Dís dalk die wortel van jou gewrigspyn

KTS is die mees algemene vorm van senuwee-inklemming of -onderdrukking, kom gewoonlik tussen die ouderdom van 40 en 60 jaar voor, en is tien keer meer algemeen by vroue as mans. (Foto: iStock)

Ervaar jy voortdurend pyn, ʼn tinteling of gevoelloosheid in jou hand? Werk jy baie met ʼn rekenaarmuis of vibrerende handgereedskap, of het jy dalk jou gewrig beseer? Dan het jy moontlik karpaletonnelsindroom (KTS).

Ofskoon chirurgie en ʼn lang hersteltydperk tot op hede in baie gevalle die enigste medisyne vir dié sindroom was, hou ʼn studie in Indië nuwe hoop vir mense met KTS in. KTS is die mees algemene vorm van senuwee-inklemming of -onderdrukking, kom gewoonlik tussen die ouderdom van 40 en 60 jaar voor, en is tien keer meer algemeen by vroue as mans.

Wat is dié pyn presies?

KTS is wanneer die mediaan-senuwee, wat deur die arm tot by die duim strek, saamgedruk word waar dit deur die karpale tonnel in die pols beweeg. Wanneer dié senuwee onderdruk word, tree inflammasie of ontsteking in. Die simptome, wat hoofsaaklik in die duim en eerste twee vingers ervaar word, begin gewoonlik in die nag, maar bemoeilik later selfs dagtake namate die toestand vererger.

Persone met KTS ervaar dikwels ʼn swakheid in die hand, wat dit moeilik maak om voorwerpe vas te hou of alledaagse take uit te voer. In ernstige gevalle kan die persoon nie hitte of koue met die hand voel nie.

Oorsake en behandeling

Soms is daar nie ʼn duidelike oorsaak vir KTS nie, maar bekende oorsake sluit in:

  • trauma of ʼn besering aan die pols wat swelling veroorsaak, soos as jy dit verstuit of ʼn fraktuur opdoen;
  • ʼn ooraktiewe pituïtêre klier;
  • ʼn onderaktiewe skildklier;
  • rumatoïede artritis;
  • meganiese probleme in die gewrig;
  • herhaalde gebruik van vibrerende handgereedskap;
  • vloeistofretensie tydens swangerskap of menopouse; en
  • die ontwikkeling van ʼn sist of gewas in die karpale tonnel.

Ligter simptome kan behandel word deur die gewrig te spalk, die hand te laat rus óf oefeninge te doen, met anti-inflammatoriese middels, of deur kortikosteroïedinspuitings. Indien hierdie behandelings egter ondoeltreffend is, is chirurgie dikwels die enigste uitweg om druk op die senuwee te verminder.

Nuwe studie, nuwe hoop

Ofskoon chirurgie en ʼn lang hersteltydperk tot op hede in baie gevalle die enigste medisyne vir dié sindroom was, hou ʼn studie in Indië nuwe hoop vir mense met KTS in. (Foto: iStock)

ʼn Studie deur navorsers aan die Universiteitskollege vir Mediese Wetenskappe en Guru Teg Bahadur-hospitaal in Delhi, Indië, het bevind dat hidrodisseksie langtermynverligting vir KTS-pasiënte kan bring. Hidrodisseksie is wanneer ʼn soutoplossing ingespuit word om die senuwee van die omliggende weefsel te skei.

Die deelnemers aan die studie was almal pasiënte wat nie op konserwatiewe behandeling soos medikasie, spalke en leefstylveranderings gereageer het nie, nie ander onderliggende siektetoestande gehad het met soortgelyke simptome nie, en vir meer as 18 maande simptome ervaar het. Volgens dr. Anupama Tandon, professor aan die Universiteitskollege in Delhi, was chirurgie die meerderheid se voorland.

Die deelnemers, wat in drie groepe verdeel is, se ouderdom het gewissel van 25 tot 62 jaar, met ʼn gemiddelde ouderdom van 44 jaar. Twee keer meer vroue as mans het aan die studie deelgeneem. Twee van die groepe het hidrodisseksie ondergaan, een met net ʼn soutoplossing en die ander met ʼn soutoplossing én kortikosteroïede. Die derde groep het slegs ʼn kortikosteroïedinspuiting ontvang. Die prosedure het slegs 10 tot 15 minute geneem en die deelnemers het nie geweet watter behandeling hulle ontvang nie.

Die resultate bied heelwat hoop vir mense wat met dié pyn worstel en nie kans sien om onder die mes te gaan nie. Die navorsers het die deelnemers 4, 12 en 24 weke ná die behandeling opgevolg.

“Die meerderheid studies wat voorheen met steroïede gedoen is, het goeie doeltreffendheid ná 4 weke en in sommige gevalle tot 12 weke gerapporteer, hoewel langtermynopvolging in hierdie studies ontbreek. In die huidige studie was die doeltreffendheid (van slegs die kortikosteroïedinspuiting) goed op 4 weke, met ongeveer 85% van die pasiënte wat ʼn aansienlike verbetering getoon het. Die uitwerking het egter mettertyd verdwyn,” het Tandon aan Medical News Today gesê.

“Die groepe wat hidrodisseksie ondergaan het, se simptome was steeds aansienlik beter ná 24 weke, wat toon dat dié eenvoudige en bekostigbare prosedure beslis sy sout werd is. Geen ingewikkelde toerusting word benodig nie en die behandeling kan maklik bemeester word.

“Vanuit ʼn pasiënt se perspektief, is daar minimale ongemak, geen hospitaalopname nie, én die vermoë om binne ʼn uur of wat na normale aktiwiteite terug te keer. Dit kan beslis die noodsaaklikheid vir chirurgie vertraag, indien nie geheel en al uitskakel nie,” het hy gesê.

Voorgestelde oefen wat KTS kan help voorkom. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.