Joga saam met honde sonder huise

Downward-facing-adopt-a-dog (Foto: Rima Geffen Photography)

Die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha in Kaapstad bied binnekort weer ʼn jogageleentheid, Downward-facing-adopt-a-dog, aan wat mense toelaat om joga te doen saam met honde wat nie huise het nie.

Die jogaklas word aangebied deur die plaaslike joga-instrukteur Lee-Ann Elliott onder die bome in De Waal-park.

“Hier sal jy die geleentheid kry om ʼn uur lange jogaklas te geniet terwyl jy terselfdertyd ʼn verskeidenheid hawelose honde wat wag vir aanneming kan ontmoet. Wees gereed om ʼn lek van ʼn hond af te kry, wanneer jy in die ‘downward dog’-posisie strek,” het Mdzananda-dierekliniek, ʼn niewinsgewende dierehospitaal, in ’n verklaring gesê.

Elliott het met die idee vir dié unieke geleentheid vorendag gekom nadat sy ʼn Facebook-plasing van Mdzananda-dierekliniek gelees het waar hulle by mense pleit om honde aan te neem omdat hulle nie meer plek het nie.

Downward-facing-adopt-a-dog (Foto: Rima Geffen Photography)

“Ek het na my hond, Salacia, gekyk en gedink: ‘Ons kan ʼn verskil maak.’ Ek het ʼn vriend wat by Mdzananda-dierekliniek werk, gebel en ons het die eerste geleentheid van dié soort begin reël. Saterdag 26 Oktober sal dit reeds die vierde keer wees dat ons die geleentheid aanbied,” sê Elliott.

Kort ná die eerste Downward-facing-adopt-a-dog-geleentheid, het Salacia van bosluiskoors gevrek.

“Die geleentheid is ter herdenking aan haar, asook ʼn geldinsameling en ʼn plek van hoop om meer honde die kans te bied om ʼn huis te kry,” het Elliott gesê.

Downward-facing-adopt-a-dog (Foto: Rima Geffen Photography)

“Ons organisasie is hoofsaaklik ʼn niewinsgewende dierehospitaal, maar ons het ook ʼn klein diereskuiling vir honde en katte. Om ʼn huis vir die diere te vind, is baie moeilik, veral omdat mense dikwels te bang is om in Khayelitsha te kom.

“Geleenthede soos dié laat ons toe om diere na mense te neem, alles terwyl die mense ʼn jogasessie geniet,” het Marcelle du Plessis, kommunikasiebestuurder van Mdzananda-dierekliniek, gesê.

Vir meer inligting oor dié geleentheid, besoek Mdzananda-dierekliniek se webwerf hier of hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.