Foto’s: Treffende fotosessie wil bewustheid kweek oor borskanker

Tania Swart het in November verlede jaar ‘n dubbele mastektomie ondergaan nadat sy met borskanker gediagnoseer is. (Foto: Albert Bredenhann)

Toe Tania Swart (50) onlangs voor die bekende fotograaf Albert Bredenhann se lens inskuif vir ʼn fotosessie slegs ʼn paar maande nadat sy ʼn dubbele mastektomie ondergaan het, was daar net een gedagte wat deur haar kop gemaal het: Sy wil bewusmaking oor borskanker kweek.

Swart, wat in Oktober verlede jaar met graad twee‑borskanker gediagnoseer is, het in November haar borste laat verwyder en het daarna chemoterapie ontvang. Sy het gevolglik al haar hare, van haar kroontjie tot haar toontjie, ook verloor.

Hoewel sy kwesbaar lyk op die wit-en-swart foto’s wat Bredenhann op Facebook geplaas het, straal Swart van positiwiteit en sê haar voorkoms was reg van die begin af die minste van haar bekommernisse.

“My voorkoms was die laaste ding waaroor ek getob het nadat ek siek geword het en behandeling moes ontvang. Oorlewing was, en is steeds, my eerste prioriteit.”

Dit is met dié positiewe ingesteldheid wat sy besluit het om bewustheid oor borskanker en die belangrikheid van gereelde ondersoeke met ʼn fotosessie te kweek.

“Ek was 49 jaar oud toe ek met borskanker gediagnoseer is. In Februarie 2020 het ek vir ʼn roetine-mammogram gegaan en alles was skoon. ʼn Jaar later het ek ʼn knop in my bors gevoel en is ek met graad twee‑borskanker gediagnoseer. Dinge kan baie vinnig verander,” vertel Swart.

“Ek het vir twee weke nadat ek die knop in my bors gevoel het daarmee geloop sonder om iets daaraan te doen. Toe ek uiteindelik by dr. Herman Fourie in Pretoria uitkom, het hy ʼn sonar en pynlose biopsie gedoen. Hy het my in die oë gekyk en gesê hy hou nie van wat hy sien nie – toe het ek al instinktief geweet ek het borskanker.”

Sy benadruk dat sy juis jonger vroue oor borskanker wil bewus maak. “Vroue in hulle twintigs en dertigs leef onder ʼn wanindruk dat dit slegs toeval is wanneer hulle op so ʼn jong ouderdom met borskanker gediagnoseer word. Wat hulle egter nie weet nie, is dat dit baie meer algemeen is as wat hulle dink en dat die kanker ook baie vinniger versprei en meer aggressief is wanneer jy jonger is.”

Hoewel sy ʼn paar familielede aan borskanker afgestaan het, is dit ook nie waar dat jy slegs oor borskanker bekommerd hoef te wees as iemand in jou familie borskanker gehad het nie.

Tania Swart. (Foto: Albert Bredenhann)

“Daarom is dit uiters noodsaaklik dat jonger vroue ook gereeld hulle borste moet laat ondersoek en vergeet van die vooropgestelde idee dat dit slegs ouer vroue is wat borskanker kan kry. Kanker wag nie vir ʼn uitnodiging nie en daar is nie simptome nie, maar jy kan moontlik daarvan wegstap as dit vroeg genoeg gevind word,” sê sy.

“My grootste wens met die fotosessie was net om bewustheid te skep. Ek wil nie weer lees van ʼn jong vrou wat jong kinders agterlaat omdat sy nie geweet het dat borskanker aan haar deur ook kan kom klop nie.”

Sy wou ook met dié foto’s die klem daarop lê dat ʼn vrou meer is as net haar voorkoms, sê sy. “Dis nie ʼn skande om jou hare of jou borste te verloor nie. Jou identiteit lê nie in jou voorkoms nie.”

Bredenhann, wat die afgelope 13 jaar ʼn fotograaf is wat talle bekendes voor sy lens gehad het, sê dié fotosessie was spesiaal en die pragfoto’s versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media.

“Dit was ʼn rollercoaster van emosies. Ons moes baie trane sluk en oogdruppels ingooi vir die rooi oë, maar ons het ook baie gelag,” sê hy.

Intussen beywer Swart haar ook om ʼn netwerk van radioloë reg oor die land saam te stel wat bereid is om borsondersoeke teen afbetalingsopsies aan jonger vroue te bied aangesien die meeste mediese fondse nie vir mammogramme betaal indien die pasiënt jonger as 40 is nie.

Om met Swart in verbinding te tree, stuur ʼn e-pos na [email protected].

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patch ·

Wat ‘n inspirasie! Tania se woorde “Dis nie ʼn skande om jou hare of jou borste te verloor nie. Jou identiteit lê nie in jou voorkoms nie.” is so waar. ONS IDENTITEIT Lê NIE IN ONS VOORKOMS NIE!!!!
Sterkte Tania vir die pad wat nog vir jou voorloop. Ek salueer jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.