Pasklaar medisyne vir jou vee

V-Tech vervaardig handgemaakte medisyne in klein volumes. (Foto: Du Preez de Villiers)

Weerstandigheid teen antibiotika onder mense is wêreldwyd ʼn enorme probleem en in die veebedryf moet daar ook deurlopend nuwe antibiotika en medisyne ontwikkel word om hierdie uitdaging die hoof te bied.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie moedig monitering van antibiotiese weerstandigheid in elke land aan en V-Tech is een van die min maatskappye wat dit in Suider-Afrika doen.

V-Tech is in Midrand geleë en is 20 jaar gelede gestig om aanvanklik medisyne vir wild, eksotiese diere en troeteldiere te formuleer, maar vyf jaar later het die eienaars, dr. Johan Oosthuyse en dr. David Gerber, die nood in die veebedryf raakgesien. So het die grootste aptekersfabriek in Suider-Afrika, wat saamgestelde veemedisyne maak, tot stand gekom.

 

Die rou bestanddele wat by die fabriek inkom se hantering word alles elektronies en met skandeerders gedoen om papierwerk uit te skakel. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hierdie onderneming het begin deur ʼn program te ontwikkel om saam met veeartse vee te moniteer en dan produkte vir eiesoortige gevalle saam te stel, te toets en aan kliënte te lewer. Hulle werk regdeur die jaar saam met raadgewende veeartse wat in verdagte gevalle post mortems of letseltelling doen en monsters neem om getoets te word.

“V-Tech kan ook alternatiewe bied wanneer rakmedisyne in die apteke uit voorraad raak, of wanneer ʼn boer verskillende konsentrasies van ʼn bepaalde medisyne soek,” sê Dale Parrish, bemarkingshoof  van V-Tech.”

“Ons het meer as 1 000 finale produkte, maar is nie ʼn massavervaardiger wat aan die wyer mark lewer nie, sê sy. “Ons lewer op aanbeveling van ʼn veearts pasklaar medisyne aan ons pasiënte, wat ʼn enkele dier, of ʼn plaas, voerkraal of hoenderplaas kan wees.”

Sou dit nodig wees, help V-Tech se raadgewers boere om hierdie delikate medisyne met die regte metode in die voer te meng.

 

V-Tech se antibiotika-mengaanleg se pakhuis waar aktiewe farmaseutiese bestanddele (AFB) aangehou word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Produkte word saamgestel volgens die voorskrif wat deur die veearts gebruik moet word sodra dit nodig is,” sê Parrish.

Muhammad Hasware, bedryfshoof van V-Tech, sê die toestande in dié fabriek stem ooreen met dié van ʼn menslike bereidingsapteek en in dié hoogs steriele omgewing is daar vogtigheid-, lugvloei- en temperatuurbeheer.

In sy antibiotika-mengaanleg se pakskuur word die grootste versameling aktiewe farmaseutiese bestanddele (AFB) in die Suidelike Halfrond, wat V-Tech self invoer, geberg. Eens op ʼn tyd het die duurste bestanddeel meer as R 1 miljoen per gram gekos.

“Wanneer ander maatskappye se voorraad op raak kom klop hulle by ons aan,” sê Hasware. “Omdat ons dit self invoer, het die wêreldwye logistieke krisis wat deur Covid-19 teweeggebring is, ons nie vreeslik beïnvloed nie.”

 

Hoewel ʼn voorskrif slegs vir 30 dae vanaf reseptering geldig is, doen V-Tech voortdurende stabiliteitstoetse op hul saamgestelde medisyne om uiteindelik ʼn stabiele gehalteproduk te verseker. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Diere is baie wispelturiger as mense wanneer hulle medisyne moet inneem en daarom vervaardig V-Tech 13 verskillende doseringsformate, wat inspuitings, poeier, vloeistof, kapsules, pille, sjampoe, room, salf, oog- en oordruppels, jel en pastasmere insluit. Die jongste een is koubare medisyne.

Maroela Media het by dr. Johan Oosthuyse, uitvoerende hoof van V-Tech, gaan hoor hoe hy oor die landbou en die veemedisynebedryf se toekoms voel. “Ek is positief, want ons is in ʼn eiesoortige bedryf en ʼn maatskappy wat baie aanpasbaar is. Ons het uit die omstandighede in Suider-Afrika vir Suider-Afrika ontwikkel.

“Daar is baie uitdagings op die horison, maar Suider-Afrika gaan nog ʼn baie belangrike rol in wêreldlandbou speel en is ons is goed geposisioneer om daarby betrokke te wees.

 

Muhammad Hasware, bedryfshoof; Dale Parrish, bemarkingshoof en dr. Johan Oosthuyse, uitvoerende hoof van V-Tech. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Ons vergroot ook reeds ons voetspoor in Afrika en het al ʼn geruime tyd ʼn samewerkingsooreenkoms waar ons medisyne vir ʼn ander fasiliteit in Windhoek saamstel.

V-Tech se groot en nuwe ontwikkeling is ʼn fasiliteit wat hy in Zambië op die been gebring het, wat ʼn kwart van die grootte van die een in Midrand is. Hulle beplan om die vee- en hoenderbedryf daar te ondersteun.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.