Epilepsie: Stigma strem siekes steeds

(Foto: iStock)

Met Nasionale Epilepsieweek wat vanaf 8 Februarie in Suid-Afrika gevier word, val die kollig opnuut op een van die oudste en algemeenste neurologiese siektes wat mense van alle ouderdomme raak.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ly meer as 50 miljoen mense wêreldwyd aan dié siekte waarvan die vroegste opgetekende rekords tot 4 000 v.C. nagespoor kan word. Volgens die WGO word na raming vyf miljoen mense elke jaar met epilepsie gediagnoseer.

In lande met ’n hoë inkomste word bykans 49 per 100 000 mense elke jaar met epilepsie gediagnoseer, terwyl dié syfer in lae- en middelinkomstelande tot 139 per 100 000 kan wees. Sowat 30% van epilepsielyers is kinders.

Hoewel ongeveer 70% van mense met epilepsie sonder toevalle kan leef as dit behoorlik gediagnoseer en behandel word, het tot 75% van mense in groot dele van die wêreld nie toegang tot behoorlike mediese sorg nie. Boonop verhoog die risiko vir voortydige dood drievoudig by epilepsielyers.

Dié gebrek aan diagnose en behandeling, asook openbare stigma en waninligting, lei gevolglik tot onnodige probleme en uitdagings, en kenners meen dat die stigma en sosiale uitwerking daarvan vir baie epilepsielyers veel erger as die siekte self is.

Wat is epilepsie presies?

(Foto: iStock)

Epilepsie word deur onvoorspelbare toevalle gekenmerk en kan ook ander gesondheidsprobleme tot gevolg hê. Epilepsie word as ’n spektrumtoestand geklassifiseer, wat beteken dat daar verskillende soorte is, waarvan die voorkoms en beheer van persoon tot persoon verskil.

Volgens dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park, is epilepsie ’n chroniese siekte wat gediagnoseer word wanneer twee of meer onuitgelokte toevalle of een onuitgelokte toeval met ’n hoë waarskynlikheid van ’n tweede episode by ’n individu voorkom, wat nie deur ’n bekende of omkeerbare mediese probleem soos alkoholonttrekking of baie lae bloedsuiker veroorsaak is nie.

“Die toevalle kan verband hou met ’n vorige breinbesering en ’n familiegeskiedenis van epilepsie is in sommige gevalle teenwoordig. In tot 70% van gevalle is die oorsprong glad nie bekend nie. Sommige epilepsielyers het meer as een soort toeval en simptome van ander neurologiese probleme kan ook teenwoordig wees.

“In baie gevalle het sekere groepe epilepsielyers soortgelyke neurologiese toetsuitslae, gemeenskaplike mediese agtergronde en ’n geskiedenis van familiesiektes.

“In sulke gevalle kan die toestand dan as ’n spesifieke epilepsiesindroom geklassifiseer word,” sê Lombard.

Hoewel die simptome van ’n toeval tot sekere dele van die lyf beperk mag wees, vind die elektriese versteuring wat die episodes veroorsaak in die brein plaas. Waar in die brein dié versteuring plaasvind, hoe dit deur die brein versprei en hoe lank dit voortduur, sal die uiteindelike aanbieding bepaal.

“Verskillende soorte toevalle kan beskryf word. Die oorsprong daarvan in die brein, of die persoon bewustheid gedurende die toeval behou en of daar enige geassosieerde bewegings is, help ons om die toevalle te klassifiseer en die beste behandeling te kies. Die belangrikste klassifikasie is tussen algemene en fokale toevalle, en in die geval van laasgenoemde of bewussyn normaal of ingeperk is. Algemene en fokale toevalle kan verder beskryf word op grond van die teenwoordigheid van sekere motoriese en nie-motoriese simptome.”

Diagnose en behandeling

(Foto: iStock)

Hoewel die diagnose en behandeling van epilepsie vir sommige pasiënte aanvanklik traumaties en oorweldigend mag voel, is die meeste algemene praktisyns goed toegerus om epilepsie te behandel óf die nodige verwysings na epilepsiespesialiste te doen.

“Afgesien van die kliniese geskiedenis en beskrywing op grond van die genoemde simptome, is sekere bloedtoetse en ’n EEG (’n spesiale toets wat breingolwe monitor) en soms ’n MRB (’n spesiale skandering wat na die stuktuur van die brein en in sekere gevalle die funksionering daarvan kyk) ook deel van die diagnostiese proses.

“Soms het epilepsie ’n genetiese oorsprong, terwyl daar in ander gevalle ’n abnormale breinstruktuur waargeneem kan word. Metaboliese en immuunversteurings kan ook epilepsie tot gevolg hê. Daar is ook waargeneem dat sekere ernstige infeksies epilepsie kan veroorsaak,” sê hy.

Gelukkig kan die meeste vorms van epilepsie suksesvol behandel word. Die Wêreldepilepsieliga stel die sogenaamde “geen toeval, geen newe-effekte”-beginsel as mikpunt. Met teenepileptiese medikasies as die grondslag van behandeling kan ander benaderings chirurgie, neurostimulasie en leefstylaanpassings insluit.

“Indien dié siekte vroegtydig en behoorlik gediagnoseer en behandel word, sal dit nie die epilepsielyer se lewensgehalte nadelig beïnvloed nie,” sê Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

Ek is 59 en word sedert my 13de jaar vir epilepsie behandel. Weens n motorongeluk het ek nou temporale lob-epilepsie, wat myns insiens een van die moeilikstes is: jy is sensitief vir flitsende en skerp ligte, harde geraas, sterk reuke, samedromming van mense.

In die staatsdiens (Dept Telekommunikasie) is ek botweg bevordering geweier, aangesien dit departementele beleid was dat n persoon met epilepsie en n hartprobleem (ja, dit ook nog) nie bevoeg is om die hoof van n afdeling te wees; ek was wel bevorder tot op C2/C3-vlak.
Tydens my diensplig was daar n hele paar epileptici in ons troep.

Wat my pla van die 21ste eeu, is dat n persoon wat Vigs het, of HIV-positief is met empatie en liefde behandel word, maar ons epileptici behandel word asof ons die uitvinder van Covid is.

Epilepsie is nie iets om oor skaam te wees nie. Kry genoeg rus, eet gesond, en as jy voel dinge raak erg, verskoon jouself en soek `n stil plekkie totdat jy “reg” voel, al mor die famile en vriende.

Margaret ·

Ek dink meeste dokters dra nie genoeg kennis oor epilepsie nie. Daar word ook nie besef dat epilepsie traumaties is en post traumatiese stres veroorsaak nie. Dit sal goed wees as kennis meer uitgebrei word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.