Covid-19: Moet ek my troue herskeduleer?

huwelik-troue-liefde

Foto: Heather Mount/Unsplash.com

Op 26 Maart het ʼn nasionale tydperk van afsondering vir 21 dae begin in ʼn poging om die koronavirus (Covid-19) te bekamp. In dié stadium kan niemand met sekerheid sê of die tydperk op 16 April eindig en of pres. Cyril Ramaphosa dit gaan verleng nie.

Vir bruidspare wat beplan om in April, ná die tydperk van afsondering, of in Mei te trou, kan dié krisis hul troubeplanning aan ʼn lyntjie hou.

Moet die troue eerder uitgestel word en wanneer moet julle die besluit neem?

Maroela Media het by ʼn paar diensverskaffers in die troubedryf aangeklop vir raad oor hoe om dié situasie te benader.

Wanneer moet bruidspare die besluit neem?

“Ons het bruidspare aangemoedig om nie ʼn oorhaastige besluit te neem nie en vas te byt tot ná 16 April,” sê Mignon O’Meara van Magic Mirror Memories. “Ons verstaan egter dat dit moeilik is om in die onbekende te wandel – net soos wat dit vir elke verskaffer ook is.”

O’Meara het paartjies ook aangemoedig om in dié tyd op mekaar te fokus. Sy beveel aan dat hulle rustig oor alternatiewe opsies gesels en voorbereid is indien die afsonderingstydperk verleng word.

Engelette Kruger van Ad Lib Musikante vertel dat dit belangrik vir bruidspare is om deeglik oor die gevolge van hul besluit na te dink. Sy voeg by dat kommunikasie die sleutel tot suksesvolle hantering van die krisis is.

“Ons weet dit is ʼn bitter groot teleurstelling as so ʼn mooi dag weens omstandighede buite jul beheer geskuif moet word,” vertel Kruger. “Maar onthou dat dinge ook vir ander mense wat betrokke is, of betrokke sou wees, verander het. Praat met jul families en verskaffers.”

Kruger bevestig dat Ad Lib Musikante talle troues geskuif het en dus ook deur die afsonderingstydperk geraak word.

Een van die troukoeke wat deur Cake Brothers gemaak is (Foto: Monika Meier Photography)

“Almal is hartseer, maar almal is in dieselfde bootjie,” bemoedig sy.

Kitty-Mariè Herbst van All Things Bridal meen egter dat voorsorg beter as nasorg is en stel dus voor dat bruidspare hul troue betyds skuif.

“Ek dink dit is baie moeilik. Maar dit is beter om die besluit vroegtydig te neem sodat jy onnodige druk van jouself afhaal,” verduidelik sy.

Herbst meen op dié manier het gaste genoeg tyd om hul reis- en verblyfreëlings te verander en bruide kan rustig met elke verskaffer onderhandel oor die beste manier om die krisis te hanteer.

Sjefs Bryan en Malcolm van Cake Brothers meen dat trouvenues se beskikbaarheid in ag geneem moet word en dat bruidspare so gou moontlik ʼn nuwe datum moet bevestig indien hulle besluit om te herskeduleer.

Watter troureëlings kan intussen voortgaan?

O’Meara sê dat bruide sover moontlik met beplanning moet voortgaan. Hier is haar wenke:

  • Gesels met verskaffers oor WhatsApp of per e-pos.
  • Sorteer die fyner besonderhede uit soos ʼn tydlyn vir die troudag, watter foto’s die fotograaf moet neem en ʼn musieklys vir die platejoggie.
  • Maak ʼn lys met al jou vrae, dinge wat onduidelik is of kleinighede wat dalk simpel klink, maar waaroor jy wonder. Stuur dit aan die betrokke verskaffer.

Foto: William Iven/Pixabay

“Dit sal bruide die gemoedsrus gee om beplanning sover moontlik te finaliseer én verskaffers laat voel asof hulle steeds belangrik is,” verduidelik O’Meara.

Kruger moedig ook bruidspare aan om in dié tyd met verskaffers kontak te maak.

“Die meeste reëlings kan telefonies of per e-pos afgehandel word. Gebruik dalk nou en dan Skype om jou verskaffer se gesig te sien, want op dié manier voel ʼn mens veilig,” sê sy. Kruger pleit ook dat paartjies nie sal vergeet om die nodige deposito’s aan verskaffers te betaal nie.

Sjefs Bryan en Malcolm se raad is dat bruide sover moontlik hul inkopies aanlyn moet koop en dat hulle nou reeds alle besprekings met verskaffers moet bevestig.

“Onthou dat alle verskaffers ná die afsonderingstydperk waarskynlik onder druk sal wees om dienste binne ʼn korter tyd te lewer. Bespreek dus nou al jou datums en vrae met jou verskaffers,” verduidelik hulle.

Verskaffers gee raad

“Die afsondering is vir my net so sleg. Ek weet hoe hartseer en onseker bruidspare is, want ek voel dieselfde,” simpatiseer O’Meara. Haar raad aan paartjies is om steeds beleefd met verskaffers te wees ondanks hul eie ongelukkigheid.

“ʼn Vriendelike benadering sal verskaffers steeds soos mense laat voel en nié soos gesiglose wesens nie,” sê sy. “Dit is baie makliker om met gawe bruidspare te werk en hulle by te staan wanneer reëlings noodgedwonge moet verander.”

Kruger stel voor dat bruidspare alternatiewe opsies vir troues oorweeg. Almal ervaar tans finansiële uitdagings en daarom is intieme seremonies ʼn goeie idee.

Foto: Pixabay

“Enige huistroue kan ewe spesiaal wees. Kry steeds blomme, reël ʼn heerlike ete vir jou naaste gaste en bespreek stylvolle musikante wat jou nie ʼn appel en ‘n ei gaan kos nie,” verduidelik sy.

“Neem dan ʼn video en stuur dit vir vriende en familie wat nie teenwoordig is nie. Almal verstaan dat dinge op die oomblik anders uitdraai as wat beplan is.”

Herbst is onlangs getroud en simpatiseer dus met bruidspare wat troues moes herskeduleer. Hoewel hul troudag nie geskuif moes word nie, het sy en haar man ʼn week voor hul troue ʼn traumatiese ervaring gehad.

“Ons motor is presies ʼn week voor ons troue gekaap,” vertel sy. Hulle sou dié middag by haar skoonouers gaan eet het. Tydens die kaping was sy en haar man saam met haar ma en kleinsus in die motor.

“Hulle (die kapers) het gewere op ons gerig. My verloofde se kar, waarmee ons op wittebrood sou gaan, my verloof- en trouring en ander sentimentele juwele is in die proses gesteel,” onthou Herbst. Handsakke, beursies en selfone is ook gevat. Herbst erken dat dit  ʼn aaklige ervaring was wat sy nooit weer wil beleef nie.

“Ek het daardie dag besef hoe lelik dit kon uitdraai en het toe besluit dat geld en aardse besittings nie die plek van iemand se lewe kan vervang nie,” vertel sy. Hulle is wel ʼn week later getroud. Sy is met ʼn China Mall-ringetjie getroud en iemand het vir hulle ʼn motor geleen om op wittebrood te gaan.

(Foto: Free-Photos/Pixabay)

“Dis drie jaar later en ek dink selde aan die aaklige gebeure van daardie dag,” vertel Herbst. “Ek is so dankbaar dat die Here ons bewaar het en met ʼn fantastiese huwelik geseën het.”

Herbst se boodskap aan bruidspare is om nie in die uitdagings van die oomblik vas te kyk nie, maar om die groter prentjie in gedagte te hou. Sy meen ook dat dit beter is om ʼn middeweg te vind en só aan jul verhouding en huwelik te werk.

Het jy geweet? Magic Mirror Memories, Ad Lib Musikante, All Things Bridal en Cake Brothers is deel van die diensverskaffers wat binnekort in samewerking met Maroela Media en Villa Rosa Wedding Venue ʼn troue ter waarde van R170 000 gaan weggee. Die kompetisie sluit op 13 April. Klik hier vir meer inligting.

Weens die troukompetisie wat gedurende die afsonderingstydperk sluit, sal daar ongelukkig nie ʼn alternatiewe datum vir besigtiging van Villa Rosa Wedding Venue wees nie. ‘n Besoek aan die venue is nie ʼn vereiste om vir die kompetisie in aanmerking te kom nie. Roseley Strydom, mede-eienaar en troukoördineerder by Villa Rosa, het bevestig dat daar nog datums vir 2020 en 2021 beskikbaar is en moedig bruidspare aan om met haar kontak te maak indien hulle die venue wil besoek. 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.