Fokus op manne: Gee jou gesondheid woema

Spinasie (Foto: iStock)

Die kruidenierswinkel en kombuis is nou nie juis die meerderheid mans se voorkeurkuierplekke nie. Waar ʼn vuurtjie brand en die glase klingel, dáár voel ons tuis, besig om ʼn braaibroodjie te bou of ʼn biefstuk perfek na elke gas se voorkeur te verbruin.

Mansgesondheidsmaand wat in Junie gevier word is die ideale geleentheid om ʼn slag agter die stuur van die inkopiewaentjie in te skuif, want ons het tien dinge uitgesnuffel wat jou algehele gesondheid nuwe woema sal gee.

  1. Spinasie

Dit het nie net vir Popeye gewerk nie, navorsing bevestig dié bultende strokiesprentspiere in verskeie studies. Spinasie is ryk aan folaat (of foliensuur), ʼn bewese bloedvloeiversterker wat ʼn kritieke rol in manlike seksuele funksie speel. Lae foliensuurvlakke in die bloed hou regstreeks met erektiele disfunksie verband. Spinasie is laag in vet en ʼn uitstekende bron van kalsium, magnesium, yster, vitamien A, B6 en C, en niasien. Dit verbeter visie en voorkom hartsiektes en haarverlies, dit stimuleer bloedvloei en verhoog jou testosteroonvlakke. Boonop is dit ʼn kampioenvegter teen kanker en die anti-inflammatoriese bestanddele kan artritispyn en jig vir ʼn ses slaan. Sluit sommer hope groen groentes by jou dieet in!

  1. Koffie

Koffie is een van die gewildste drankies ter wêreld, en met goeie rede. Navorsing toon dat koffie energievlakke kan verbeter, help met fokus, en ryk is aan antioksidante. Vir mans beteken ʼn koppie koffie veel meer as om die slaapnewels af te skud. Sommige studies dui daarop dat mans wat twee tot drie koppies koffie per dag drink ʼn laer risiko het om erektiele disfunksie te ontwikkel. Matigheid is egter die maatstaf. Te veel kafeïen kan angs, slaapontwrigting, hoofpyn en hartkloppings veroorsaak, wat ʼn negatiewe uitwerking op jou algehele welstand kan hê en met slaapkamersake kan inmeng. Eet sonder skuldgevoelens ʼn stukkie donkersjokolade saam met jou koffie.

Koffie (Foto: iStock)

  1. Appels

Die gesondheidsvoordele van dié vrug is alombekend. Die antioksidante in appels beskerm jou selle teen skade wat kan lei tot hartsiektes en beroerte, terwyl die brein beskerm word teen neuro-degeneratiewe siektes soos Alzheimersiekte en Parkinson se siekte. Die flavonoïede in appels help om die selle in die pankreas gesond te hou en verminder die risiko vir tipe-2-diabetes. Het jy egter geweet dat appels ook voordelig is vir prostaatgesondheid? Hoewel navorsing hieroor nog beperk is, het studies getoon dat veral die veselryke appelskille ursoliensuur bevat wat prostaatkankerselle “uithonger” en die groei daarvan hokslaan.

Appels (Foto: iStock)

  1. Avokado’s

Dit is onder meer ryk aan vitamien E (een van 20 vitamiene en minerale in avokado’s), wat spermgehalte verbeter. Een mediumgrootte (150 g) avokado verskaf meer as 20% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid vitamien E. Die sink in avokado’s speel ʼn rol in spermgehalte, testosteroonproduksie en vrugbaarheid, terwyl die mono-onversadigde vette slegte cholesterolvlakke verlaag, bloeddruk beheer en gevolglik die risiko vir beroerte en hartsiektes verminder.

Avokadopere (Foto: iStock)

  1. Wortels

ʼn Dieet wat ryk is aan karotenoïede (ʼn belangrike bestanddeel in wortels) speel ʼn bewese rol om die risiko vir kanker te verminder. Dit sluit in prostaat-, kolon- en maagkanker. Die vitamien A help nie net om jou sig te verbeter nie, maar is eweneens belangrik vir groei, ontwikkeling en immuunfunksie. Wortels hou jou gewig en cholesterol in toom, en is belangrik vir bloeddrukbeheer, bloedstolling en beengesondheid. Studies het ook bevind dat die karotenoïede in wortels (asook in rooi soetrissies, patats en pampoen) spermtelling verhoog en jou swemmers se beweeglikheid verbeter.

Wortels (Foto: iStock)

  1. Tamaties

Tamaties bied verskeie potensiële voordele wat met manlike seksuele gesondheid, vrugbaarheid en prostaatgesondheid verband hou. Die likopeen in tamaties, ʼn rooi gepigmenteerde antioksidant, asook vitamien C en D, word verbind met ʼn verhoogde spermkonsentrasie en ʼn verminderde risiko vir prostaatkanker en hartsiektes. Een studie onder onvrugbare mans het op sy beurt getoon dat tamatiesap spermgesondheid en -beweeglikheid in die hand werk. Tamaties herstel die skade wat deur rook veroorsaak is, verbeter beengesondheid en die antioksidante in tamaties beveg infeksie en verminder inflammasie.

Tamaties (Foto: iStock)

  1. Salm en skulpvis

Salm is ryk aan omega-3-vetsure, wat help om inflammasie te verminder, bloeddruk te verlaag en die risiko van veral hartsiektes by mans te verminder. Die proteïene in salm help die liggaam om ná ʼn besering te genees, bevorder beengesondheid en handhaaf spiermassa. Salm is ʼn uitstekende bron van veral B-vitamiene soos vitamien B12, B6, niasien, riboflavien, pantoteensuur, tiamien en foliensuur. Dit help met energieproduksie, bevorder breinfunksie en verminder die risiko vir kanker, diabetes en vetsug. Boonop is dit goed vir jou oë én vel. Skulpvis is weer propvol sink wat krities belangrik is vir die hart, spiere en voortplanting. Lae sinkvlakke word verbind met swak spermgehalte en manlike onvrugbaarheid.

Salm (Foto: iStock)

  1. Neute

ʼn Hand vol neute (eintlik twee hande vol of ongeveer 60 g per dag) kan wondere vir jou slaapkamersake doen, het studies getoon. Volgens navorsers verhoog neute nie net seksdrang nie, maar verbeter ook spermgehalte, wat vrugbaarheid verhoog. In albei gevalle word vermoed dat die gesonde vette en hoë antioksidantvlakke in neute verskeie voordele ontsluit. Neute soos amandels en okkerneute is propvol vitamien E en gesonde vette. Sonneblomsaad bevat benewens vitamien E ook fosfor, magnesium en vitamien B6. Vitamien E is belangrik vir die regulering en instandhouding van ons immuunstelsel. Pistasieneute, het ʼn ander studie bevind, verbeter erektiele funksie.

‘n Verskeidenheid van neute. (Foto: iStock)

  1. Soja

Die kos wat die beste beskerming teen prostaatkanker bied, blyk soja te wees. Dit is die bevinding van ʼn studie wat in 40 lande onderneem is. Tofu en sojamelk is heerlike maniere om meer soja in te neem. In Oosterse lande eet mense tot 90 keer meer soja as in ander lande, en prostaatkanker is baie minder algemeen in dié lande. Benewens ʼn hoë proteïeninhoud is sojabone ryk aan versadigde vette, vesel, antioksidante en omega-3-vetsure, alles noodsaaklike voedingstowwe wat deur die liggaam benodig word.

Soja (Foto: iStock)

  1. Bloubessies

Bloubessies bevat meer vesel, vitamiene en minerale as enige ander vrug op die winkelrak. Die belangrikste voedingstof is antioksidante wat vrye radikale beveg. Vrye radikale, wat toeneem soos jy ouer word, beweeg deur die liggaam en beskadig selle, bevorder siektes en veroorsaak voortydige veroudering. Bloubessies het al die bestanddele om vrye radikale ʼn uitklophou te gee. Dieselfde antioksidante wat siektes beveg, help ook om die verbindings tussen selle in jou brein en die senuweestelsel gesond te hou, en verseker duideliker, vinniger denke en die beste geheue moontlik. Boonop is bevind dat bloubessies impotensie help voorkom.

Bloubessies (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.