Brandwonde volopper weens beurtkrag

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Terwyl veral alkoholverwante beserings en motorongelukke in warmer maande hoogty vier, neem brandwondgevalle tradisioneel toe tydens die wintermaande. Beurtkrag, wat die pas na alle waarskynlikheid op die huidige hoë fases gaan markeer, veroorsaak dat al meer mense hulle op alternatiewe (en gevaarlike) maniere van lig- en hittegenerering beroep.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is dít soos petrol op ’n wegholbrand. “Hoewel die gebruik van oop vure, gas, kerse en paraffien in klein ruimtes ’n alledaagse verskynsel in informele nedersettings is om lig en hitte te genereer, lei beurtkrag tot ’n toenemende gebruik van dié potensieel gevaarlike energiebronne in álle sfere van die samelewing.

“Van kerse tot kragopwekkers hou ’n enorme gevaar in. Ofskoon brandwondgevalle dikwels deur ander mediese noodgevalle oorskadu word, is dit opvallend dat rookinsaming en brandwonde hoegenaamd nie (meer) net tot voorvalle in informele nedersettings beperk is nie. Beurtkrag speel beslis ’n rol in die toename in brandwondgevalle.”

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie eis brandwonde meer as 180 000 lewens per jaar en die behandeling van dié beserings kos die Suid-Afrikaanse ekonomie nagenoeg R500 miljoen per jaar. Die indirekte sosio-ekonomiese gevolge en koste is bykans onmeetbaar, insluitend die verlies aan inkomste, asook langdurige sorg vir liggaamlike skending en emosionele trauma.

Volgens Meiring is dit kommerwekkend dat 80% van die nagenoeg 1,6 miljoen brandwondgevalle in Suid-Afrika by kinders onder die ouderdom van vyf jaar voorkom. “Net soos ons alternatiewe planne beraam om tydens beurtkrag kos te maak of ons weg deur ’n donker huis te vind, soveel te meer moet ons kinders teen brandgevare beskerm en behoorlik inlig. Dit is nie ’n les wat tot later kan wag nie. Want die resultaat van ‘later’ is dikwels skending of selfs sterfte.”

Volgens hom behoort die skepping van brandbewustheid daarom nie net tot die jaarlikse viering van Brandwondbewustheidsmaand in Mei beperk te wees nie. “Daar rus ’n groter verantwoordelikheid as ooit op die skouers van ouers en primêre versorgers. Net soos ons kinders teen sonbrand beskerm en nie sonder toesig naby ’n swembad toelaat nie, net so moet ons sorg dat kerse, kaggels, oop vure, aanstekers, vuurhoutjies, gasbottels en paraffien buite die bereik van klein handjies is én slegs onder toesig gebruik word.

“’n Koppie warm vloeistof kan byvoorbeeld tot 90 °C wees en as dít op ’n baba of kleuter stort, is dit gelykstaande aan ’n emmer kookwater wat op ’n volwassene val! Net soos ’n mens nie skerp voorwerpe of vuurwapens laat rondlê nie, behoort verwarmers, kooktoestelle, ketels, elektriese koorde en muurproppe ook buite reikafstand te wees,” meen Meiring.

Tien moets en moenies

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Volgens Meiring is vinnige én die korrekte reaksie van kardinale belang as dit by brandwonde kom:

  • Moenie gebrande klere, wat aan die lyf vassit, self verwyder nie.
  • Moenie ys of yskoue water op ’n brandwond plaas nie. Hou die brandwond onder lopende water (kamertemperatuur) om pyn en inflammasie te verlig.
  • Moenie enige salf, room of olie op ernstige brandwonde sit nie.
  • Moenie botter of tandepasta op enige brandwond gebruik nie. Dit hou die hitte “gevange” en kan die skade vererger.
  • Moenie blase stukkend maak of laat bars nie. Dit beskerm die liggaam juis teen infeksie.
  • Moenie watte op die wond plaas nie.
  • Verwyder noupassende klere en juwele voordat swelling intree.
  • Plaas ’n steriele, droë lap of verband, of ligte gaasbedekking oor die gebrande area.
  • Pynstillers soos parasetamol en ibuprofeen kan help met pynverligting.
  • Leer jou kinders om stil te gaan staan, op die grond te val en te rol as hul klere vlamvat.

Kry dán hulp

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Hoewel baie brandwonde lig is (oppervlakkig of eerstegraads, soos matige sonbrand), rooi en seer is, en gewoonlik ten volle ná tuisbehandeling genees, moet hulp onmiddellik in die volgende gevalle ontbied word:

  • As die brandwonde op die hande, voete, gesig, boude, geslagsdele, ’n groot gedeelte van die lyf of op ’n “groot gewrig” soos die elmboog of die knie is.
  • Diep wonde wat leeragtig lyk; swart, bruin of wit is; of deur elektrisiteit of ’n chemiese stof veroorsaak is.
  • As die persoon sukkel om asem te haal of as die brand die lugweg beïnvloed het.
  • As die wond op 10% of meer van die liggaam voorkom (1% is gelykstaande aan die grootte van ’n handpalm).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.