Brandwonde vlam op in wintermaande  

(Foto: iStock)

Die winter is om die draai en dit is ook die tyd van die jaar wanneer die meeste brandwonde aangemeld word. Suid-Afrika het ’n besonder hoë koers van brandwonde, veral by kinders, met sowat 1,6 miljoen brandwondgevalle en meer as 1 300 brandwond-verwante sterftes wat jaarliks aangemeld word. Wêreldwyd sterf meer as 180 000 mense per jaar aan brandwonde.

Volgens die Mediese Navorsingsraad by Unisa doen veral kinders jonger as ses jaar in die wintermaande brandwonde op as gevolg van verwarmers, oop vure, warm water en stoofplate. Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam op sy beurt dat die koste van die behandeling van brandwonde in Suid-Afrika meer as R400 miljoen per jaar beloop, met paraffienstowe wat as een van die hoofoorsake van die hoë brandwondsyfer aangedui word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Brandwondvereniging kom 80% van alle brandwonde by kinders jonger as vyf jaar voor, met 90% van die voorvalle wat tuis, veral in die kombuis, plaasvind. Volgens dié vereniging is ’n koppie warm water (’n koppie tee of koffie kan tot 90 °C wees!) wat op ’n baba stort gelykstaande aan ’n emmer kookwater wat op ’n volwassene uitval.

Mei is Brandwondbewustheidsmaand en die enorme indirekte koste en sosio-ekonomiese impak van dié lewensbedreigende besering, insluitende verlore inkomste, langdurige sorg vir misvorming en emosionele trauma, noodsaak hernieude bewusmaking en waaksaamheid.

Oorsake en behandeling

Little child playing with electric stove in the kitchen. Baby safety in kitchen

“Brandwonde is die gevolg van weefselskade ná blootstelling aan oormatige hitte, sonskade of ander vorms van bestraling, asook sekere chemiese stowwe of kontak met aktiewe elektrisiteit. Dit kan óf ’n eenvoudige mediese geval wees, óf ’n lewensbedreigende gevaar inhou,” sê dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

Volgens hom hang die behandeling van brandwonde van die ligging van die wond asook die graad van die skade af. “Sonbrand en ligte brandwonde kan gewoonlik tuis behandel word, terwyl diep of wydverspreide brandwonde dringende mediese aandag vereis. Die simptome van brandwonde wissel afhangende van hoe diep die weefselskade is. Die simptome van dieper of ernstiger brandwonde kan tot twee dae neem om te ontwikkel,” sê hy.

Brandwonde word in drie grade verdeel:

  • Eerstegraadse brandwonde: Dit is wanneer slegs die buitenste gedeelte (epidermis) van die vel geraak is. Hierdie wonde is gewoonlik rooi en seer.
  • Tweedegraadse brandwonde: Hierdie soort wonde beïnvloed die epidermis en die tweede laag (dermis) van die vel. Dit kan swelling, rooi of wit wonde en blase veroorsaak. Die pyn kan ernstig wees en letsels laat.
  • Derdegraadse brandwonde: Hierdie wonde strek diep, tot by die vetlaag onder die vel. Die wond kan swart, bruin of wit wees en die vel kan leeragtig voorkom. Derdegraadse brandwonde veroorsaak dikwels senuweeskade wat ’n area sonder gevoel tot gevolg kan hê. Ernstige letsels kan ook vorm.

Wanneer om mediese hulp te kry

(Foto: iStock)

Volgens Lombard is dit belangrik om mediese sorg te kry as die brandwonde op die hande, voete, gesig, geslagsdele, boude, oor ’n groot gewrig soos die elmboog of knie, of ’n groot gedeelte van die lyf voorkom.

“Diep brandwonde wat leeragtig lyk, wat swart, bruin of wit is, of deur chemiese stowwe of elektrisiteit veroorsaak is, benodig altyd mediese sorg. Dit is veral belangrik om so gou moontlik mediese sorg te kry as die persoon sukkel om asem te haal of die brand die lugweg beïnvloed het.

“Met ’n mediese ondersoek word die vel nagegaan. Spesialisaandag kan nodig wees as die brandwonde op meer as 10% van die liggaam voorkom, as die wond baie diep is, of die gesig, voete of geslagsdele beskadig het.”

Terwyl die meeste klein of ligte brandwonde tuis versorg kan word en gewoonlik binne ’n paar weke ten volle herstel, sal ernstiger wonde medikasie, spesiale wondbedekking, arbeidsterapie en chirurgie benodig, sê Lombard.

“Die fokus van brandwondbehandeling is om pyn te beheer, dooie weefsel te verwyder, infeksie te voorkom, letselvorming te beperk en die funksionering van die geaffekteerde ledemate te beskerm. Afhangende van die oorsaak van die brandwond kan ’n tetanus-inspuiting ook nodig wees.”

Vyf behandelingswenke

A young family wearing bright polka dot socks warms their cold feet near an electric heater. Infrared halogen heater at home.

Om ligte brandwonde te behandel, kan die volgende stappe gevolg word:

  • Verkoel die area deur dit onder koel (nie yskoue) lopende water te hou, of deur ’n koel, nat bedekking teen die area te hou totdat die ergste pyn verbygegaan het. Moenie ys gebruik nie, dit kan die weefsel verder beskadig. Sodra die area heeltemal afgekoel het, kan ’n bevogtigende room wat aloe vera bevat, aangewend word. Dit voorkom dat die wond uitdroog en bring verligting.
  • Verwyder ringe of noupassende klere rondom die gebrande area voordat swelling intree.
  • Moenie blase laat bars of oopsteek nie. Die blaas help om die liggaam teen infeksie te beskerm. Sou die blaas oopgaan, moet die area met water skoongemaak word. ’n Antibiotiese salf kan ook aangewend word.
  • Bedek die brandwond met ’n steriele gaasbedekking. Moenie watte gebruik nie en die bedekking moet ook nie te styf wees nie.
  • Pynstillers soos parasetamol en ibuprofeen kan help met pynverligting.

Vyf voorkomingswenke

  • Dit is baie maklik vir ’n kruipende kind om hom- of haarself teen ’n stoof op te trek en aan ’n warm plaat of pot te raak. Hou daarom ’n wakende oog oor die kleingoed as jy kosmaak. Dieselfde geld vir ’n ketel, veral as die ketel se koord afhang, omdat ’n kind die ketel maklik kan omtrek.
  • Klein kinders sien elektriese drade as nuttig om hulself mee op te trek. Maak altyd seker dat dié drade teen die muur lê (agter meubels), en nooit oor die rand van ’n tafel of kas hang nie.
  • As jou kind in dieselfde kamer as ’n kaggel, kers of verwarmer is, moet hulle nooit alleen laat nie. Net soos ’n swembad gevaarlik is en ’n kind binne ’n kwessie van sekondes daarin kan beland, net so is ’n vuur, kers of verwarmer ’n enorme risiko.
  • Hou aanstekers, vuurhoutjies, gasbottels en enige vlambare vloeistof soos paraffien buite kinders se bereik. Leer hulle van ’n baie vroeë ouderdom af dat al hierdie dinge hulle kan seermaak.
  • Leer jou kinders om te stop, op die grond te val en te rol as hul klere aan die brand slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.