‘Ek is so moeg daarvoor om mense te sien doodgaan’

Foto: JC Gellidon/Unsplash

Deur Tanya de Vente-Bijker

Vroeër vanjaar het ʼn dokter in Gauteng sy eie lewe geneem uit selfverwyt ná ʼn noodlottige prosedure op ’n pasiënt. Dit het skokgolwe deur die mediese gemeenskap na aan die praktyk gestuur. Sedert die eerste golf van Covid-19 Suid-Afrika getref het, het mediese werkers onverpoos en onbaatsugtig bly verpleeg en versorg. Dié dokter se kollegas glo vas die druk en trauma van die afgelope jaar het die dokter laat knak en dat in ander (normale) omstandighede die dokter die terugslag sou kon hanteer. 

“Ek is so moeg daarvoor om mense te sien doodgaan,” sê Hugo Minnaar, ʼn kritiekesorg-tegnoloog in ʼn privaat praktyk. Tydens die tweede golf van Covid-19 in Suid-Afrika het Hugo onmenslike ure gewerk, soms tot twintig uur per dag. Sy gesin het hom skaars gesien en hy moes daagliks aanskou hoe pasiënte een vir een aan die gevreesde virus sterf.

“Ek wil hê die publiek moet weet van die pasiënte wat aanhoudend voor ons doodgaan,” sê hy.

Dr. Pieter Snyman, ʼn algemene praktisyn van Pretoria, sê hy sien die impak en druk van die pandemie op sy kollegas.

ʼn Trauma-suster van ʼn hospitaal in Pretoria sê mense besef steeds nie hoe rof dit in die hospitale tydens die tweede golf was nie. “Elke aand wanneer ek huis toe gery het, moes ek eers ʼn vriendin bel om te ontlaai sodat ek nie my gevoelens op my gesin uithaal wanneer ek by my eie huis instap nie.”

Sy sê mense verstaan nie werklik nie – nie eens haar eie gesin het heeltemal ʼn begrip van wat sy en haar kollegas daagliks moes, en steeds moet deurmaak nie, meen sy.

Sy vertel hoe ambulanse tydens die tweede golf met kritieke pasiënte ure lank moes rondry op soek na ʼn hospitaal wat suurstof beskikbaar het. Hoe hulle soms nie die lewensnoodsaaklike suurstof vir ʼn pasiënt kon vind nie en dan maar die gordyntjies rondom die bed moes toetrek, wetende dat hulle onder normale omstandighede die persoon se lewe sou kon red…

Dr. Snyman sê met die eerste grendeltydperk was dit vir hul praktyk (asook ander) ʼn groot skok.

“Niemand het meer dokter toe gekom nie en dit het finansiële implikasies gehad.”

Maar, sê Snyman, toe die eerste golf Suid-Afrika met mening tref, het almal wel dokter toe gekom sonder enige vrees om die dokter aan te steek – hy het soms vyf tot ses Covid-positiewe pasiënte per dag gesien. Hy sê dit is emosioneel baie swaar om as dokter in ʼn pandemie soos dié te werk.

“Elkeen van jou pasiënte is anders. Jy kan nie voorspel wie gaan dit maak en wie nie.”

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Snyman vertel van ʼn pasiënt met wie hy nog die oggend gesels het. Hy het gedink die oom gaan dit tog maak, maar hy het onverwags die aand gesterf .

“Die onsekerheid en onvoorspelbaarheid maak jou mal.”

En deesdae moet hy boonop vyf keer per dag aan pasiënte verduidelik hoe ivermektien werk en hoekom hy dit nie nou gaan voorskryf nie.

Marzanne de Beer, ʼn trauma-suster by ʼn staatshospitaal sê vir haar was die diskriminasie van die publiek ʼn bitter pil om te sluk.

“Ons het ons voorberei op hierdie virus en dat ons met siek pasiënte gaan sukkel, maar op die ou end was dit ander goed wat ons gevang het.”

Sy vertel hoe sy (in uniform) in ʼn hysbak instap en toe ʼn lid van die publiek instap en haar in haar uniform sien, draai dié om en stap weer uit.

“Of ons sal gou ná werk in uniform winkels toe gaan, en daar waar jy in die ry staan om te betaal, loop mense letterlik draaie om jou.”

Dit was selfs vir haar en haar medeverpleegsters moeilik om afsprake by ʼn skoonheidsalon te maak.

“Ons afsprake is gekanselleer omdat ons hoë risiko is. Jy offer jou lewe op vir die publiek, en dit is die dank wat jy kry? Ek dink dit gaan baie lank neem vir ons mediese werkers om heeltemal die trauma en omstandighede te verwerk.”

Marzanne het ook baie siek geword van Covid-19 en was selfs twee maande met siekteverlof.

“Ek was totaal alleen tydens my siekte, en ek was baie siek. Ek kan nie vir jou daai alleenheid beskryf nie, dit was emosioneel baie erg.”

Jo Snyman, ʼn suster in ʼn hospitaal in Bloemfontein werk al vir 39 jaar as ʼn suster. “Ek wou graag vir nog so vyf of ses jaar werk, maar die pandemie het gemaak dat ek wens ek kan nou ophou werk. Nog nooit was ons omstandighede so moeilik, uitputtend en uitdagend nie. Maar soos die tyd aangaan, het dit bietjie beter geword.”

Vir haar het die alleenheid, saam met die onmenslike werkure, ook gevang. Sy het veral gesien hoe haar kollegas wat uit die informele nedersettings kom, baie angs en onsekerheid beleef het. Jo sê sy is dankbaar dat hulle wel baie goeie en emosionele ondersteuning van hul hospitaalbestuur ontvang het.

“Die moeilikste bly die publiek se siening oor Covid-19. Daar is steeds mense wat glo daar bestaan nie so iets soos Covid nie – hulle glo dit is ʼn ‘regering se siekte’.”

Sy stem saam met Marzanne oor die publiek. “Die arrogansie wat jy partykeer by die publiek ervaar, kry jou onder. ʼn Mens weet jy moet dit nie persoonlik opvat nie, maar jy doen dit wel.”

Sy sê wanneer jy pasiënte, dokters en kollegas aan die dood afstaan, besef jy die realiteit. “Die publiek sien nie die realiteit nie, hulle sien nie hoedat mense letterlik voor jou dood neerslaan nie. Ja, ons het ook aan die begin gedink daar bestaan nie ʼn ding soos Covid nie. Almal is maar deur die proses van ongeloof en woede.”

Jo sê sy bly staande deur haar vriende en familie, en deur baie na aan die Here te leef. “Jy besef jou genade kom maar net van Hom af. Veral as jy sien hoe vinnig mense geaffekteer word en hoe vinnig hulle hul lewe kan verloor, maak nie saak hoe oud jy is of wat jou ras is nie.”

Kweek bewustheid maan kenners

(Argieffoto: SJ Objio/Unsplash.)

In die luister na stories en observasies van kollegas het dr. Pieter Snyman besef die geestelike impak van Covid-19 op gesondheidswerkers is groter as wat mens besef. Hy het gaan nalees en ook met ander kollegas gaan gesels oor hoe mediese werkers die beste ondersteun kan word. Volgens hom is daar hulp beskikbaar vir mediese werkers wat ondersteuning nodig het, maar hulle is nie altyd bewus daarvan nie, of hulle dink hulle het dit nie nodig nie.

“Soms is dokters bang vir hul reputasie en hul praktyk se reputasie. Dit sal dalk lyk asof hulle nie druk kan hanteer nie.”

Hy hoop om saam met ander kollegas ʼn bewusmakingsveldtog te begin waarin hulle vir mediese werkers sê: Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Dit is ʼn veldtog om die stigma te verbreek dat dit nie noodwendig sleg is om iemand te gaan sien en te praat oor dit wat jy ervaar nie.

Volgens prof. Pieter Kruger, ’n kliniese sielkundige en direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie van die Noordwes-Universiteit, het navorsing so ver terug as 2010 reeds bewys dat Suid-Afrikaanse dokters reeds hoë vlakke van uitbranding beleef, en hierdie is duidelik vererger deur die Covid-19 situasie. Hy reken lang werkure, ʼn tekort aan hulpbronne, die stigma en soms ontkenning van die probleem onder dokters en verpleegpersoneel dra beslis by tot die probleem.

“Verder, in die werk met ekstreme Covid-gevalle is daar die magteloosheid en trauma om pasiënte te sien sterf voor jou, en dan ook die nagevolge om die slegte nuus met die pasiënte se familie te moet deel.”

Kruger verduidelik hierdie sameloop van faktore dra by tot dokters en verpleegpersoneel se geestesgesondheid. Hy sê verder dat volgens die South African Society of Psychiatrists en die South African Doctors Association, is Suid-Afrikaanse dokters se risiko om selfdood te pleeg 2,5 keer hoër as die algemene publiek.

Kruger sê om hierdie simptome van uitbranding en ander sielkundige versteurings te vermy, moet daar eerstens ’n mate van bewustheid en erkenning van die probleem wees.

“Dokters moet die simptome in hulself kan herken. Alhoewel hulle soms nie kognitiewe angs (negatiewe, bekommerde gedagtes) onmiddellik herken nie, is somatiese angs (fisieke simptome) soms duidelik sigbaar.”

Hy sê hierdie simptome kan slaapversteurings, ʼn verlies aan aptyt, geïrriteerdheid, kroniese moegheid, sowel as lae motivering en energie insluit.

“Dit is van die uiterste belang om herstelgedrag gedurende die dag in te bou,” maan hy. Hy gee die volgende wenke:

  • Neem gereeld kort (drie tot vyf minute) pouses gedurende die werksdag;
  • Eet gesond en kry genoeg vloeistof in;
  • Dit is ook uiters belangrik om met vriende of kollegas te gesels oor hoe jy voel – gebruik hulle as klankbord. Die vermoë om te praat oor jou frustrasies en probleme help baie om angs en ‘n lae gemoed op ’n kognitiewe vlak te prosesseer.
  • Verder help aktiwiteite soos oefening, afleiding, deelname aan stokperdjies en ander dinge waaroor mense passievol is, om te verseker dat daar ander maniere is om uitlating te gee aan die opgeboude interne frustrasies;
  • Laastens moet dokters en verpleegpersoneel besef hulle is mense soos die res van ons, wat soms moet vra vir hulp. Wanneer die simptome problematies raak, is dit van die uiterste belang dat hulle met ’n professionele persoon soos ’n sielkundige wat hulle van hulp kan wees, moet praat.

Dr. Snyman se raad aan die publiek is om nie bang te wees vir die virus nie, maar ook nie naïef op te tree nie.

“Hoe vroeër jy dit kan diagnoseer, hoe beter. Moenie wag totdat jy nie meer kan asemhaal voor jy gaan vir ’n toets nie. Covid-19 is hier om te bly en hoe meer pasiënte ons behandel, hoe meer leer ons. Speel oop kaarte met jou dokter en verklaar jou simptome voordat jy net in die praktyk instap en moontlike risiko-mediesewerkers beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Snowball ·

Vir gesondheidswerkers voel ek die jammerste! Julle verdien net respek en almal se dankbaarheid.
So jammer dat die onkundiges en onnoseles nog steeds beweer dit bestaan nie en verder bydra tot simpel teorië wat lei tot meer sterftes en meer druk op die gesondheidsektor.

Marianna ·

Mense moet hulle voorsorgend self behandel soos wat jy vir malaria dit moet doen. Ivermectin behoort voorsorgend voorgeskryf word. Maar nee, die vaccine word in jou keel afgedruk. Die vaccines is nie getoets nie. Jy is die proefkonyn. Ivermectin is al vir baie jare op die mark en veilig.

MakersMark ·

Snert. England, USA en Israel is voorbeelde waar groot persentasies van die bevolking ingeënt is en die afname in infeksietempo asook sterftes baie duidelik sigbaar is.

Thom ·

Ivermectin is vir wurms en totaal ondoeltreffend teen die virus , selfs paracetemol het meer voordele daarvoor .

JBN ·

Ivermectin is deur die Indiese regering blykbaar gratis verskaf aan sy inwoners as n voorsorgmaatreel. Ek wonder of dit gewerk het.

MakersMark ·

Die gesondheidswerkers lewe in ‘n konstante “veg of vlug” omgewing. Meeste is bitter bang hul word siek en dan die gevolge op hul geliefdes, asook hul sien die wat sterf van asemnood voor hul oë en beleef die tragedie van pasiënte wat nie vir hul geliefdes kan groet nie. Hoop die balhoriges en domastrantes en beterweteriges lees hoe werklik die impak op die gesondheidswerkers asook gemeenskap is.

Thom ·

My drie kinders wat heeltyd aan uiterste blootgestel is , is gelukkig nou aldrie geënt wat natuurlik geweldig baie help .

MakersMark ·

Dis goeie nuus ek neem aan almal is rustiger na die inentings.

annie ·

Wat kommerwekkend is, is mense wat entstof ontvang het en nou baie arrogant dink dat hul onaantasbaar is en hulself en ander blootstel aan covid-virusse wat die siekte juis kan laat toeneem. Baie besighede neem die krisis nie meer ernstig op nie en laat massas mense toe op ‘n slag met g’n of swak higiène by die ingang.

Ysgodin ·

Ek ken persoonlik twee opgeleide susters, wat nie hier in die Kaap kan werk kry nie. Hulle is fiks, gesond, en uiters bekwaam. Die rede waarom hulle nie aangestel word nie? Want hulle is ouer as 65. Hoe belaglik is dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.