Hoe verklaar ons skielike gelaatsverlamming?

Angelina Jolie is een van ‘n paar bekendes wat self al gepraat het oor haar stryd met Bell-paralise. (Foto: Facebook)

Deur Mariechen Barkhuizen

Al ooit gehoor dat die ouer garde iemand waarsku om nie in ʼn trek te sit of nie te slaap met ʼn oop venster reg oorkant hulle nie? Daar is geglo die koue kan jou gesig laat skeeftrek. Kondisies soos hierdie is waargeneem en daar was nie ʼn verklaring vir die skielike verlamming nie – behalwe miskien ʼn koue trek.

Waarteen hier gewaarsku word, is die kondisie Bell-paralise, oftewel gesigsverlamming, gelaatsverlamming, verlamming van Bell of Bell’s Palsy. Die kondisie is vernoem na Sir Charles Bell (1774 – 1842), ʼn Skotse chirurg, neuroloog en anatomis. Hy was die eerste persoon wat die funksie van die sewende gesigsenuwee beskryf en die kondisie omskryf het.

Wat is Bell’s Palsy?

Bell’s Palsy is ʼn skielike gelaatsverlamming wat spiervertrekking of totale spierverlies aan die een kant van die gesig insluit. Die verlamming tas die sewende kraniale senuwee aan, wat die gesigspiere van die ooglede, wange en lippe beheer. Die verlamming ontstaan skielik, dikwels oornag, en veral by mense tussen 16 en 60 jaar oud. Die verlamming tree in as gevolg van die ontsteking, swelling, kompressie of disfunksie van die sewende gesigsenuwee, wat vanaf die brein, deur ʼn opening in die skedel, inligting stuur na die sensoriese organe (oë, ore, neus en tong).

Hierdie verlamming is baie traumaties vir pasiënte. Dit moet as ʼn mediese noodgeval beskou word, omdat die simptome baie ooreenstem met dié van ernstige kondisies, soos ʼn beroerte of ʼn breingewas. Die risiko vir die ontstaan van Bell’s Palsy neem toe indien die persoon swanger is, veral gedurende die derde trimester, of in die eerste week na geboorte gegee is. ʼn Persoon wat aan diabetes, hoë bloeddruk, vetsug, ʼn longinfeksie (verkoue of griep) ly, of ʼn familiegeskiedenis van die kondisie het, is ook risikogevalle hiervoor.

Simptome

ʼn Persoon ondervind gewoonlik erge hoofpyne, wat dan aanvanklik gediagnoseer word as migraine en met ibuprofeen, ʼn nie-steroïede anti-inflammatoriese middel vir die verligting van pyn en koors, behandel word. ʼn Algemene gevoel van ongesteldheid word ondervind en die persoon raak ook bewus van pyn agter en onder die oor aan die aangetaste kant. Ander pasiënte ondervind weer geen van hierdie eerste gewaarwordings nie. In sommige gevalle vind algehele of volledige verlamming van die een kant van die gesig plaas, terwyl daar in ander gevalle net gedeeltelike verlamming plaasvind en daar dus net een of twee takke van die gesigsenuwee geaffekteer word.

Afwesigheid van horisontale voorkopplooie aan die aangetaste kant, die oog wat groter as die ander kant vertoon en nie toegekry kan word nie, trane wat uitloop, die mondhoek wat ʼn afsakking toon en uit fatsoen trek, speeksel wat uit die mond loop en die besef dat die persoon net aan die onaangetaste kant van die gesig kan glimlag, is simptome van die kondisie. ʼn Persoon met Bell’s Palsy kan ook probleme ondervind om sekere woorde uit te spreek, verlies van smaak en sensitiwiteit vir klanke ondervind, moeilik eet en drink, spiertrekkings in die gesig ervaar en ook voortdurende hoofpyne ondervind.

Oorsake

Sylvester Stallone, bekend vir sy rol in “Rocky”, is veral bekend vir sy onduidelike spraak en sy skewe glimlag, wat albei gevolge van Bell’s Palsy is. (Argieffoto: Robyn Beck / AFP)

Bell’s Palsy is ʼn idiopatiese kondisie, met ander woorde dit het geen spesifieke oorsaak nie of die oorsprong is onbekend. Dit word hoofsaaklik by wyse van uitsluiting gediagnoseer. Verskeie ander toestande kan die verlamming van Bell’s Palsy naboots, byvoorbeeld ʼn HIV-infeksie, veelvuldige sklerose, Guillain-Barré-sindroom (die immuunstelsel val die senuwees aan), Ramsay-Hunt-sindroom (gordelroos wat die gesigsenuwee verlam en doofheid veroorsaak), diabetes mellitus en otitis media (middeloorontsteking).

Breinbloeding of ʼn breinbesering, koue (ʼn “trek” op die gesig) of ʼn virusinfeksie kan die kondisie veroorsaak. Die meeste gevalle van Bell’s Palsy word gekoppel aan die volgende virusse en bakterieë: herpes simplex (koorsblare), HIV, sarkoïdose (veroorsaak orgaanontsteking), herpes zoster (wat waterpokkies en gordelroos veroorsaak), Duitse masels, pampoentjies, griepvirus, Epstein-Barr-virus (veroorsaak die sg. soensiekte), hand-, voet- en mondsiekte en Lyme se siekte.

Selfs baie spanning, onlangse siekte, fisiese trauma, gebrek aan slaap en ʼn outo-immuunsiekte kan Bell’s Palsy teweegbring. Sommige persone kan selfs ʼn aangebore vatbaarheid vir Bell’s Palsy hê, terwyl die simptome van Bell’s Palsy ook binne een tot twee weke na ʼn verkoue, oog- of oorinfeksie kan ontstaan.

Gevolge

Ontsteking in die gesigsenuwee veroorsaak vergroting van die senuwee waar die senuwee die skedel deur ʼn opening verlaat. Iskemie (plaaslike bloedloosheid) kom voor wanneer die senuwee in sy beenagtige kanaal swel, wat dan bloedtoevoer na die senuwee blokkeer. Die pasiënt verloor beheer oor die spiere aan die aangetaste kant van die gesig en die bogemelde simptome ontstaan. Die skade is meestal onomkeerbaar.

Gedeeltelike of algehele blindheid kan intree omdat die oog aan die aangetaste kant nie kan toemaak nie. Dit veroorsaak uitermate droogheid in die oog en gevolglik word die beskermende, deursigtige lagie (die kornea) gekrap en beskadig. Onreëlmatige teruggroei van senuweevesels en kruisbedrading van senuwee-impulse kan ongewenste, onwillekeurige sametrekking van sekere spiere in die gesig veroorsaak wanneer die persoon poog om ander spiere te beweeg. Dit veroorsaak byvoorbeeld dat die persoon glimlag en die oog aan die aangetaste kant toemaak.

In rare gevalle (minder as 1%) kan beide kante van die gesig geaffekteer word. Bell’s Palsy-aanvalle kan beslis herhaal of weer opvlam, aangesien die virusse wat die kondisie kan veroorsaak, dormant in die liggaam bly. Die simptome van Bell’s Palsy veroorsaak ongerief en verleentheid vir die pasiënt. Permanente of langdurige verlamming kan sielkundige afwykings by die pasiënt veroorsaak, byvoorbeeld angs, depressie en ʼn lae selfbeeld. Kanker kom ook beduidend hoër voor onder pasiënte met Bell’s Palsy. Daar is veral ʼn risiko vir mondkanker en vir kanker gedurende die opvolgperiode van 5 jaar na diagnose.

Behandeling

Die eerste veertien dae van behandeling van hierdie kondisie bepaal wat die uitkoms van die spesifieke geval gaan wees. Sommige gevalle genees egter sonder enige behandeling. Daar is verskeie maniere om Bell’s Palsy te behandel. Daar is egter geen spesifieke, feillose behandeling nie.

Pyn in die plek waar die senuwee uit die skedel ontspring, agter die hoek van die onderkaak onder die oor, kan met pynpille behandel word. Aanvanklik word steroïede (kortisoon) en hoë dosisse Vitamien B voorgeskryf. Kortisoonmedikasie word beskou as die belangrikste behandeling vir Bell’s Palsy. Antivirale of antibakteriese medikasie kan ook voorgeskryf word.

Drukverligtende (dekompressie) chirurgie kan gedoen word, mits dit binne veertien dae na die simptome ontstaan het, gedoen word. Dit kan die langtermyn gevolge van die kondisie verminder. Botoks-inspuitings kan ook van nut wees om gevestigde onwillekeurige sametrekkings van gesigspiere en asimmetriese bewegings te behandel.

Die verswakte gesigspiere kan ook gemasseer word en elektriese stimulering kan toegedien word. Mimiekterapie kan deur ʼn fisioterapeut toegepas word. Dit is ʼn vorm van fisioterapie waar mimiektegnieke met gewone fisioterapiebeginsels gekombineer word. Dit moet verkieslik binne ses weke na die verskyning van die simptome toegepas word.

Bevogtende oogdruppels kan vir die oog voorgeskryf word om uitdroging van die kornea te voorkom en ʼn oogklap kan gedra word, veral saans. Kunsmatige trane kan ook gebruik word. Saans, net voor slaap, kan ʼn dik salf in die oog gebruik word om vogverlies in die nag teen te werk. Die oog kan ook gedurende die nag toegeplak word. ʼn Warm, klam handdoek oor die gesig kan ook pynverligtend werk. ʼn Strooitjie kan van groot nut wees om vloeistowwe te drink.

ʼn Fisioterapeut kan ook gebruik maak van elastiese, terapeutiese kinesiologie-pleisters om op die aangetaste kant van die gesig te plak. Oorvleuelende stroke hegbare pleisters word op dié deel aangebring om pyn en beweging te verminder en herstel aan te help. Studies het bewys dat die heel beste resultate behaal word wanneer behandeling binne 72 uur na die ontstaan van die simptome ʼn aanvang neem. Dit sal die herstelproses versnel en komplikasies beperk.

Indien die persoon se voorkoms neerslagtigheid veroorsaak, moet hy aangemoedig word om met ʼn getroue vriend, ʼn berader, terapeut of dokter te gesels. Die persoon kan ook van sy gunsteling-ontspanningstegnieke of stresverminderende strategieë gebruik maak. Omdat die gesigsverlamming en die veranderinge wat dit meebring stres veroorsaak, moet die persoon so veel moontlik rus kry, genoeg slaap en konsentreer daarop om gesonde, heilsame voedsel te nuttig.

Statistieke

Studies toon dat 11 tot 40 gevalle per 100 000 jaarliks wêreldwyd voorkom. Dit is die mees algemene oorsaak van eensydige gesigsverlamming, wat na raming tussen 60% en 70% van alle eensydige gesigsverlammingsgevalle verteenwoordig.

Studies het getoon dat pasiënte met migraine ʼn verhoogde risiko het om Bell’s Palsy op te doen. Volgens ʼn studie (2002 tot 2013) het 262 uit 44 902 pasiënte met migraine Bell’s Palsy ondervind, teenoor 903 uit 179 753 gevalle sonder migraine. Waar pasiënte met migraine die risiko van ʼn beroerte loop, kan die komplekse oorsake en verband tussen bloedvaat-iskemie (gebrekkige bloedvloei) moontlik ʼn verband tussen migraine en Bell’s Palsy tot gevolg hê. Nog ʼn verduideliking vir die verhoogde risiko van ʼn verband tussen die twee, is die sielkundige impak van migraines. Sielkundige versteurings soos depressie, angstigheid, bipolêre gemoedsversteuring, obsessiewe-kompulsiewe versteuring, aandag-afleibaarheid en hiperaktiwiteit kom toenemend voor by pasiënte met migraine en hierdie manifestasies mag ook ʼn bydraende oorsaak en risikofaktor vir Bell’s Palsy wees.

Die verband tussen Bell’s Palsy en Covid-19, synde ʼn virale infeksie, het reeds baie aandag geniet. In 2022 is vasgestel dat 46 persone Bell’s Palsy ontwikkel het voor of na hul Covid-19 opgedoen het. Studies het getoon dat Covid-19-infeksies lei tot verskeie neurologiese simptome. Dit is nie onomwonde bewys dat die entstowwe teen Covid-19 Bell’s Palsy-simptome veroorsaak nie, dog 4 uit 43 252 gevalle wat die Pfizer-entstowwe ontvang het en 3 uit 30 350 gevalle wat die Moderna-entstowwe ontvang het, het Bell’s Palsy ontwikkel.

Bell’s Palsy is nie aansteeklik nie, maar is ʼn kondisie wat enige persoon kan tref. Bekende persone wat daaraan gely het, is byvoorbeeld Angelina Jolie, Sir Andrew Lloyd Webber, Pierce Brosnan, George Clooney en Sylvester Stallone. Laasgenoemde veral, is bekend vir sy sleeptong-spraak en skewe glimlag as gevolg van Bell’s Palsy. Daar word selfs gespekuleer dat Mona Lisa se beroemde glimlag deur Bell’s Palsy veroorsaak is. Sommige persone spekuleer selfs dat sy swanger was in die vier jaar wat Leonardo da Vinci haar geskilder het en dat die kanse daarom drie keer groter was dat sy wel Bell’s Palsy gehad het.

Prognose/ herstel

Herstel vind spontaan na ʼn week plaas. By 75% van die gevalle kom herstel volledig oor ʼn tydperk van weke voor. By ander duur die herstelproses langer en hou die persoon ʼn swakheid van een of meer gesigspiere oor, wat die gelaatstrekke aan die aangetaste kant van die gesig skeef laat trek. Sommige persone behou die simptome van Bell’s Palsy vir die res van hul lewe. By 85% van die gevalle kom algehele herstel van die gesigsenuwee voor. Die hersteltydperk sal afhang van die erns van die skade aan die senuwee. Hoewel Bell’s Palsy gewoonlik ʼn tydelike kondisie is, is baie geduld nodig tydens die wagproses waarin die senuwees en spiere in die gesig weer moet begin werk.

Daar is baie siektes en kondisies waaraan mense kan ly waaroor ons moontlik net so onkundig is as die ouer garde. Al wat dit van ons vra, is ʼn bietjie moeite om onsself beter in te lig en empatie met die lyers. Dit kan met enigeen van ons gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

electricmango ·

Ek self was n slagoffer van BP, die dokter het dadelik my dieet verander en dit het n wesenlike verskil gemaak. Meer eiers en rooivleis, beslis gehelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.