Daar is ook ʼn winkel wat die handelsmerk se koffie verkoop en ʼn eetplek wat eiesoortige koffielekkernye voorberei.

Die sjef Remé Anderson het vier maande gelede as gasvryheidsbestuurder begin werk en het vrye teuels om die wêreld van koffieversnaperinge en meer te ondersoek. Hy het reeds ʼn tee uit die skille van die koffiebessies gemaak, oftewel kaskara. Daarvan het hy ook ʼn stroop gemaak wat hy met die rooswater in tradisionele Turkse lekkers vervang het. Daar is nog baie planne, soos om koffiegegeurde jenewer te maak.

Die ou saagmeule se struktuur gaan ook binnekort opgeknap word en in ʼn groot restaurant omskep word.

“Hierdie is ʼn lekker kombinasie tussen die boerdery, Carter wat eksperimenteer en Remé wat dit deurtrek na resepte,” sê Ernst.

 

Remé Anderson is Krabbefontein se gasvryheidsbestuurder en daar kom deurlopend nuutskeppings uit sy kombuis soos hierdie kaskara-gegeurde Turkse lekkers. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Hierdie was ʼn groot ontdekking vir ons en ons glo die koffieaanbod in Suid-Afrika moet groter wees as net die beker koffie in jou hand. Ons probeer dit uitbrei en maak voorsiening vir grootmaatverkope. Binnekort sal daar ook koffie onder iemand anders se handelsmerk uitgaan, maar die plan is om redelik te fokus op ons eie handelsmerk – Krabbefontein-koffie.”

Hulle woeker ook fluks aan die boerderykant en plant tans so veel as moontlik boompies aan en plant ook die saailinge wat onder die bestaande boompies opskiet uit.

Hulle is ook besig om ʼn kommersiële kwekery te ontwikkel met verhitte ontkiemingsbakke wat binnekort aangeskaf gaan word. “Die waardeketting-ding is in ons ingedril en nou het ek ʼn hand op die saad se ontkieming tot by die koffie wat gedrink word.”

 

Allesbeste se kommersiële kwekery neem vorm aan. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ernst kan so 5 000 bome op ʼn hektaar plant en om die boerdery so gou moontlik ekonomies sin te laat maak moet hulle tussen 8 000 en 12 000 bome per jaar aanplant. Die afgelope jaar kon hulle daarin slaag om 12 000 bome in die grond te sit.

Die suurgehalte en minerale in die grond het ook ʼn invloed op die smaakprofiel en as ʼn toets het hy koffiebome in ʼn denneplantasie geplant om die suur wat die dennenaalde in die grond agterlaat te benut. Carter is skepties maar binnekort sal hulle sien of dit gaan werk.

Met een kultivar kan jy slegs ʼn enkele smaak ontgin, maar twee jaar gelede het Ernst ʼn paar ander kultivars gekry en nou kan hulle met versnitte begin eksperimenteer. Hy sê oor die volgende twee jaar sal hulle dan ʼn gevoel kry van watter kultivars sal werk.

Carter het nóg ʼn ambisieuse doelwit gestel en dit is om ʼn eg Suid-Afrikaanse kultivar te kweek. “Dit kan tien jaar tot ʼn leeftyd duur, maar dit is ʼn lekker doelwit om te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.