Borskanker-siftingstoetse kan lewens red

Foto ter illustrasie. (Foto: verskaf)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) moedig vroue aan om vir jaarlikse gesondheidsondersoeke en siftingstoetse te gaan om kanker betyds op te spoor en te behandel.

Volgens die 2019-kankerregister loop 1 uit 27 vroue die risiko om met borskanker in hul leeftyd gediagnoseer te word. Buiten nie-melanoom-velkanker is borskanker die mees algemene kanker waarmee Suid-Afrikaanse vroue gediagnoseer word.

Lorraine Govender, die nasionale bestuurder van gesondheidsbevordering van Kansa, benadruk dat selfondersoeke ’n noodsaaklike rol in vroeë diagnose van borskanker speel.

“Kansa speel ’n aktiewe rol om vroue van borskanker-simptome te leer, asook hoe om maandeliks selfondersoeke van hul borste te doen,” het sy verduidelik.

“Navorsing wys dat ’n gereelde bors-selfondersoek ’n belangrike rol speel om borskanker te ontdek, in vergelyking met ’n borsklont wat toevallig ontdek kan word. Hoewel nie alle klonte kanker aandui nie, moet dit ondersoek word. Dit is uiters belangrik om jouself op te voed en die waarskuwingstekens en simptome te verstaan.”

Vroue kan ook vir kliniese borsondersoeke by Kansa-sorgsentrums gaan om enige onreëlmatighede op te spoor. Volgens die nasionale departement van gesondheid se beleid om borskanker te bekamp, is vroue geregtig daarop om jaarliks ’n kliniese borsondersoek by hul primêre gesondheidsorgsentrum te ontvang.

Hoewel ’n mammogram, oftewel ’n spesiale X-straal wat klonte in die bors opspoor, nie borskanker kan voorkom nie, speel dit ’n belangrike rol daarin om borskanker so vroeg moontlik op te spoor. Daar word aanbeveel dat vroue vanaf die ouderdom van 40 vir ’n jaarlikse mammogram moet gaan.

Kansa verseker dat besluitnemers bewus is van die uitdagings wat kankerpasiënte in die gesig staar om kankersiftingstoetse en -behandeling te ontvang.

Lwazi Mathivha, oorspronklik van die Oos-Kaap en nou in Gauteng, was met drievoudige negatiewe borskanker gediagnoseer.

“Kansa het ingegryp en my met toegang gehelp. Hulle het ook tydige diagnose en behandeling aanbeveel wat my feitelik en op emosionele vlak gehelp het. Hulle het broodnodige ondersteuning aangebied en is die brug tussen die gesondheidstelsel en pasiënte en hulle families.”

Kansa bied ’n verskeidenheid van ondersteuningskanale aan diegene wat met kanker gediagnoseer word.

“Die beperkings van metastatiese borskanker (MBK) beteken dat dit nie altyd moontlik vir oorwinnaars is om persoonlik ondersteuningsgroepe by te woon nie, so dis belangrik dat hulle betekenisvolle en nuttige ondersteuning aanlyn kry. Met behulp van kenners en MBK-oorwinnaars, is ons bestaande iSurvivor-e-posondersteuningsprogram aangepas met die fokus op MBK-pasiënte se behoeftes. Pasiënte wat aansluit, kry weekliks e-posse oor ’n tydperk van 16 weke om hulle te help lei en ondersteun.”

Pasiënte kan by Kansa se MBK-WhatsApp-ondersteuningsgroep aansluit wat deur ’n maatskaplike werker wat ook ’n borskankeroorwinnaar is, behartig word. Om aan te sluit, e-pos asseblief [email protected]

Boonop bied Kansa ’n hele aantal alternatiewe ondersteuningsgroep-opsies aan, asook aanlyn ondersteuningshulpmiddels en gratis teleberading in sewe tale vir pasiënte, versorgers en geliefdes. Maak ’n afspraak by 0800 22 66 22 of e-pos [email protected].

“Bly ingelig deur op ons Kansa-e-nuusbrief met gesondheidsveldtogte in te skryf en deel hierdie belangrike inligting met die vroue in jou lewe om kankerrisiko te help verlaag en vroeë opsporing van kanker moontlik te maak,” het Govender gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VannieBaai ·

Waar begin ‘n mens met borsondersoeke? By jou huisdokter? Moet mens verwys word na spesialiste? Die berigte vertel altyd wat gedoen moet word na ontdekking, maar nooit wat mens voor die tyd moet doen nie. En wat moet mense doen wat nie mediese fondse het nie? Waar begin hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.