Dieetkundiges gee wenke vir ʼn gesonder Desembervakansie

(Foto: Pixabay)

Dit was ʼn moeilike jaar vir die meeste mense en ʼn goeie dosis feestelikheid is aan die orde van die dag. Maar terwyl ons feestelik verkeer moet ons seker maak dat ons steeds nie ons gesondheid afskeep nie en dit ʼn topprioriteit maak.

Drie dieetkundiges wat deel is van die vereniging van dieetkundiges van Suid-Afrika gee hul beste wenke om tydens die feesseisoen gesond te bly, dinge eenvoudig te hou en geld te spaar in die proses.

Omy Naidoo, ʼn dieetkundige van KwaZulu-Natal, sê gesonde kos hoef nie duur te wees nie en dat daar baie opsies is om op ʼn begroting steeds gesond te bly. Hier is haar wenke:

  • Kies om eerder tuis kos te maak as om uit te eet – veral as jy ʼn groot gesin het. Die besparings sal noemenswaardig wees.
  • Voeg boontjies, ertjies en lensies by geregte om goeie gehalte proteïen in te sluit sonder om duur vir vleis te betaal.
  • Sluit meer groente in by elke maaltyd om seker te maak jy kry die nodige vitamien en minerale in. Jy kan ook jou eie groentetuin by die huis begin.
  • Kook groot maaltye met goedkoop bestanddele en gebruik die oorskiet oor die volgende paar dae.
  • Elke maaltyd hoef nie vleis te bevat nie. Jy kan maklik proteïen insluit deur goedkoper opsies soos peulgewasse, eiers en geblikte vis te gebruik.

 

Zitandile Mfono, ʼn dieetkundige van die Oos-Kaap sê ʼn balans is die beste manier om oor die feesseisoen gesond te bly.

  • Elke dag en elke maaltyd is nie dieselfde nie en jy moet streef daarna om deurgaans balans te handhaaf. ʼn Soetigheid na middagete kan byvoorbeeld uitgebalanseer word met baie groente tydens aandete.
  • Besluit op jou gunsteling-maaltye vir feesdae en maak ʼn inkopielys van bestanddele. Aangesien jy jou gunsteling-geregte kry sal jy nie al die ander ongesonde ekstras mis wat per ongeluk in jou waentjie beland nie.
  • Verminder suiker en versadigde vette by alle maaltye en soek na gesonder alternatiewe.
  • Maak oefening pret deur jou familie te betrek. Lang uitstappies kan ʼn teenvoeter vir die lang ure van sit en groter maaltye wees.
  • Balanseer ook jou geestestoestand deur die tyd saam met jou geliefdes en geregte vir ʼn feestafel ten volle te geniet na ʼn moeilike jaar.

 

Rosanne Lombard, dieetkundige van George, sê gesonde kos hoef nie ingewikkeld te wees nie. Probeer vanjaar om dit eenvoudig te hou.

  • Moenie jou eetplan oorkompliseer nie. Probeer om jouself nie te beperk of lekkernye te ontneem nie, want dit lei gewoonlik daartoe dat jy jouself later daaraan gaan ooreet. As jy meestal gesonder kossoorte kan eet, en porsiebeheer kan toepas, is dit aanvaarbaar om tydens die feesseisoen steeds jou gunsteling-lekkernye te eet.
  • Maak ten minste die helfte van jou bord vol met groente en slaai vir ʼn maklike manier om jou porsies te beheer.
  • Drink baie water en beperk alkohol. Dit is ʼn maklike manier om gesond te bly én geld te spaar.
  • Maak eenvoudige ontbyt soos hawermout, piesang-en-eier plaatkoekies, hoë-vesel ontbytpap en jogurt, eiers en roosterbrood, en heerlike smoothies. Vir middagete kan jy tuisgemaakte wraps of gevulde saadrolletjies met ʼn groot slaai bedien.
  • Koop minder lekkernye en peuselhappies wat hoog in energie is. Ons is geneig om baie van dié items aan te koop tydens die feesseisoen. En omdat ons dit dan het, eet ons dit. Kies eerder om niks daarvan in jou huis aan te hou nie. As jy lus raak vir so iets, gaan eerder winkel toe daarvoor en eet ʼn roomys langs die strand of ʼn sny koek saam met ʼn vriend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elsabe ·

Eet een keer per dag. Jy spaar geweldig en verloor sommer daardie ekstra’tjies om die middellyn.

Marianna ·

Deur vleis, melk, kaas en ander melkprodukte uit te sny en baie groente en vrugte te eet, verlaag jy jou bloeddruk en cholesterol. So jy spaar nie net op die vleis nie, ook jou mediese rekening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.